23.12.07

DIT WAS DOM VAN JOU, MARINUS

Onderstaande brief het ek op Sondag, 16 Desember, aan BY gestuur. Daar is wel een of twee briewe geplaas wat krities teen Marinus was, maar dit was maar aan die flouerige kant. Hierdie een - en ek vermoed ander wat skerper was - het nie die paal gehaal nie.

Het iemand dalk vir my Marinus se e-posadres? Ek sal dit graag aan hom wil stuur.



BRIEF AAN BY
Dit was ‘n fout van Marinus Wiechers om hom te laat insleep by hierdie jongste poging om Verwoerd se beeld en aansien af te kraak (BY 15 Desember). Baie van ons oueres wat daardie tydperk saam met mense soos Marinus beleef het, dink steeds Verwoerd was een van die bestes en slimstes, en vir die jonger geslagte maak dit seker nie meer baie saak of hy was of nie.

Een van Wiechers se “aanklagte” teen Verwoerd is dat hy nie “gelyke onderwys” vir almal ingestel het nie. Maar Marinus weet so goed soos ek dat toe die Nasionale Party in 1948 oorgeneem het, was daar nie eens ‘n sweem van ‘n beleid vir swart onderwys nie. Dit het hoofsaaklik op Verwoerd geval om so ‘n beleid en ‘n program te begin en vir die eerste keer is daar werklik aandag aan hierdie saak gegee.

Sy ander groot beswaar is dat Verwoerd nie konsosiasie as beleid ingesien en waardeer het nie. Behalwe dat die konsep en die woord in Verwoerd se tyd heel onbekend was (Lijphart se eerste boek het twee jaar na Verwoerd se dood verskyn), is konsosiasie, soos Lijphart self erken, net ‘n konsep wat kan werk as daar hoogstens 4 of 5 “gemeenskappe” betrokke is. Ons elf of meer groepe maak dit ‘n onrealistiese konsep.

Kyk ons na die jongste voorbeeld van ‘n vorm van konsosasie - die eertydse Britse “unie” wat in terme van devolusie besig is om te ontbind in selfbestuur vir Skotland en Wallis met die Engelse wat bitterlik kla omdat hulle nie seggenskap oor HULLE eie sake het nie - dan sien ons dat hierdie model ‘n baie interessante element het - gebiedsinhoud. Die selfbesturende gebiede het fisiese grense!

Wiechers sal daardie woord “gebiedsinhoud” goed onthou. Ons het dit mos baie in ons tyd gebruik. Ons het dit Afsonderlike Ontwikkeling genoem, maar die klomp bekrompe kritici het volgehou om dit met die skelnaam “apartheid” te smeer.

Want konsosiasie loop met al sy mooi idees van samewerking en oopgemoed, begripvolle, liberale ooreenkomste uit op gebiedsinhoud of balkanisering soos ons dit in Oos-Europa sien en dalk nog in België gaan ervaar. Pure “afsonderlike ontwikkeling”.

En as konsosiasie dan nou so ‘n wonderlike idee was, hoekom het Wiechers en sy mede-grondwetskrywers ná 1994 (volgens Van Zyl Slabbert in Duskant die Geskiedenis was hy een van die voorstes) dit nie in ‘n nuwe grondwet vir die land verwerk en ons die huidige afskuwelikhede en diskriminasie van meerderheidsbewind gespaar nie?



Nee, Marinus, dit was ‘n fout om jou te laat insleep by die kwessie of Verwoerd werklik so slim was. Om eerlik te wees, dit was bra dom van jou.