8.12.07

BY WIL NIE KRITIESE BRIEWE PLAAS NIE

Onderstaande brief is verlede week aan By gestuur in reaksie op Christi van der Westhuizen se Afrikanerhaatartikel in By van 1 Desember. Dit is nie gebruik nie - net soos Dan Roodt se goeddeurdagte brief ook nie gebruik is nie. (Sien sy artikel daaroor op die Praag-forum by http://www.praag.org ). By het wel twee briewe in reaksie op CvdW se artikel geplaas - albei sulke ou flou menings wat basies die standpunt huldig dat wat sy en andere soos Goosen geskryf het, dalk reg en waar is, maar darem bietjie kras gestel is. Ag foei!


AAN BY
BRIEF VIR PLASING.


Die Afrikaner is met die magsoorgawe aan die ANC-regime in 1994 ‘n yslike en dalk dodelike wond toegedien. Met die daaglikse aanslag op sy taal en sy leefwyse, die groot getalle van sy kundige jongmense wat uit die land padgee en die snelle verarming van sy eens welvarende middelklas, word hierdie wond net verder vergroot en dit is te betwyfel of die Afrikanervolk ooit weer daarvan sal kan herstel.

Maar dit is blykbaar nie goed en vinnig genoeg vir juis diegene wat voor en met 1994 so aandadig was aan die Afrikanervolk se omverwerping en ondergang nie. Nee, hy moet in die grond geboor en vergruis word en as daar net die geringste teken is dat Afrikaners begin opstaan en hul stemme verhef - soos met die Maas-affêre - moet hulle met mening op hulle plek gesit word.

Dan word die hulp ingeroep van mense soos Engelse boekskryfster Christi van der Westhuizen, “Butch” Goosen, “Evita” Uys, Frits (moffiepa) Gaum, Pik Rooiwyn en selfs Braambos Boesak* om hierdie klomp verkramptes ‘n paar taai oorveë te gee en hulle bekke vir hulle toe te klap - of so dink die persbase.

CvdW is om een of ander rede steeds so bitter daaroor dat die Afrikaner nog gesien en gehoor word, dat sy ‘n boek oor die kwessie geskryf het - in Engels nogal! Ek en my vriende het nie die boek gekoop nie want ons het nie meer lus om uitgeskel te word nie en beslis nie in daardie taal nie. Maar nou moet ons, teen wil en dank, sien dat sy deur Naspers se BY bygesleep word om te help walgooi teen die klomp verkrampte Christene wat Maas so op sy plek gesit het. En Goosen wat in haar “letterkunde” steeds so ‘n vulgêre en vieslike ou lesbie is as wat sy was toe ons jaarre gelede saam in ’n Pretoriase koerantkantoor gewerk het, dink sy kan hierdie klomp Afrikaners reg skel deur hulle as ‘n gevaarlike spesie te verklaar.

Net eers ‘n punt of twee: By en sy medewerkers maak ‘n groot fout as hulle dink dit was net fundamentalistiese Christene wat Maas se dinges vir hom geskop het. Daar is ‘n hele paar van ons wat nie eens naastenby in genoemde kader val nie, wat net so lustig aan die anti-Maas ding deelgeneem het. Gaan kyk gerus op die Praag-forum waar sommige van hierdie Afrikaner-vrydenkers hul menings gelug het.

En die Maasding was nie ‘n aantasting van vryheid van spraak of ‘n aanslag op persvryheid nie. Inteendeel, dit was juis ‘n spontane uitbarsting van die vryheid om jou mening te lug en te bevorder met behulp van die nuwe e-pos- en kortboodskapwapens wat die elektronika vir ons gebring het. En dit het selfs teen die magtige Rapport gewen!

In haar artikel in verlede Saterdag se BY, maak CvdW ‘n hele spul uiters aanvegbare stellings wat helaas te veel tyd en plek sal opneem om gelys en aangevat te word. Maar seker die ergste is in die laaste paragrawe waarin sy aanvoer dat apartheid ‘n geslote stelsel vir selfverwesenliking was, en Afrikaners nou die moed moet hê om in die huidige bestel ‘n “volwaardige nuwe Suid-Afrikanerskap uit te kerf”.

Wat sy - en andere wat soos sy dink en min of meer dieselfde goed kwytraak - eintlik bepleit is dat die Afrikaner sy “volkskap” vernietig, omvorm, afsweer en verloën en in ’n nuwe “volkskap” opgaan. Andere - blykbaar selfs ‘n nugterdenkende soos Herman Giliomee - bepleit assimilasie met die Bruinmense om ‘n nuwe “gemeenskap” te vorm.

Die eerste vraag wat opduik is hoekom moet ons met die Kleurlinge saamsmelt in ‘n nuwe volk of groep? Dit gaan nie ‘n jota se verskil maak aan die swart getalle-oorwig en die stelselmatige onderdrukking en uitwissing van sowel die Afrikaner as die bruinmense nie. Dit gaan nie die Afrikanervolk in enige opsig “versterk” nie want die ander mense het bitter min om in te bring. Vir die Kleurlinge sal samesmelting met die wit Afrikaner net meer afwysing en selfs onderdrukking deur die swart meerderheid bring. En dit gaan bitter min beteken vir die oorlewing van Afrikaans want, soos Richard van der Ross in die week laat blyk het, is Afrikaans nie juis ’n saak van groot belang vir bruinmense nie.

Maar hoekom probeer CvdW en haar trawante so hard om die Afrikanervolk wat hulle gehelp het om so dodelik te wond, steeds te verguis en te vergruis? Is dit frustrasie omdat hulle volksverraad nie na hulle wense deur die nuwe regeerders erken en beloon is nie? Is dit woede omdat daar steeds ‘n beduidende getal Afrikaners - Christene en andere - is wat hulle toenemend teen hierdie aftakeling verset?

Want neem asseblief nou kennis: Ek en my vriende - onder wie daar ‘n goeie klompie doodgewone, alledaagse kerkgangers, en helaas ook enkele fundamentaliste wat sweer die aarde is 6000 jaar gelede geskep, maar ook ‘n paar oopkop andersdenkendes is - beskou onsself as Afrikaners, ons is trots op die naam en trots op ons volk se geskiedenis, sy kultuur en sy verlede - ja, apartheid soos ons dit verstaan het, inkluis.

Ons stel nie belang in assimilasie met enige ander groep of gemeenskap nie, al is ons bereid om met ander trotse groepe saam te werk. Ons ervaar dit dat bereidwilligheid om “op te gaan” in wat ons gedink het ‘n nie-rassige nuwe RSA gaan wees, gesien word as gewilligheid om ons taal, ons waardes en ons leefwyse oorboord te gooi en te laat verdwyn. Ons word nou net mooi dik vir die media en hulle medewerkers wat voortdurend op ons skel of preke vir ons afsteek oor hoe ons moet wees en wat ons moet word.

‘n Hele klompie van ons het juis die afgelope tyd probeer om veral ten opsigte van godsdienstige oortuigings ‘n “oper” benadering by Afrikaners te vestig en die meer fundamentalistiese sienings van die Israel Visie, die Wegrapingaanhangers en verwantes teen te werk. Dit het net begin lyk of ons bietjie vorder, toe kom die Maasding en die daaropvolgende artikels en menings waarna verwys is en laat mense verhard en hulle rûe styftrek teen enigiets wat vir hulle lyk soos aantasting van hulle geloof en hul volkskap.

Hierdie uitskeltaktiek gaan nie werk nie. Dit gaan houdings net laat verhard en nog meer fundamentalisties word. Probeer eerder meer medewerkers met die nugterheid van Rossouw kry as die spul uitgebaktes wat nou gebruik word.

* Hy dink blykbaar dis die stem van die Here wat uit hom kom!

Thys Human
Pretoria