18.5.07

TYD DAT DIE AHI SY NAAM VERANDER

Sal die AHI asseblief sy naam so gou moontlik verander deur die “Afrikaans” uit die naam te haal en dit met iets soos “gemeng” of “ANC-dienswillige” te vervang. Want dit is lank nie meer ’n instituut vir Afrikaner-sakemanne nie en dit gaan baie duidelik in die toekoms al hoe meer ’n instelling word om die ANC-regering se anti-wit en anti-Afrikaner beleidsrigtings van AA (“affirmative action”) en BEE (“black economic empowerment“) te bevorder en te implementeer.

Deur voort te gaan met die “Afrikaans” in sy naam, skep die AHI die totaal valse beeld dat die Afrikaner daarmee gediend is en dit as sy beskore lot aanvaar dat die rassistiese ANC so blatant teen Afrikaners diskrimineer.

Deur voort te gaan om “Afrikaans” in sy naam te behou, verdoesel die AHI die feit dat hy lankal nie meer die belange van Afrikaners op die hart dra nie, maar al hoe meer omsien na die belange van bruines en swartes. Dis ’n valse vaandel waaronder die AHI vaar.

Die AHI is in 1942 gestig deur Afrikaner-sakemanne met die uitsluitlike doel om groter deelname deur die Afrikaner in die land se sake- en ekonomiese wêreld te bevorder. Dit was ‘n sakewêreld wat sedert die Anglo-Boereoorlog op alle terreine deur Engelse oorheers is. In sy oorspronklike stigting het die woord “Afrikaanse” uitsluitlik betrekking gehad op lede van die volksgroep wat as Afrikaners beskou was. Dit het glad nie ‘n inklusiewe element van anderskleuriges bevat nie - selfs nie eens van Afrikaanssprekende bruinmense wat toentertyd as Kleurlinge bekend was nie.

Dit was binne hierdie eksklusiewe behangsel dat die AHI groot mylpale bereik het met ‘n magdom Afrikaanse Sakekamers dwarsdeur die land en ‘n toenemende rol vir die Afrikaner-sakeman in die land se sakelewe. Maar toe kom 1994.

Dit was met ‘n mate van verbasing dat ek kort na die ANC-regering se oorname gesien het dat die eertydse minister van grondsake in FW de Klerk se kabinet, Jacob de Villiers, as hoof van die AHI aangestel is. Eintlik net omdat ek gedink het hy is meer van ‘n boer as ‘n sakeman.

As hoof van die departement grondsake se skakelkomponent in daardie tyd en dus eintlik ook as sy skakelman, het ek Jacob leer ken as ‘n ordentlike en aangename mens wie se opmerklike naïwiteit oor die politiek en die oorgawedrama wat hom in daardie tyd uitgespeel het, eerder aan daardie ordentlikheid as iets anders toegeskryf kon word.

Maar nog groter was my verbasing enkele jare later toe ek sien dat hy besig was om die AHI te omvorm van ‘n Afrikaner-instelling na een wat hom toenemend rig op anderskleuriges en veral swartes - tot so ‘n mate dat hy hom geroem het op die AHI se eerste swart president in die persoon van Matthews Phosa.

Maar kort duskant skok was my reaksie toe ek so ‘n jaar of twee gelede die Pretoriase telefoongids raadpleeg vir die nommer van die plaaslike Afrikaanse sakekamer en die telefoon word beantwoord deur mense wat net Engels praat en in ‘n opvallende swart aksent daarby! Maar hulle bevestig dit is die kantoor van die “Sakekamer”.

Omstandighede het my verhinder om toentertyd hierdie kwessie êrens op te haal - veral aangesien ek toe al gevind het dat Beeld nie my briewe oor enige saak plaas wat gesien kan word as krities van hul eie benadering nie.

Maar toe kom Sake-Rapport van 13 Mei met ‘n uitgebreide artikel oor prof. Stef Coetzee wat van 1 Oktober oorvat by Jacob as uitvoerende direkteur van die AHI. En in die onderhoud stel hy verskeie standpunte. Ek haal net enkeles aan, met onmiddellike reaksie van my kant ter wille van bondigheid.

“..dis tyd dat Afrikaanssprekende mense weer opgewonde raak oor die geleenthede wat die land bied..” TH: Wat jy waar kry, prof? Sien en hoor jy nie hoe Afrikaanssprekendes -- sowel wit as bruin -- elke dag toenemend ly onder beleidsrigtings soos AA en BEE nie? Het jy al gehoor en gelees hoe diep mismoedig mense is oor misdaad en korrupsie en wanbestuur en verval van geriewe en dienste?

“dit is juis die inklusiwiteit van die AHI wat my opgewonde maak….onlangs het 450 swart sakemanne van Soweto by ons aangesluit…” TH: En hulle praat seker almal net Afrikaans en sing De la Rey, De la Rey op hul vergaderings?

“Die tye vra dat ons die wanbalanse van die verlede moet regstel…” TH: Die ANC-regering is besig om alle vermeende wanbalanse met mening reg te stel - in so ‘n mate dat nuwe wanbalanse ontstaan en wittes, veral Afrikaners, besig is om die ‘nuwe benadeeldes’ te word. Hoekom wil of moet die AHI die ANC se werk vir hom doen? En wat sê die AHI van groot maatskappye soos brandstofverspreiders met Engen aan die voorpunt, kettingwinkels soos Woolworths en Pick&Pay en selfs blykbaar restaurant- en koffiekroeg-ondernemings wat nie net Afrikaans uit hul besighede weer nie, maar nie meer sakevoorreg-geleenthede (franchises) aan wittes - en in besonder Afrikaners - toestaan nie? Ek het nie ‘n woord oor hierdie wanbalanse van die kant van die AHI gehoor nie.

“Dit is ‘n wêreldwye tendens dat sakeleiers al meer ‘n rol speel in besluitneming en die beïnvloeding daarvan..” TH: Almiskie in die beskaafde wêreld, maar beslis en gewis nie in Afrika nie, nie in Mbeki se Suid-Afrika nie waar alle wittes - Afrikaans en Engels - stelselmatig hul ondernemings en hul myne en hul plase aan swartes MOET oordra, of hulle wil of nie. Gewis ook nie in Zimbabwe wie se voorbeeld die ANC besig is om vinnig na te volg nie.

Ek kan nog ’n ruk so aangaan, maar ek dink dit is nodig om dit duidelik te maak dat ek nie vir die instelling wat homself nog die AHI noem, kan of wil voorskryf wat hy moet doen en hoe hy dit moet doen nie. As hierdie instelling se huidige bestuur en lede glo dit is hulle roeping om die dinge hierbo uitgewys, te doen en uit te voer, as hulle dink dit is hulle dure plig om die ANC se werk en beleid te doen en uit te voer, is dit seker hul goeie reg.

Maar ek is ’n Afrikaner en terwyl ek nie kan aanvoer dat ek namens ALLE Afrikaners praat nie, het ek in verskeie gesprekke gevind dat ander Afrikaners met my saamstem dat die AHI asseblief moet ophou om hierdie dinge te doen terwyl hulle voorgee dat hulle nog ’n Afrikaanse, ja selfs ’n Afrikaner-instansie, is.

Uit hul gestelde doelwitte om al hoe meer inklusief - eintlik al hoe meer swart - te word, is dit duidelik dat hulle self begin wegskram van hul “Afrikaanse” en “Afrikaner” verlede en inslag.

Hoekom dan voortgaan om die instelling die AHI te noem? Verander sy naam. Noem hom net die Handelsinstituut, verkieslik die Trade Institute om meer aanvaarbaar vir sy nuwe lede te wees, maar haal asseblief die “Afrikaans” uit die naam. Die AHI is nie meer Afrikaans nie, bedien nie meer die Afrikaner nie en sy huidige en nuwe bestuur kan net sowel hul bedanking as Afrikaners indien. Dit sal verwelkom en aanvaar word.

En as dit nie gou gedoen word nie, sal ek en andere, organisasies soos die FAK waarvan die AHI glo nog lid is, begin druk om hulle uit te smyt as nie meer ‘n Afrikaanse - bedoelende Afrikaner - organisasie nie.

En hulle sal dalk die eerste, maar beslis nie die enigste wees om so deur te loop nie.