22.7.07

AFRIKANERSKAP MOET OOK INKLUSIEF WEES

Uit die vorige aflewering waarin oor eksklusiwiteit gepraat is, sal dit vir enigeen baie duidelik wees dat ek met die woord “inklusiwiteit” iets heel anders in gedagte het as diegene wat die woord gebruik om te bepleit dat sg. “bruin Afrikaners” of dalk selfs ander volksvreemdes ook as Afrikaners beskou moet word.

Wat ek daarmee bedoel is dat ons mense wat hulself as Afrikaners beskou, maar nie alle oortuigings en benaderings van die breë stroom Afrikaners steun of onderskryf nie, nie moet uitsluit of verwerp as lede van die Afrikanervolk nie. Ons gaan almal nodig hê wat enigsins as Afrikaner beskou kan word om as volk te oorleef.

Daar het die afgelope klompie jaar - veral sedert 1994, en dalk al daar in die vroeë tagtigerjare toe Afrikaners begin padgee het van die Nasionale Party onder veral PW Botha, maar selfs voor dit onder John Vorster - ’n neiging ontstaan om daardie Afrikaners wat in die NP gebly het, af te skryf, selfs uit te sluit as Afrikaners.

Daar word maklik - gans te maklik - na mense wat in die 1992-referendum JA gestem het, verwys as verraaiers of “joiners”. Hierdie woorde en verwyte word natuurlik veral geslinger in die rigting van die leiersfigure van daardie tyd, maar tog ook teenoor die gewone volglinge.

Nou moet ek erken dat ek met die beste wil ter wêreld nie vir Pik en Kortbroek en ook Roelf Meyer en trawante meer as Afrikaners kan bestempel nie. Gelukkig wil sommige van hulle ook nie meer so ge-etikeer word nie.

Maar daar is andere - veral jou doodgewone Afrikaner wat liederlik deur leiers van daardie tyd mislei is - wat ons nie moet afskryf nie. Daar is baie mense wat nie die verskil tussen Afrikaner en Afrikaanses mooi verstaan nie omdat die Afrikaanse media dit nie mooi verduidelik nie en eintlik met blatante misleiding besig is. Een of ander tyd sal hierdie mense by een of ander kant van die stroom wat hulle nou meesleur moet uitklim en kant kies. Van hulle gaan verkeerd kies en gaan vir ons verlore wees, maar ek glo ’n beduidende getal sal reg kies en van hulle kan dalk nog meer “fanaties” Afrikaner word as hulle eers agterkom hoe hulle mislei en belieg word.

So word daar deur sommiges wat hulself as “ware” Afrikaners beskou, dikwels gesê dat Afrikaners wat lede is van die DA of vir daardie party in verkiesings stem, nie goeie of ware Afrikaners is nie. Daar is natuurlik ook diegene wat na al die jare steeds hardnekkig volhou dat die HNP die enigste ware Afrikanerparty is omdat hy oor jare teen die “liberaliste” in die NP geveg het. Selfs die Vryheidsfront Plus word deur hulle skerp veroordeel.

Maar is dit geldige argumente of gronde om mense uit te sluit as Afrikaners? Natuurlik nie. Daar sit mense in die DA wat net so sterk voel oor hulle Afrikanerskap as andere in die HNP en die VF+. Hulle is egter oortuig dat hulle alleenlik in ’n sterk opposisie ’n beter bestel vir almal wat teen die ANC-regime gekant is, kan beding - en dit sluit vir hulle ook die Afrikaner in. Ek het my bedenkinge of die DA vorentoe ‘n goeie en aanvaarbare tuiste vir sulke Afrikaners gaan bly, veral as hy toenemend na die swart- en kleurlingstem begin vry. Maar hulle sal self tot enige besluite hieroor moet kom.

Daar is ‘n ander “kwalifikasie” wat deesdae nogal dikwels in sekere kringe gebruik word waarteen ek baie pertinent wil waarsku. Dit is die een van godsdiens of geloofsoortuiging.

Volgens hierdie sieninge kan iemand slegs ’n Afrikaner wees as hy ’n lid is van een van die “Afrikaanse” kerke. Dit sluit blykbaar die AGS in, maar die vraag ontstaan onmiddellik wat dan van Baptiste, Sewendedag-Adventiste en verskeie ander wat as “Christelike”, selfs Protestantse gelowe bestempel kan word? Hoekom kan ’n Afrikaner nie een van daardie gelowe aanhang nie?

Verloor iemand wat uit ‘n Protestantse, Afrikanerhuis kom en hom tot die Katolieke geloof gewend het, sy Afrikanerskap? Daar is immers Afrikaanse Katolieke priesters. Dieselfde geld vir Lutherse Afrikaners. Diegene wat ‘n eng godsdienstige kwalifikasie aan Afrikanerskap heg, sal natuurlik heftig reageer as daar gestel word dat ‘n Afrikaner selfs ‘n Boeddhis kan wees en dat daar beslis agnostiese, selfs ateïstiese Afrikaners is. Maar daar is diesulkes.

Dit is ook nodig om te besef dat hierdie “kwalifikasie” van godsdienstigheid nie in die verlede vir Afrikanerskap gegeld het nie. Iemand wys nou die dag op ‘n gespreksforum daarop dat van ons voorste skrywers en digters in die vorige eeu alles behalwe belydende Christene was. Maar hulle werk word vandag nog deur ons gehuldig as deel van ons kultuur, van ons Afrikanerskap. Daar word beweer dat selfs van ons grootste Afrikaner politieke leiers nou nie juis sterk Christelik was nie, maar hulle het dit nie nodig gevind om hulle politiek en Afrikanerskap en hul geloofsoortuigings as botsend te beskou nie.

Een van die argumente wat aangevoer word om sekere godsdienstige (en ook nie-godsdienstige) oortuigings so uit te sluit, is die Gelofte wat by Bloedrivier afgelê is. Iemand wat nie ‘n Christen (en blykbaar ‘n Protestant) is nie, kan nie die Gelofte wat vóór daardie slag afgelê is, in opregtheid nakom en eer nie en kan dus nie ‘n Afrikaner wees nie, word aangevoer. Maar is dit ‘n geldige argument? Kan iemand wat nie die godsdienstige element van Bloedrivier met sy eie oortuiging kan vereenselwig nie, nie die Slag van Bloedrivier as ‘n brandpunt in die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner erken en gedenk nie? Ek dink dit kan, sonder om die geloof en oortuiging van die Voortrekkers te misken.

Natuurlik is dit ‘n feit dat die meeste Afrikaners Christene en kerkvaste mense is. Niemand kan of wil dit ontken nie. Dit beteken egter nog nie dat ALLE Afrikaners gelowiges is of moet wees nie. Alle Duitsers is nie Luthers of katoliek nie. Daar is miljoene Hollanders wat katoliek is - dalk die meeste, maar “Hollandsheid“ van Protestante word nie ontken nie. Nie eens alle lede van die Joodse volk is oortuigde, belydende Jode nie. Daar word dikwels in Joodse kringe gespot dat daar op ‘n Saterdagoggend meer agnostici in ‘n Joodse sinagoge sit as belydende Jode.

En sommer net interessantsheidshalwe: Moet iemand wat in evolusie glo en aanvaar dat die heelal dertien en ‘n half miljard jaar oud is (al glo hy dat God dit so bepaal het) verwerp word as Afrikaner? Daar is mense wat hier rondhol en ons probeer wysmaak dat geen Afrikaner ‘n evolusionis kan wees nie. Dit is hierdie mense wat, sou hulle ooit weer in beheer van ’n eie Afrikanerstaat kom, sal toesien dat moderne wetenskappe soos evolusionêre biologie, paleo-antropologie en selfs geologie en sterrekunde nie in ons skole en universiteite aangebied mag word nie want dit ”bots” met Die Bybel. Hulle sal soos die “religious right” van die VSA Afrikanerkinders die moderne wêreld in stuur wat kreasionisme as wetenskap verkondig. Die hemele behoed!

Daarby is daar een of twee groot probleme wat opduik vir diegene wat aanvoer dat ‘n Afrikaner ook ‘n Christen moet wees. Daar is sekere predikante en teoloë wat dertig, veertig jaar gelede die Afrikanervolk veroordeel en, in die oë van baie, selfs die Afrikanervolk verraai het terwyl hulle hier en ook wêreldwyd as Christene voorgehou is. Ek dink hier veral aan iemand soos Beyers Naude wat vandag nog deur sekere kultuurinstansies as ’n Christen-Afrikaner gehuldig word. Maar hy was ’n ingeskrewe lid van die ANC se terroristevleuel, MK. Hy het openlik Afrikanerseuns aangemoedig om nie vir diensplig aan te meld om teen MK te veg nie, wat so goed was as om diegene wat wel geveg het, se lewens en veiligheid in gevaar te stel. ’n Mens kan maar sê hy het vir die vyand en die moordenaars van ons volk gebid!

Was hy ’n Afrikaner net omdat hy ’n Christen was? Na my mening nee, NEE en nogeens NEE! Hy was miskien in sy vroeë predikantsjare ‘n Afrikaner, maar deur by MK aan te sluit het hy sy Afrikanerskap verloën - in groter mate as wat ongure karakters soos Max en Koos Kombuis dit doen deur as Afrikaners te “bedank”. Dit geld ook vir ‘n hele paar ander van daardie tyd en ook vir sommige wat vandag nog onder die vaandel van Christenskap teen die Afrikaner te velde trek.

En diegene wat so sterk ten gunste van kerkeenheid met gekleurde kerke is - is hulle Afrikaners terwyl hulle die Christen-Afrikaner in ‘n proses van vermenging en verbastering wil insleep op grond van sy godsdienstige oortuigings? Gaan ons diegene wat wel lidmate word van so ‘n verenigde kerk tussen ‘n deel van die NGK en Boesak se kerk nog as Afrikaners beskou? Ek twyfel. Ek hoop waaragtig nie so nie want hulle verloën hulle Afrikanerskap. En moenie vir my vertel dat hulle beter Christene is as die Afrikaners wat nie saam in so ’n verenigde kerk wil gaan nie, soos sommige van die militante voorstanders van kerkeenheid aanvoer. Twak! Dit is ’n gruwelike misbruik van godsdiens om politieke oogmerke te bereik en Afrikaners - Christene en ander - sal dit heftig moet teenstaan.

Uit die voorafgaande kan dit dalk lyk of ek dink dat een of ander tribunaal of so iets gaan bepaal wie Afrikaner is of wie nie. Dis egter nie hoe dinge werk nie. Enigeen wat homself as ‘n Afrikaner sien en deur sy familie, vriende en die breë gemeenskap as deel van hulle aanvaar word, al verskil hulle oor baie dinge soos die godsdiens en die wetenskap, sal deel wees van die Afrikanervolk.

Ek wil sover gaan om te sê dat baie van hierdie “andersdenkendes” die eintlike intellektuele onderbou van die Afrikanervolk is en gaan word. Deur hulle uit te sluit, gaan die Afrikaner word soos die Amish van die VSA - ’n klein, “vreemde” groep mense wat in totale isolasie met die res van die wêreld leef. En so ’n groep kan slegs in ’n werklike demokratiese land soos die VSA met sy verskeidenheid van volkere en groepe voortbestaan en gedy. In Afrika sal so ’n groep dit nie maak nie.

Daar hol reeds sulke isolasioniste rond in die vorm van die Israel Visie. Keer tog dat die Afrikanervolk nie so word nie, maar ‘n byderwetse, moderne en vooruitstrewende volk bly.

So nie, sal hy agteruitgaan en uiteindelik tot niet gaan.