15.6.07

HOE LYK DIE AFRIKANERS DEESDAE

Enigeen wat dink dat die Afrikaners - dis nou diegene wat hulself nie as “Afrikaanses” beskou nie - ‘n enkele, enersdenkende groep uitmaak, verstaan nie wat deesdae in Afrikanergeledere aangaan nie. Daar is minstens drie, dalk nog een of twee ander “groeperinge” binne Afrikanerdom. Miskien was dit maar altyd so, maar dit het die afgelope klompie jare baie skerp na vore gekom.

Na my mening - want daar is verskillende sieninge hieroor - lyk die groeperinge min of meer so (en met die woord “groeperinge” word nie bedoel dat hierdie mense doelbewus of selfs bewustelik hulself in sulke groepe bevind of indeel nie. Die woord dui slegs op ‘n samevatting van min of meer enersdenkende mense):

Groep 1: Seker die grootste groep Afrikaners is diegene wat hulself as lede van die Afrikanervolksgroep beskou omdat hulle ouers en voorouers Afrikaners was of nog is, maar hulle voel nie so sterk oor die taal en kultuur van die Afrikaner nie, hulle gaan nie uit hul pad om sterk emosies rondom Afrikanerskap op te bou nie en hulle dryf maar so al met die politieke stroom saam wat die land nou kenmerk en wonder net af en toe waar dit hulle heen gaan vat.

O, hulle is baie lief vir Afrikaanse musiek en koop CDs, hulle stuur hul kinders na Afrikaanstalige skole (waar dit kan) en gaan steeds na een van die Afrikaanse kerke. Maar as die kassier in die kettingwinkel met hulle Engels praat, antwoord hulle ewe gedweë in Engels, tensy hulle eerste Engels in die winkels praat want “die mense” verstaan mos nie Afrikaans nie!

En dit kriewel soms hier in die binneste as hulle hoor en lees hoe Afrikaans deur die “bleddie” swart regering geminag en onderdruk word, maar wat, daar is nog elke dag Afrikaanse nuus op TV2, RSG saai in Afrikaans uit, jy kan selfs Afrikaanse kommentaar by die rugby op Supersport kry (dis te sê as jy daardie ingilse mengelmoes “Afrikaans” kan noem) en daar is elke dag nog ‘n Afrikaanse koerant te koop. Vir wat lawaai julle klomp doemprofete en aktiviste so? Moenie worry nie! Afrikaans is “here to stay”, soos “die kinders” sou sê.

En “ons” stem vir die DA want hy het baie “Afrikaners” in die parlement en in stadsrade en hy het nou weer ’n leier gekies wat beter Afrikaans praat as ou Tony en hy gaan dalk een van die dae ‘n verkiesing wen!

Ag, ‘n mens kan nog ‘n ruk so aanhou oor hierdie groot groep wat nie wil hoor of weet dat Afrikaans binne die volgende geslag of so gaan uitsterf behalwe in ‘n paar kolle nie. As iemand sou argumenteer dat hier eintlik twee groepe binne hierdie groepering te bespeur is, nl. diegene wat hoegenaamd nie omgee of Afrikaans oorleef of nie en diegene wat tog ‘n bietjie bekommerd is oor die toekoms, maar nou nie uit hul pad sal gaan om iets aan die saak te doen nie, sal ek nie juis daaroor stry nie.

Dit gaan dus die tweede groep in my indeling wees wat gaan sorg dat Afrikaans oor twee of drie dekades nog oorleef.

Dit is Gr. 2 wat in gesprekke met enersdenkende vriende hulle kommer uitspreek oor die agteruitgang van die taal op so vele gebiede, wat sterk gekant is teen pleknaamveranderings en dus deelneem aan protesoptogte, wat hulle heftig sal verset teen enige kerkvereniging met Boesak en kie wat gaan beteken dat die nuwe kerk Engels as hooftaal het, wat dikwels na Radio Pretoria en verwante radiostasies luister, wat lede word (of bly) van die ATKV, al is dit dikwels oor die lekker afslag by die oorde, maar darem ook omdat die ATKV glo pro-Afrikaans is en “ons so ons deel kan doen”!

Die meeste lede van hierdie groepering stem vir die Vryheidsfront Plus omdat hulle besef dat dit eintlik die enigste Afrikanerparty is, of hulle stem glad nie omdat hulle nie bereid is om aan hierdie politieke klugspel deel te neem nie. Hulle is ook diegene wat Afrikaans praat in winkels en die sakewêreld en hoflik dog ferm aandring om in Afrikaans bedien te word. Dis hulle wat briewe aan die koerante skryf oor Afrikaans en die Afrikaner, wat op Sê Wie? daardie arrogante klein bliksem aanvat en sommer reguit en openlik vir sekeres soos ou Max en kie as “verraaiers” bestempel. Hulle lees ook Beeld en Rapport, maar hul glo nie alles wat die koerante kwytraak nie en vervies hulle vir die pogings om hulle saam met die Kaapsers en andere in dieselfde volkskraal te jaag.

Ook binne hierdie groepering sal ‘n mens wisselende grade van toewyding en ondersteuning van die Afrikaner-gedagte kry.

Sonder ‘n deeglike peiling slegs onder wit Afrikaanssprekendes, is dit moeilik om te bepaal hoe sterk en groot hierdie groepering is. Ek dink egter daar kan met reg vermoed word dat dit nie so groot is soos Gr 1 nie, maar ek begin ook aanduidings sien dat dit ‘n groter wordende groep is.

Die optrede van die ANC-regering teen Afrikaans en Afrikaners op soveel vlakke, die duidelike pogings om die Afrikanervolk as agterlik en ’n klomp apartheidsrassiste uit te kryt en die kommer oor wat van hulle kinders en kleinkinders gaan word, maak dat al hoe meer Afrikaners se bloed begin kook, hulle inwaarts keer na hul eie mense wat ook so voel en, boweal, dit openlik en in die openbaar begin sê en wys - soos die vrou wat my nou die dag in ABSA-bank openlik ondersteun het oor hulle miskenning van Afrikaans. Ek vertel in ’n ander stuk meer hieroor.

Die derde groep is betreklik klein in getalle, maar met aansienlike impak weens hul aktivisme. Dit is die lede van Praag, TABOK, die verenigings vir Volkseie-skole en Volkseie-sport, die manne wat probeer om ‘n tussentydse en later volle Afrikanerraad op die been te bring, die leiers en ampsdraers van die VF+, die mense van Orania, Kleinfontein en sulke groeipunte, ja ook mense in die FAK en selfs in die ATKV, maar ek glo nie in daardie lamsakkige organisasie se bestuursliggaam nie. Dit is manne in Afriforum en Solidariteit, in onderwyser- en ander professionele verenigings soos Regslui vir Afrikaans (as ek die naam mooi reg het). Dit is die mense wat woel en werk vir behoud van Afrikaans aan sekere universiteite en ook in skole, wat doelgerig strewe om hul besighede Afrikaans te hou en probeer om slegs Afrikaners in diens te neem. Dit is individue wat op hul eie manier en dikwels in stilte en agter die skerms werk om die saak van die Afrikanervolk te beskerm en te bevorder.

Dis nie moontlik om almal en al die organisasies se name hier te noem nie en as ek enige instansie uitgelaat het wat glo dat hulle naam in hierdie kader moet verskyn, stuur vir my ‘n e-pos of lewer kommentaar en ek voeg dit by.

DIT is die mense wat Afrikaans en die Afrikanervolk werklik gaan laat oorleef. DIT is die mense wat ons steun en ons hulp nodig het.

Maar as enigeen glo dat hierdie ook ‘n monolitiese, enersdenkende groep is, maak hulle ‘n fout. Want ook binne daardie groep is daar soms onmin en tweespalt, jaloesie en ondergrawery.

En in die afgelope jare het daar ook ’n groep ontstaan wat ’n radikale onderskeiding maak tussen Afrikaner en “Boer”. Dis ’n baie klein groepie mense wat met hierdie verdelende en uiters skadelike idee rondloop en hulle stem nie eens met mekaar saam nie! Maar hulle is helaas daar en volgende keer kyk ons skerper na hierdie verdeling.

En natuurlik moet ons ook nog praat oor “inklusiwiteit” en “eksklusiwiteit” in die Afrikanervolk.