30.5.07

SAL DIE WARE COENIE OPSTAAN, ASSEBLIEF

Vreemde storie hierdie een oor Coenie, uitvoerende direkteur (kultuur) van die ATKV en aanbieder van Kwela op Kyknet, oor die ATKV-veertjie toekenning vir Kwela en die eenvoudige ou vragie wat Elsabé Pepler van die Vrystaatse Universiteit daaroor gevra het.

Vir diegene wat nie Beeld hoef te lees nie, die storie het Vrydag, 13 April, begin toe me. Pepler in die rubriek Seepkis vertel het hoe woedend, ontstoke en selfs intimiderend onse Coenie was toe sy dit durf waag het om die vraag te stel of dit darem reg en goed is dat die ATKV 'n veertjie toeken aan Kwela terwyl hulle nuwe UD (Kultuur) die program aanbied.

Sy het die kwessie by ‘n ATKV-werknemer geopper, maar toe bel Coenie haar persoonlik, roskam haar so kwaai dat sy die gesprek beëindig, maar die foon lui weer en Coenie trap haar lelik uit. En dit net oor sy ‘n vragie stel.

In die daaropvolgende Vrydag word Coenie in dieselfde ruimte die geleentheid gegee om op die bewerings te antwoord. Hy klim van ‘n kant af in die arme meisiekind in en skimp selfs dat sy Kwela doelwus mislei en dalk oor sekere dinge gelieg het. In die proses verduidelik hy egter dat hy maar net die aanbieder van Kwela is. Hy het geen redaksionele op operasionele insette in die beplanning, opstel of samestelling van die verskillende insetsels nie en om hierdie rede was dit nie verkeerd dat Kwela wel ‘n veertjie van die ATKV kon ontvang nie.

Almiskie, maar ek dink nog dat Elsabé, ongeag enige bybedoelings wat sy dalk kon gehad het, ‘n goeie vraag gestel het en dat die prosedure rondom die toekenning en die program vroeër verduidelik moes gewees het. Maar eintlik dink ek dit sal beter wees as Kwela dan maar liefs ‘n ander aanbieder kry of glad nie in aanmerking kom vir ATKV-toekennings nie. Dit lyk net nie lekker soos dinge nou is nie.

Maar Coenie se verduideliking het nou ’n hele paar splinternuwe vrae laat ontstaan.
As hy dan nie die beplanner en opsteller van die program is nie, wie is? Of is dit nog meer van die gesiglose, naamlose aktiviste wat ook ‘n hele paar ander programme op Kyknet van agter die skerms beheer? Hierdie reeks, soos andere, word vervaardig deur Pieter Cilliers Produksies. Ek het tot hede nie veel aandag gegee aan hierdie produksiehuise nie, maar dit lyk my ‘n mens sal noulettender na hulle moet kyk. Want dit ly geen twyfel nie dat Kwela deel is van Kyknet in besonder en Naspers in die breë se volgehoue veldtog en propaganda dat die Afrikaner en alle ander Afrikaanssprekendes eintlik maar net een en dieselfde groep, selfs volk, is en dat ons eintlik moet assimileer en versmelt in die sg. reënboognasie. Daarom dan ook die mildelike gebruik van Kaapsers - selfs in insetsels oor Afrikaners.

Die ander groot vraag is natuurlik watse soort mens is hierdie nuwe kultuurbaas van die ATKV eintlik? Die onverdraagsame, ongeduldige, selfs venynige wyse waarop hy op Elsabé se menings gereageer het, is alles behalwe vereenselwigbaar met die beeld van sagmoedige, vriendelike, meelewende en ordentlike Coenie wat die TV vir ons voorhou. Is dit dan ‘n valse beeld wat hier uitgedra word?

Ons sal maar vorentoe moet sien, maar ek wil net vir Coenie sê dat hy moet lig loop. Die TV is ‘n ongenaakbare, selfs wrede medium. Jy sal ‘n hele ruk lank kan wegkom as jy jou ware aard probeer verbloem, maar een of ander tyd haal hy jou in.

Die storie het blybaar ‘n stertjie.

In ‘n taamlike lang artikel in Sakebeeld van 24 Mei betreur Coenie die min aandag wat die gewone media aan “kultuur” gee en bepleit dat die “sogenaamde bewakers van kultuur” die kuberruimte van die internet begin benut.

Op die oog af is dit ‘n “indringende” artikel, maar as ‘n mens begin ontleed sê dit egter bitter min, en dan begin ‘n mens wonder, soos: Hoekom skielik hierdie artikel waarin die media eintlik bygekom word? Is Coenie genooi om hieroor te skryf, of is dit dalk ‘n geval dat die artikel geskryf is en aan die media gestuur is - dalk met so bietjie druk van “publiseer dit of…..”? Net so vreemd is die ruimte waar dit geplaas is - op ‘n agterblad van Sake?

En as ‘n mens eers hierdie vrae begn vra, dan wonder jy of dit nie dalk ‘ n tipiese Coenie manier van doen is om Beeld so op sy plek te sit omdat hy dit durf waag het om Pepler se “aanval” op hom te publiseer nie?

Dit is nog ‘n rede om te vra dat die ware Coenie asseblief opstaan sodat ons kan sien presies hoe hy lyk.

Coenie sal ook nog op ‘n goeie dag sonder om te skroom vir ons eens en vir altyd duidelik moet maak of hy homself as “Afrikaner” of “Afrikaanse” beskou. In sy jongste geskrifte het hy die kwessie netjies omseil deur te sê dat hy nie skaam daaroor is dat hy wit, Afrikaans en manlik is nie. Beeld se opskrif dat hy sê hy is ‘n “wit Afrikaanse man” is misleidend want dit kan ‘n ander indruk skep as die een van Coenie self dat hy Afrikaanssprekend is. Coenie sal dalk aanvoer dat hy sy voorkeur al by geleentheid getoon het en ek het ‘n sterk vermoede dat hy as “Afrikaanse” geklas kan word, maar ek het nie duidelike bewyse nie.

Dis beslis nie die laaste wat ek oor Coenie te sê sal hê nie. Soos belowe gaan daar gekyk word hoe hy in sy nuwe pos vaar en waarheen die ATKV onder sy leiding op pad is. Maar ons sal wag tot na sy eerste kongresoptrede later vanjaar.