6.7.07

Afrikaners en Boere

Hierdie inset moes eintlik al twee weke gelede hier verskyn het, maar die deurmekaarspul wat daar heers oor wie en wat ‘n “Boer” is en hoekom dit dan anders is as ‘n “Afrikaner”, is so groot dat daelange soektogte op die internet in daardie tyd nou nog nie vir my duidelikheid gebring het nie.

Wat wel duidelik is, is dat die begrip “boer” liederlik misbruik word om sekere individue se persoonlike agenda’s en doelwitte te bevorder. Die grootste sondaar in hierdie verband is daardie misleide klomp Israel Visie (IV) mense met dr Lets Pretorius aan die voorpunt.

Dit is nie beduidende klomp mense nie. Ek twyfel of hulle totale “volwasse” siele ‘n honderdtal uitmaak, maar hulle gaan so te kere dat hulle klink soos ’n ysike spul. Soos die Afrikaanse spreekwoord dit so raak stel: “Die leegste blikke maak die grootste lawaai”.

Dan loop daar ook nog ‘n paar verdwaalde siele rond wat ook êrens die idee opgetel het en toe maak dit vir hulle so half sin en nou hol hulle ook daarmee rond. Veral hier op Kleinfontein broei ‘n paar mannetjies mekaar blykbaar warm en ek wonder juis of Radio Pretoria se vreemde kommentaar van 2 Julie nie deur een van daardie buksies geskryf is nie.

Sover ek weet is dit RP se neergelegde beleid om te praat van die AfrikanerBoerevolk of die BoereAfrikaner. Dit was dus vreemd om te hoor dat daar in daardie kommentaar slegs van die Boerevolk gepraat word en dit het dan ook verbasing uitgelok in opmerkings op die internet.

My probleem met die gebruik van die twee terme, is dat dit eenvoudig net nie duidelik is wat “Boere” dan nou anders, selfs beter maak as “Afrikaners” nie.

Daar is een siening wat ‘n jaar of drie gelede op die Praag-poslys bespreek is, nl. dat Boere afstammelinge is van mense wat burgers van die twee Boererepublieke was. Dit wil sê diegene wie se ouers en voorouers in die kolonie agtergebly het met die Groot Trek kan nie Boere wees nie, en ook nie eens diegene wie se voorouers deel was van die Groot Trek, maar in Natal agtergebly het.

Dit is nie alleen ‘n kunsmatige verdeling nie, maar so onsinnig dat dit eintlik nie eens verdere aandag verdien nie. Mense het in die 100 jaar sedert die Engelse Oorlog so getrek en geskuif dat dit haas onmoontlik is om vas te stel wie se voorouers waar gewoon het. Die voorstanders van die idee is dan ook in daardie bespreking gelooi.

Op ’n webblad met die naam www.boerevryheid.co.za word daar reguit gesê dat die naam Afrikaner nie vir hulle aanvaarbaar is nie want daar is so baie Afrikaners wat verraaiers en meelopers en slapgatte is. Een van die voorste figure op daardie forum het dan ook ‘n hele “staat” opgestel van wat ‘n “Boer” se hoofeienskappe en kenmerke is. Nogal indrukwekkend, maar ‘n mens kan oral waar daar Boer staan ook Afrikaner insit en dit kan net so waar wees - en dalk net so onwaar vir sekere mense - ook onder die “Boere”. Vrae van verskeie deelnemers aan die forum vir duidelikheid oor wat die verskil is tussen Boer en Afrikaner het sulke “heldere” antwoorde gebring soos: “Jy is ‘n Boer as jy weet jy is ‘n Boer en jou vereenselwig met die Boerevolk”.

Wat die mense op hierdie webblad - waar dr Lets so geprys word - se sieninge ook verdag en eintlik belaglik maak, is hulle diepe geloof dat Siener van Rensburg se “profesieë” besig is om elke dag waar te word en ook hulle verbondenheid met die IV gedagte - dat die Boerevolk eintlik die verlore stam van Israel is en dus die eintlike uitverkore volk is.

Dit is duidelik dat ons ons nie veel aan hierdie klompie lawaaimakers hoef te steur nie. Dis net jammer dat hulle met hul verwronge sieninge gesorg het dat daar ‘n paar goedgelowige mense al vyf jaar lank in die tronk sit as aangeklaagdes in die sg. Boeremag-verhoor. Lets en sy gesuiwerdes moet liefs maar vir hulle diep in die bosveld ‘n plaas koop en ‘n “boerestaat” daar vestig. Oor minder as 50 jaar sal hulle en hul nageslagte die moderne tyd se takhare wees.

Eintlik het ek my tyd gemors om te probeer vasstel hoekom “Boere” dan nou sulke verhewe volksgenote is. Hulle is nie. Die mense wat met hierdie idee rondloop is eintlik bra simpel.

Diegene wat belangstel kan ook gerus gaan kyk na professor Tobie Louw se webblad by http://www.incitatus.co.za . Ek lei af hy is ook n voorstander van die “Boere” benaming, maar ek verneem dat hy hom vinnig van die IV klomp by Boerevryheid gedistansieer het. Hy kan dit gerus net duidelik stel en dan sommer begin afsien van hierdie onnodige verdeling.

Ek het dit reeds in vroeëre insette gestel dat hierdie pogings om onderskeid te tref tussen Boere en gewone Afrikaners, nie alleen onsinnig en totaal ongegrond is nie, maar ook die gevaar inhou van ernstige verdeling. En ons kan dit nie bekostig nie want ons het almal nodig wat enigsins bereid is om hulself Afrikaner te noem. En ons hoef glad nie skaam te wees vir daardie naam nie want die Afrikanervolk het uitmuntend presteer en baie dinge goed en reg gedoen voordat hy deur ’n spul politieke magsugtiges met PW en PIK aan die voorpunt op ‘n totaal verkeerde pad geplaas is.

Die verraaiers en samesmelters is gelukkig op pad weg van ons af en ons gaan nog mense verloor wat hulself meer tuis voel in die kamp van die Afrikaanses of wat nie omgee dat hulle kinders verengels nie. Ons gaan ook nog duisende afstaan aan emigrasie na ander lande waar baie van hulle - maar beslis nie almal nie - hul Afrikanerskap mettertyd gaan verloor.

Ons sal sterk uitsluitend en eksklusief moet wees om te voorkom dat ons vervlak, vermeng, assimileer in ‘n karakterlose, kultuurlose roesemoes wat nooit ooit as ‘n volk bestempel sal kan word nie.

Maar ons sal baie meer inklusief en oop moet wees in ons aanvaarding van mense wat hulself as Afrikaners beskou maar nie die eng, bekrompe siening van wat ’n Afrikaner is, kan aanvaar nie.

Meer daaroor volgende keer.