27.8.07

GESOEK: 'N NUWE JAN S. MARAIS

Is daar nie êrens in ons land ‘n nuwe Jan S Marais wat vir ons ‘n eie Afrikanerbank kan gee nie? En sommer ook weer ons eie Afrikaner versekeringsmaatskappy waar ons en ons taal welkom is.

Ek pleit vir ‘n bank wat uit huis uit Afrikaans is soos Volkskas was en soos Trustbank ‘n ten volle tweetalige, maar in die eersteplek Afrkaanse diens gelewer het.

Ek pleit vir ’n versekeringsmaatskappy wat sy nuwe produkte Afrikaanse name gee en nie soos die eertydse Afrikaanse reus, Sanlam, in Afrikaans in Afrikaanse media adverteer maar sy nuwe skemas dra engelse name nie.

Ek wil niks weet van die soort banke wat volbladadvertensies in Afrikaans in die Afrikaanstalige media uitneem om vir jou te vertel watse wonderlike dienste aangebied word, maar as jy daar in stap dan is daar agter die toonbanke en in die kassierhokkies net volksvreemdes wat nie Afrikaans kan of wil praat nie, die vorms wat aan jou gegee word is alles engels en jy kan maar raas en blaas, as jy weier om die engelse ding te teken word die verlangde diens nie gelewer nie.

Wat het dan gebeur met ons trotse Afrikaner finansiële instellings dat hulle feitlik oornag holus-bolus in Engelse hande verval het en ons taal liederlik in sy peetjie gestuur het? Het ons dan al die jare mense aan die stuur van maatskappye soos Absa en Sanlam gehad wat nie werklik trotse Afrikaners was nie en by die eerste die beste geleentheid by die vyand aangesluit het, maar steeds ons ondersteuning en ons geld soek?

Dink hulle dalk ons is so onnosel om gevang te word met die Afrikaanse advertensies, maar nie kan sien wat in werklikheid in die besigheid aangaan nie? Besef hulle nie hoe vinnig die wrewel oor die miskenning van ons taal en ons verlede in ons binneste opwel totdat dit soos ‘n surigheid in ons kele vassteek nie? Kan hulle nie die minagting in ons houding sien nie as ons by ‘n eertydse Afrikanerbank se reste instap wat nou deur ‘n anti-apartheid, anti-Afrikaner Britse bank beheer word met ‘n uitgesproke ANC-kommunis as voorsitster van die direksie? En ergste van alles is die vorige voorsitter, Afrikaans uit huis uit, spog openlik dat hy haar persoonlik uitgekies het om hom op te volg! Sou hy dalk ‘n afstammeling wees van die Cronje van Paardeberg of loop die oorgee-gene dan wyd in daardie familie?

My verbintenis met die huidige ABSA begin in die middel vyftigerjare toe ek met my eerste salaristjek ’n rekening by Volkskas gaan oopmaak het. ’n Klompie jare later het ek na Trust Bank oorgegaan, hoofsaaklik omdat hulle stukke beter diens gelewer het as die ou garde soos bankure wat van agt tot vyf geloop het! Daar was ek al die jare en daar is ek nou steeds by hulle onder die ABSA-naam. Maar ek vermoed nie meer vir lank nie, want ek is nou behoorlik dik vir hulle vertrapping van Afrikaans.

Stap nou die dag by die Sinoville-tak van die bank in. By navrae sit daar net twee mense wat die publiek bedien -- een ‘n anderskleurige volksvreemde vrou. Soos dinge nou maar uitwerk, is sy die een wat beskikbaar is toe my beurt aanbreek. Ek groet in Afrikaans. Sy groet in engels. Ek sê vir haar ek het ‘n probleem met ‘n debietorder. Sy antwoord in engels. Ek beduie ewe rustig en ewe vriendelik vir haar dat ek nie engels praat nie. Sy sê ek kan maar Afrikaans praat, maar sy praat net engels. Ek het lus en gooi haar met haar eie rekenaar, maar ek bedink my want ek is verleë en moet die ellendige ding gestop kry of dit kos my geld. Ek beduie wat my probleem is, maar dit lyk of sy die Afrikaans ook nie mooi verstaan nie. Na ‘n gesukkel verstaan sy darem wat ek wil hê en druk toe ‘n vorm uit wat ek moet teken -- als in engels! Ek weier om die engelse ding te teken. Sy verdwyn na agter en kom ‘n ruk later terug met die mededeling dat ek nie hoef te teken nie. Ek stap daar na agter en kry ’n man daar sit. Ek beduie dat ek beswaar maak dat ek nie in my taal bedien kan word nie. Bra ongeskik, maar darem in ’n Afrikaner-afrikaans beduie hy dat ek voor in die bank ’n vorm kan invul. Dit lyk my hulle kry deesdae meer sulke klagtes want hulle het sommer ’n pak vorms beskikbaar! ‘n Vrou wat agter my in die ry was, stap kort daarna in ‘n winkel na my toe en sê dat sy besig is om haar rekening na baie jare te sluit want sy is siek en sat vir die minagting van haar taal.

‘n Maand later moet ek deur dieselfde oefening gaan. Die keer beduie ek vir die ou agter my dat hy maar kan voorloop as die volksvreemde engelse prater eerste beskikbaar word. Nee dankie, sê hy, hy weier om hulle engels te aanvaar. Gelukkig vir my is die wit, Afrikaanssprekende meisie eerste beskikbaar. Alles loop vlot in Afrikaans - totdat die vorm kom wat weer net in Engels is. Ek maak beswaar. Sy beduie dat dit glo al is wat hulle het op die rekenaar en ek kan sien sy is skaam. Ek teken maar die ding - weer ter wille van die geld - maar skryf in groot letters oor dit dat ek beswaar maak en aandring op Afrikaans. Ek kan sy sien sy geniet dit! Ek sal die einde van die maand dalk weer deur die proses moet gaan, maar hierdie keer gaan ek met vorm en al by die bestuurder instap en hel opskop. Ek hoop net hy praat Afrikaans!

Ek sal graag gou van bank wil verander, maar nou het ek ‘n yslike probleem! Daar is blykbaar net nie meer ‘n bank wat my in alle opsigte in Afrikaans kan bedien nie.

Die een voordeel wat ek wel nog by ABSA het, is dat ek ‘n Afrikaanse opsie het met my internetbank. Die webwerf maak weliswaar oop in engels, maar dan is daar ‘n knoppie vir Afrikaans en daarna kan ek al my transaksies in Afrikaans doen. Maar waag dit net om af te teken, dan gooi hy terug na die bank se tuisblad - en daar is geen opsies vir Afrikaans nie. As jy inligting soek oor rentekoerse en beleggings, ens. doen jy dit in engels - en basta!

Diegene wat so lekker in Afrikaans op die Internet hul banksake doen, kan gerus elke keer net so ‘n woordjie van dank in my - en ‘n paar ander onbekendes - se rigting prewel. Ons het so ‘n paar jaar gelede - kort voor Barclays oorgevat het - ‘n yslike bakleiery met ABSA op tou gesit - hoofsaaklik deur middel van een van hulle skakelmanne. Ons het eenvoudig geweier om te aanvaar dat die internet engels is en daar nie in Afrikaans ‘n diens gelewer kan word nie. Hulle het ons vertel dat die man in beheer van die internetdiens weet te vertel dat dit hulle baie geld gaan kos. Ons - want ek weet nie wie die ander manne is nie, daar is net genoem dat andere ook soos ek sterk beswaar maak -- het uiteindelik ons sin gekry, veral toe daar gedreig word dat ons dit sal openbaar maak dat die man in beheer wat so weier om ‘n Afrikaanse diens te lewer toe al die tyd nie net ‘n volksvreemde nie, maar ‘n “landsvreemde” is wat Hindi eintlik as sy eerste taal beskou! Ek wonder of hy nog daar is?

Ek het nou begin om bank vir bank deur te werk en te kyk of ek in my taal bedien kan word. Van my vriende lag vir my. Hulle sê ek mors my tyd. Ek is bevrees hulle is dalk reg want sommer met die eerste probeerslag - by Nedbank - loop ek my vas in engelse ontvangs en engelse vorms. Ek het my geld gevat en geloop voordat ons by die Internetbank se taal uitgekom het!

Ek het ook voelers uitgesteek na sekere instansies wat beslis die vermoë het om ‘n bank te begin of die een wat hulle reeds het te omskep in ‘n Afrikanerbank. Die reaksie was uiters teleurstellend. My een bron wat net so sterk oor die saak voel, sê reguit dat die “Afrikaners” wat sy instansie beheer en ook ‘n bank het, hoegenaamd nie belangstel om dit Afrikaans te maak nie. Hy is seker reg want hulle webblad is alles engels!. Kan dit waar wees dat al ons voorste sakemanne wat hoofsaaklik met Afrikanersteun gekom het waar hulle is, hulle agterente op ons gedraai het?

Daar is egter ‘n ander oplossing, naamlik gemeenskapbanke. Dit is klein, lae-kapitaal instansies wat vir ‘n spesifieke gemeenskap gestig kan word. Daar is ‘n baie florerende een by Kleinfontein en dit is een van die doeleindes om verder daar te gaan kers opsteek.

Maar eintlik soek ek na ‘n hedendaagse Jan S Marais wat weer die waagmoed en die durf, maar veral die vermoë en die Afrikanerwil het om ‘n bank te begin wat in die eerste plek diens aan Afrikaners sal gee. Hy (of dalk selfs sy) moet seker tog daar buite wees. Ons moet miskien net ‘n bietjie soek of ‘n bietjie aanpor.

As u weet van ‘n sterk kandidaat, stuur die naam vertroulik na die e-posadres hier aangegee. Ons sal gou iets moet doen, want dit word al hoe duurder om ‘n bank te begin.