6.6.07

SO LYK DIE AFRIKAANSES

Te midde van ‘n vloedgolf van menings oor die Afrikaner in feitlik al wat koerant is, is dit in die tweede deel van hierdie ontleding nodig om te kyk na die Afrikaanses: Wat glo en bepleit hulle, en wat kan hulle beweegredes wees?

Sonder om ellelange bronne (soos die warboel artikels waarna verwys is) ter stawing hier aan te haal, kan die volgende gestel word:

Afrikaanses erken nie die bestaan van ‘n eiesoortige Afrikanervolk met ‘n eie taal, kultuur en volksgeskiedenis nie of, waar hulle tog erken dat daar so ‘n volk bestaan of êrens in die verlede bestaan het, moet dit omvorm of tot niet gemaak word.
Afrikaanses se ideaal is dat almal wat Afrikaans praat, hulself in ‘n enkele groep of gemeenskap organiseer om Afrikaans te bevorder en te beskerm. Die woord “volk” moet tog net nie gebruik word nie want dit is verkramp, nasionalisties, eng en uit die oude doos.
Afrikaanses hamer daarop dat die Afrikaner “inklusief” moet wees - bedoelende dat hierdie gemeenskap of groep almal wat Afrikaans praat moet insluit, natuurlik veral die sogenaamde “bruin Afrikaners”.
Hierdie nuwe “gemeenskap” moet dan in ‘n gees van versoening en samewerking met die ANC-regering saamwerk om ‘n nuwe “nasie” hier te bou waarin kleur en afkoms - en seker ook taal - geen rol speel nie.
Alle instellings en instansies wat vir die Afrikaner van belang is en eintlik die wese van sy bestaan kenmerk, moet oorgeneem, omvorm of herskep word totdat dit ten volle aan bostaande vereistes voldoen. Dit sluit in kultuurorganisasies, kerke, skole en universiteite, selfs sport en in besonder sportorganisasies en -klubs wat deur Afrikaners beheer word.
In hierdie proses moet daar meedoënloos en selfs oorweldigend volgehou word met ‘n “pro-Afrikaanses, anti-Afrikaner” veldtog in alle media. Die “blye boodskap” van samewerking, assosiasie, vermenging, integrasie en assimilasie in ‘n groter geheel moet verkondig en uitgedra word. In besonder in TV-sepies, op TV-kanale soos Kyknet, in sport en in die vermaaklikheidswêreld.
Enige instansie of tendens wat nie hierdie doelwitte bevorder nie, moet ongenaakbaar verdag gemaak, aangeval en so gou moontlik vernietig word. Liedjies wat Afrikanertrots aanwakker moet afgekraak word as opswepend en agterlik, selfs rassisties en eintlik Nazi-politiek; mense wat die vlae van die verlede rondswaai, is ’n klomp apartheidsrassiste wat na die ou bedeling terugverlang; selfs diegene wat protesoptogte hou oor die naamsveranderings van stede en dorpe, is moeilikheidmakers en vêr-regses.

Die heel eerste vraag wat by ‘n mens opkom as hierdie dinge so uitgespel word, is: Hoekom? Hoekom moet die Afrikanervolk verdwyn en plek maak vir ‘n “gemeenskap” van Afrikaanses? Hoekom word die ideologie van vermenging en assimilasie so knaend in ons kele afgedruk?

Die grootste probleem met die soeke na antwoorde op hierdie vrae is dat diegene wat hierdie beleid en ideologie nastreef nie so onnosel is om hul eintlike motiewe en beweegredes uit te blaker nie - nie eens in privaatgesprekke nie. Net so af en toe glip daar iets deur wat ‘n bietjie lig op die saak werp.

Maar ek het ‘n sterk vermoede - en kan stawende feite bring indien nodig - dat dit in wese maar net ‘n voortsetting is van die doelwitte en ideale van die sogenaamde “Cape Liberal establishment”. Dit was ’n siening wat 130 jaar gelede sy beslag in de Kaap gekry het en selfs die destydse Afrikanerbond van SJ du Toit en ander “vestigers” van Afrikaans as taal, oorgeneem het, in so ‘n mate dat hulle politieke vennote van Cecil John Rhodes was.

Deur die jare het hierdie mense van tyd tot tyd veldtogte geloods om die Kleurlinge op politieke en ook sosiale en kulturele vlak deel te maak van die Afrikanervolk. Hulle is keer op keer platgeslaan, soos toe hulle (hoofsaaklik deur artikels en briewe in Die Burger) in die vroeë sestigerjare andermaal probeer het om ‘n gemeenskaplike kieserslys as aanvaarde beleid gestel te kry en hulle in Hendrik Verwoerd vasgeloop het.

Hulle het gevou, maar nie gaan lê nie en toe hulle in 1978 met ’n liederlike en onderduimse gekonkel (anderdag meer daaroor) daarin kon slaag om PW Botha bo Connie Mulder as eerste minister verkies te kry, het hulle onmiddellik begin om hul jarelange ideologie te implementeer. Die magsdelingsbeleid van PW en die daaropvolgende driekamer Parlement is deur hulle gesien as net die regte metode om die Afrikanervolk te omvorm en ‘n “veelrassige” regering hier te vestig wat, so het hulle geglo, vir die Westerse wêreld aanvaarbaar sou wees.

Hulle het egter nie rekening gehou met die swartes van die land nie want, tipies Kaaps, het hulle nie die swart mentalitiet geken nie omdat hulle bitter min met die swartes te doen gekry het en nooit die lesse wat die Oosgrens-boere en die Voortrekkers geleer het, ter harte geneem het nie.

Dis nou bloot geskiedenis dat die swart militantes die oorhand oor PW en kie gekry het - al was dit in die finle instansie met die hulp van ’n klomp wit papbroeke.

Het hierdie mense toe hierdie gebeure as ’n voldonge feit aanvaar en hul jarelange vete teen die”verkrampte” Afrikanervolk laat vaar? Nooit gesien nie!

Hierdie Kaapse “tradisie” word vandag eers sterk voortgesit en voorgestaan deur die koerante, tydskrifte en TV-kanale van Naspers, deur akademici, skrywers en vermaaklikheidspersoonlikhede wat hoofsaaklik in die Kaap gesetel is en deur sterk en invloedryke “Afrikaner” sakemanne wat ook in daardie gebied hul hoofkantore het. Ek praat nou van die intelligentes, die denkendes, diegene wat oor ekonomiese, finansiële en selfs politieke “mag” en invloed beskik.

Ek is oortuig daarvan dat baie van die mindere ligte wat so raas en vloek teen die Afrikaner nie die vaagste benul het van die ou en diepgesetelde dryfvere vir hierdie ontvolkingsbeleid van die Afrikaner nie. Hulle tier maar net saam teen die Afrikaner omdat dit mode is, hulle aandag in die koerante kry of, in sommige gevalle, omdat hulle bitter en ook jaloers is omdat hulle nie orals opgehemel en geprys word nie.

Dis die voorste ligte in hierdie proses wat so graag wys op die taalgemeenskaplikheid tussen Afrikaners en die Kleurlinge, maar die diepgaande kultuurverskille tussen die groepe verswyg en probeer wegpraat.

Nou hoekom hou hulle so knaend aan met die ou uitgebakte storie? Waarskynlik omdat hulle dit nie kan vat om keer op keer as verkeerd bewys te word nie. Hulle loop hulle aanhoudend vas in die Afrikaner se volkseie-sienings, maar weier om dit te aanvaar. Dis pure hardkoppige, beterweterigheid. Eintlik ‘n vorm van verwaandheid en arrogansie dat dit wat uit die Kaap kom, beter en meer verhewe is - die Kaapse snobisme op sy lelikste.

Wat vir my ook vreemd is, is dat hierdie Kapenaars wat met die Kaapsers grootgeword het, nou nog nie kon sien dat die groepe eintlik net taal in gemeen het nie. Afrikaners in die Oos- en Noord-Kaap het nooit hierdie denkfout gemaak het nie. Ons het die bruinmense nie gehaat of verafsku nie, maar ons kon mos sien en ervaar dat ons en hulle nie geheel en al dieselfde waardes deel nie, nie ‘n enerse groep uitmaak nie, beslis nie aan dieselfde “volk” behoort nie.

Wat ek as ‘n student van die Sosiologie en Volkekunde en met ‘n goeie klompie jare ervaring in die politieke joernalistiek ook nie kan verstaan nie, is hoe enigeen kan dink dat jy twee uiteenlopende groepe as’t ware kan dwing om ‘n nuwe “volk” te vorm. Dit het nog nooit so gewerk nie en dit gaan nou ook nie werk nie. Daar is verskeie voorbeelde dwarsdeur die wêreld wat wys dat daar net nie iets kan wees soos gedwonge volksvorming nie.

Nog ‘n onverklaarbare siening van hierdie “Afrikaanses” is dat Afrikaans slegs sal oorleef indien daar so ‘n assimilasie tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes is. Kan hulle nie besef dat ‘n taal wat bedreig word eintlik net binne die beskermende, maar ook bouende grense van ‘n “volk” kan bly voortbestaan nie? Kan hulle nie sien hoe vinnig Afrikaans besig is om deur die Kaapsers opsy geskuif te word nie - ongeag die feit dat daar beduidende persoonlikhede binne daardie gemeenskap is wat sterk pleidooie rig vir die behoud van Afrikaans? Afrikaans - of dan ‘n mengelmoesdialek daarvan - is nog heelwat van die Kaapsers se gebruikstaal, maar dit is nie “volksbesit” nie en hulle gaan baie vinnig verengels.

Maar wat veral vir my vreemd is, is dat hierdie mense nie kan insien nie dat die ANC-regering enige pogings om wittes en bruines in so ‘n nuwe groep saam te voeg, gaan sien as pogings om ‘n nuwe bolwerk teen hom te vorm. Hulle sal dit met mag en mening teenstaan. Hulle sal nog sterker optree om “verswarting” op alle terreine van die samelewing toe te pas. Soos dit is sien hulle die bruines sedert kort ná 1994 nie meer as swartes nie. Dit gaan die wittes dan mos nou net mooi niks help om “bruin” te word nie. Hulle gaan net meer probleme vir hulself EN die huidige Bruines skep!

Moet egter nie vir ‘n oomblik glo dat die Afrikaanses hulle planne en doelwitte gaan laat vaar nie. Inteendeel, dit gaan in die onmiddellike toekoms heftiger word, soos dit in die afgelope maande geblyk het toe die De la Rey-liedjie skielik ou, onderdrukte emosies en gevoelens onder Afrikaners laat ontluik het. Die Afrikaanses het hul basse afgeskrik. Hulle het gedink hulle het die ideologiese stryd klaar gewen, toe bars hierdie emosies rondom die liedjie uit en maak dit vir die wêreld duidelik dat die Afrikanergees nog sterk roer.

Afrikaners sal egter moet bymekaar kom en beplan en organiseer om hierdie aanslag af te weer. Maar maklik gaan dit ook nie wees om die “Afrikaners” te identifiseer en saam te snoer nie. Daar is klaar tekens dat skerp verskille intree oor wie ‘n Afrikaner is en wie nie. En dan praat ons nog nie eens van die jongste pogings om ons te verdeel tussen “Afrikaners” en “Boere” nie.

Meer daaroor later.