22.10.07

COENIE GEE VINNIG PAD BY DIE ATKV

Wat gaan aan by die ATKV? Is die monolitiese, geslote granietblok wat die topbestuur die afgelope jare sorgvuldig geskep het, besig om die een kraak na die ander te kry? En waar gaan dit eindig - ‘n Afrikaner-organisasie wat weer terugkeer na sy wortels of een wat totaal en al in die hande van Afrikanerhaters en volksvreemdes verval?

Die rede vir hierdie yslike vraagteken oor die toekoms van die ATKV is die skielike en hoogs omstrede einde van Coenie de Villiers as Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die organisasie nadat hy net ’n jaar gelede in die pos aangestel is in die plek van Frits Kok wat net so skielik padgegee het.

Met die skrywe hiervan was daar nog nie berigte in die media wat ek gesien het oor Coenie se vertrek nie. Ek het dit Donderdag, 18 Oktober, op die ATKV se webwerf gesien in ’n mediaverklaring wat dieselfde dag vrygestel is. Miskien is dit vir sommiges wat hier lees ook nuus, maar dit staan daar op wit en swart.

Volgens die verklaring is hy nie afgedank nie en het glo ook nie bedank - hy word net in ’n ander hoedanigheid aangewend nadat hy ’n hoë pos by ’n advertensie- en reklame-agentskap in Johannesburg aanvaar het. Hy is nou kultuurkonsultant van die ATKV - maar klaarblyklik net in ‘n deeltydse hoedanigheid.

Nou kan hulle maar met woorde en begrippe speel soos hulle wil, maar in my boek beteken dit hy is nie meer in die top kultuurpos by die ATKV nie, die konsultantstorie is waarskynlik ‘n tydelike een en oor wat presies agter die skerms gebeur het kan ons net raai - totdat dit dalk uitlek.

Maar ek is bereid om ‘n rand of twee te verwed dat onse Coenie en die topbestuur - in besonder die dagbestuur en dalk die hele direksie - mekaar nie kon vind nie. Ons sal maar vir die huidige moet wag vir ‘n duidelike antwoord op die ou vraag: Het hy gespring of is hy gestamp?

Daar kan goeie redes vir enigeen van die twee wees. Aan die een kant dink ek onse Coenie is ‘n man wat daarvan hou om in beheer te wees, die toon aan te gee, die top man te wees. Maar daar sit mense soos Johan van Schoor (voorsitter) en prof. Hans du Plessis(onder-voorsitter) en enkele ander in die direksie wat self sterk idees het oor die ATKV se taak en toekoms en hulle plek daarin. Dit is vir my baie duidelik uit ‘n hele reeks gebeure van die afgelope paar jare dat hulle nie daarvan hou om voorgeskryf te word nie en nog op die agtergrond geskuif te word deur enige vrypostige twak wat op die toneel verskyn nie.

Ek vermoed - want dit kan niks meer as ‘n vermoede wees in hierdie stadium nie - dat daar erge spanning tussen Coenie en sekere mense ingetree het wat ’n punt bereik het waar dinge óf vir Coenie óf vir ander top mense nie aanvaarbaar was nie.

Met sy aanstelling was daar by sommiges - soos ek - bedenkinge oor wat gaan gebeur, maar uiteraard is hy kans gegee om hom in die nuwe pos in te grawe. Daar was mense wat met belangstelling gekyk het hoe hy op sy eerste kongres gaan vaar, maar by gebrek aan berigte wil dit voorkom of daar nie ernstige probleme was nie. Coenie was een van diegene wat hard probeer het om bewerings dat ATKV-lede maar lekker verkramp was deur nie ’n kleurling as lid van die direksie te kies nie, die nek in te slaan met verduidelikings dat hulle maar net hulle demokratiese regte uitgeoefen het.

Maar kort na die kongres was daar die klaaglike mislukking van die groot konsert wat in Johannesburg se middestad gereël is om anderskleuriges aan Afrikaanse musiek bloot te stel. Daar het glo net ‘n handjievol mense daar opgedaag. Nie eens wittes nie, want watter witte by sy volle verstand sal dit in Newtown waag sonder swaargewapende begeleiding! , Swak oordeel, swak beplanning, powere politiek en uiters gebrekkige insig!

Dit was, sover dit ons buitestaanders betref, Coenie se eerste groot poging om een of ander skouspel aan te bied. Het die feit dat dit misluk het dalk iets te doen met sy skielike vertrek uit die kultuurpos? Net ‘n paar mense weet - en hulle praat nog nie.

Maar die nuus en veral die wyse waarop dit bekend gemaak is, is vir my nogal tiperend van wat die afgelope paar jaar in die ATKV aangaan.

Ek het heel aan die begin na die ATKV verwys as ‘n “monolitiese, geslote” organisasie. En dit is hoe ek dit die afgelope drie jaar ervaar het toe ek my sterk teenkanting met sekere optredes te kenne gegee het - soos die toekenning van ‘n erepenning aan die ANC-terroris Beyers Naude kort voor sy dood. Daar was ook ander gebeure wat ek nog volledig hier uiteen sal sit.

Nie alleen is my briewe aan Die Taalgenoot nie gepubliseer nie, maar ander optredes om die ATKV van sy skewe koers te laat afsien, is soms met siedende woede doodgesmoor en verswyg. Die gewone ATKV-lid het tot hedendag nie gehoor dat die direksie vir Kok en die vorige redakteur van Die Taalgenoot oor die vingers getik het ná die verskyning van ’n foto van ’n bruin model wat ewe wulps op die Sarkofaag in die Voortrekkermonument uitgestrek gelê het nie - om maar net een ding nou te noem waarna ek vollediger sal verwys.

In daardie tyd is feite verswyg en verdraai en soms selfs openlik gelieg. En nou met Coenie se vertrek, kry ek die indruk dat dinge alweer nie lekker is nie. Daar word voorgegee dat hy net “verskuif” is na ‘n “konsultantpos”. Nou kan dit waar wees dat hy vir ‘n ruk nog bietjie gekonsulteer gaan word en dalk het die reklamemaatskappy waar hy nou gaan werk, selfs ‘n kontrak met die ATKV, maar om te maak asof hy nog NOU aan die organisasie verbonde gaan wees, is mos twak en vals.

Ek was juis besig om aan die artikel wat ek nou al ‘n hele klompie weke hier belowe, te werk, toe ek op die ATKV se webblad op die aankondiging afkom. Die artikel het ek weens veranderende omstandighede - waaronder probleme aan my kant met breëband-verbindings vir my rekenaar - al drie of vier keer herskryf en nou moet ek dit weer doen. Maar ek kla nie. Dit word interessant.

In die weergawe waaraan ek toe besig was, wou ek juis voorspel dat ek onse Coenie net ’n jaar of twee se verblyf by die ATKV gee voordat hy “spring” of “uitgeskop” word. Dit was op daardie oomblik dat ek besluit het om op die webblad te gaan kyk wat hy in sy verslag voor die kongres kwytgeraak het en toe op die aankondiging afkom oor sy “verskuiwing”. Daar stuur hulle my ou voorspellingkie sommer gou in sy maai - maar darem in die regte rigting!

Voorlopig genoeg oor die ATKV. Kom ons kyk wat spring agter die bos uit!