22.10.07

COENIE GEE VINNIG PAD BY DIE ATKV

Wat gaan aan by die ATKV? Is die monolitiese, geslote granietblok wat die topbestuur die afgelope jare sorgvuldig geskep het, besig om die een kraak na die ander te kry? En waar gaan dit eindig - ‘n Afrikaner-organisasie wat weer terugkeer na sy wortels of een wat totaal en al in die hande van Afrikanerhaters en volksvreemdes verval?

Die rede vir hierdie yslike vraagteken oor die toekoms van die ATKV is die skielike en hoogs omstrede einde van Coenie de Villiers as Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die organisasie nadat hy net ’n jaar gelede in die pos aangestel is in die plek van Frits Kok wat net so skielik padgegee het.

Met die skrywe hiervan was daar nog nie berigte in die media wat ek gesien het oor Coenie se vertrek nie. Ek het dit Donderdag, 18 Oktober, op die ATKV se webwerf gesien in ’n mediaverklaring wat dieselfde dag vrygestel is. Miskien is dit vir sommiges wat hier lees ook nuus, maar dit staan daar op wit en swart.

Volgens die verklaring is hy nie afgedank nie en het glo ook nie bedank - hy word net in ’n ander hoedanigheid aangewend nadat hy ’n hoë pos by ’n advertensie- en reklame-agentskap in Johannesburg aanvaar het. Hy is nou kultuurkonsultant van die ATKV - maar klaarblyklik net in ‘n deeltydse hoedanigheid.

Nou kan hulle maar met woorde en begrippe speel soos hulle wil, maar in my boek beteken dit hy is nie meer in die top kultuurpos by die ATKV nie, die konsultantstorie is waarskynlik ‘n tydelike een en oor wat presies agter die skerms gebeur het kan ons net raai - totdat dit dalk uitlek.

Maar ek is bereid om ‘n rand of twee te verwed dat onse Coenie en die topbestuur - in besonder die dagbestuur en dalk die hele direksie - mekaar nie kon vind nie. Ons sal maar vir die huidige moet wag vir ‘n duidelike antwoord op die ou vraag: Het hy gespring of is hy gestamp?

Daar kan goeie redes vir enigeen van die twee wees. Aan die een kant dink ek onse Coenie is ‘n man wat daarvan hou om in beheer te wees, die toon aan te gee, die top man te wees. Maar daar sit mense soos Johan van Schoor (voorsitter) en prof. Hans du Plessis(onder-voorsitter) en enkele ander in die direksie wat self sterk idees het oor die ATKV se taak en toekoms en hulle plek daarin. Dit is vir my baie duidelik uit ‘n hele reeks gebeure van die afgelope paar jare dat hulle nie daarvan hou om voorgeskryf te word nie en nog op die agtergrond geskuif te word deur enige vrypostige twak wat op die toneel verskyn nie.

Ek vermoed - want dit kan niks meer as ‘n vermoede wees in hierdie stadium nie - dat daar erge spanning tussen Coenie en sekere mense ingetree het wat ’n punt bereik het waar dinge óf vir Coenie óf vir ander top mense nie aanvaarbaar was nie.

Met sy aanstelling was daar by sommiges - soos ek - bedenkinge oor wat gaan gebeur, maar uiteraard is hy kans gegee om hom in die nuwe pos in te grawe. Daar was mense wat met belangstelling gekyk het hoe hy op sy eerste kongres gaan vaar, maar by gebrek aan berigte wil dit voorkom of daar nie ernstige probleme was nie. Coenie was een van diegene wat hard probeer het om bewerings dat ATKV-lede maar lekker verkramp was deur nie ’n kleurling as lid van die direksie te kies nie, die nek in te slaan met verduidelikings dat hulle maar net hulle demokratiese regte uitgeoefen het.

Maar kort na die kongres was daar die klaaglike mislukking van die groot konsert wat in Johannesburg se middestad gereël is om anderskleuriges aan Afrikaanse musiek bloot te stel. Daar het glo net ‘n handjievol mense daar opgedaag. Nie eens wittes nie, want watter witte by sy volle verstand sal dit in Newtown waag sonder swaargewapende begeleiding! , Swak oordeel, swak beplanning, powere politiek en uiters gebrekkige insig!

Dit was, sover dit ons buitestaanders betref, Coenie se eerste groot poging om een of ander skouspel aan te bied. Het die feit dat dit misluk het dalk iets te doen met sy skielike vertrek uit die kultuurpos? Net ‘n paar mense weet - en hulle praat nog nie.

Maar die nuus en veral die wyse waarop dit bekend gemaak is, is vir my nogal tiperend van wat die afgelope paar jaar in die ATKV aangaan.

Ek het heel aan die begin na die ATKV verwys as ‘n “monolitiese, geslote” organisasie. En dit is hoe ek dit die afgelope drie jaar ervaar het toe ek my sterk teenkanting met sekere optredes te kenne gegee het - soos die toekenning van ‘n erepenning aan die ANC-terroris Beyers Naude kort voor sy dood. Daar was ook ander gebeure wat ek nog volledig hier uiteen sal sit.

Nie alleen is my briewe aan Die Taalgenoot nie gepubliseer nie, maar ander optredes om die ATKV van sy skewe koers te laat afsien, is soms met siedende woede doodgesmoor en verswyg. Die gewone ATKV-lid het tot hedendag nie gehoor dat die direksie vir Kok en die vorige redakteur van Die Taalgenoot oor die vingers getik het ná die verskyning van ’n foto van ’n bruin model wat ewe wulps op die Sarkofaag in die Voortrekkermonument uitgestrek gelê het nie - om maar net een ding nou te noem waarna ek vollediger sal verwys.

In daardie tyd is feite verswyg en verdraai en soms selfs openlik gelieg. En nou met Coenie se vertrek, kry ek die indruk dat dinge alweer nie lekker is nie. Daar word voorgegee dat hy net “verskuif” is na ‘n “konsultantpos”. Nou kan dit waar wees dat hy vir ‘n ruk nog bietjie gekonsulteer gaan word en dalk het die reklamemaatskappy waar hy nou gaan werk, selfs ‘n kontrak met die ATKV, maar om te maak asof hy nog NOU aan die organisasie verbonde gaan wees, is mos twak en vals.

Ek was juis besig om aan die artikel wat ek nou al ‘n hele klompie weke hier belowe, te werk, toe ek op die ATKV se webblad op die aankondiging afkom. Die artikel het ek weens veranderende omstandighede - waaronder probleme aan my kant met breëband-verbindings vir my rekenaar - al drie of vier keer herskryf en nou moet ek dit weer doen. Maar ek kla nie. Dit word interessant.

In die weergawe waaraan ek toe besig was, wou ek juis voorspel dat ek onse Coenie net ’n jaar of twee se verblyf by die ATKV gee voordat hy “spring” of “uitgeskop” word. Dit was op daardie oomblik dat ek besluit het om op die webblad te gaan kyk wat hy in sy verslag voor die kongres kwytgeraak het en toe op die aankondiging afkom oor sy “verskuiwing”. Daar stuur hulle my ou voorspellingkie sommer gou in sy maai - maar darem in die regte rigting!

Voorlopig genoeg oor die ATKV. Kom ons kyk wat spring agter die bos uit!

27.8.07

GESOEK: 'N NUWE JAN S. MARAIS

Is daar nie êrens in ons land ‘n nuwe Jan S Marais wat vir ons ‘n eie Afrikanerbank kan gee nie? En sommer ook weer ons eie Afrikaner versekeringsmaatskappy waar ons en ons taal welkom is.

Ek pleit vir ‘n bank wat uit huis uit Afrikaans is soos Volkskas was en soos Trustbank ‘n ten volle tweetalige, maar in die eersteplek Afrkaanse diens gelewer het.

Ek pleit vir ’n versekeringsmaatskappy wat sy nuwe produkte Afrikaanse name gee en nie soos die eertydse Afrikaanse reus, Sanlam, in Afrikaans in Afrikaanse media adverteer maar sy nuwe skemas dra engelse name nie.

Ek wil niks weet van die soort banke wat volbladadvertensies in Afrikaans in die Afrikaanstalige media uitneem om vir jou te vertel watse wonderlike dienste aangebied word, maar as jy daar in stap dan is daar agter die toonbanke en in die kassierhokkies net volksvreemdes wat nie Afrikaans kan of wil praat nie, die vorms wat aan jou gegee word is alles engels en jy kan maar raas en blaas, as jy weier om die engelse ding te teken word die verlangde diens nie gelewer nie.

Wat het dan gebeur met ons trotse Afrikaner finansiële instellings dat hulle feitlik oornag holus-bolus in Engelse hande verval het en ons taal liederlik in sy peetjie gestuur het? Het ons dan al die jare mense aan die stuur van maatskappye soos Absa en Sanlam gehad wat nie werklik trotse Afrikaners was nie en by die eerste die beste geleentheid by die vyand aangesluit het, maar steeds ons ondersteuning en ons geld soek?

Dink hulle dalk ons is so onnosel om gevang te word met die Afrikaanse advertensies, maar nie kan sien wat in werklikheid in die besigheid aangaan nie? Besef hulle nie hoe vinnig die wrewel oor die miskenning van ons taal en ons verlede in ons binneste opwel totdat dit soos ‘n surigheid in ons kele vassteek nie? Kan hulle nie die minagting in ons houding sien nie as ons by ‘n eertydse Afrikanerbank se reste instap wat nou deur ‘n anti-apartheid, anti-Afrikaner Britse bank beheer word met ‘n uitgesproke ANC-kommunis as voorsitster van die direksie? En ergste van alles is die vorige voorsitter, Afrikaans uit huis uit, spog openlik dat hy haar persoonlik uitgekies het om hom op te volg! Sou hy dalk ‘n afstammeling wees van die Cronje van Paardeberg of loop die oorgee-gene dan wyd in daardie familie?

My verbintenis met die huidige ABSA begin in die middel vyftigerjare toe ek met my eerste salaristjek ’n rekening by Volkskas gaan oopmaak het. ’n Klompie jare later het ek na Trust Bank oorgegaan, hoofsaaklik omdat hulle stukke beter diens gelewer het as die ou garde soos bankure wat van agt tot vyf geloop het! Daar was ek al die jare en daar is ek nou steeds by hulle onder die ABSA-naam. Maar ek vermoed nie meer vir lank nie, want ek is nou behoorlik dik vir hulle vertrapping van Afrikaans.

Stap nou die dag by die Sinoville-tak van die bank in. By navrae sit daar net twee mense wat die publiek bedien -- een ‘n anderskleurige volksvreemde vrou. Soos dinge nou maar uitwerk, is sy die een wat beskikbaar is toe my beurt aanbreek. Ek groet in Afrikaans. Sy groet in engels. Ek sê vir haar ek het ‘n probleem met ‘n debietorder. Sy antwoord in engels. Ek beduie ewe rustig en ewe vriendelik vir haar dat ek nie engels praat nie. Sy sê ek kan maar Afrikaans praat, maar sy praat net engels. Ek het lus en gooi haar met haar eie rekenaar, maar ek bedink my want ek is verleë en moet die ellendige ding gestop kry of dit kos my geld. Ek beduie wat my probleem is, maar dit lyk of sy die Afrikaans ook nie mooi verstaan nie. Na ‘n gesukkel verstaan sy darem wat ek wil hê en druk toe ‘n vorm uit wat ek moet teken -- als in engels! Ek weier om die engelse ding te teken. Sy verdwyn na agter en kom ‘n ruk later terug met die mededeling dat ek nie hoef te teken nie. Ek stap daar na agter en kry ’n man daar sit. Ek beduie dat ek beswaar maak dat ek nie in my taal bedien kan word nie. Bra ongeskik, maar darem in ’n Afrikaner-afrikaans beduie hy dat ek voor in die bank ’n vorm kan invul. Dit lyk my hulle kry deesdae meer sulke klagtes want hulle het sommer ’n pak vorms beskikbaar! ‘n Vrou wat agter my in die ry was, stap kort daarna in ‘n winkel na my toe en sê dat sy besig is om haar rekening na baie jare te sluit want sy is siek en sat vir die minagting van haar taal.

‘n Maand later moet ek deur dieselfde oefening gaan. Die keer beduie ek vir die ou agter my dat hy maar kan voorloop as die volksvreemde engelse prater eerste beskikbaar word. Nee dankie, sê hy, hy weier om hulle engels te aanvaar. Gelukkig vir my is die wit, Afrikaanssprekende meisie eerste beskikbaar. Alles loop vlot in Afrikaans - totdat die vorm kom wat weer net in Engels is. Ek maak beswaar. Sy beduie dat dit glo al is wat hulle het op die rekenaar en ek kan sien sy is skaam. Ek teken maar die ding - weer ter wille van die geld - maar skryf in groot letters oor dit dat ek beswaar maak en aandring op Afrikaans. Ek kan sy sien sy geniet dit! Ek sal die einde van die maand dalk weer deur die proses moet gaan, maar hierdie keer gaan ek met vorm en al by die bestuurder instap en hel opskop. Ek hoop net hy praat Afrikaans!

Ek sal graag gou van bank wil verander, maar nou het ek ‘n yslike probleem! Daar is blykbaar net nie meer ‘n bank wat my in alle opsigte in Afrikaans kan bedien nie.

Die een voordeel wat ek wel nog by ABSA het, is dat ek ‘n Afrikaanse opsie het met my internetbank. Die webwerf maak weliswaar oop in engels, maar dan is daar ‘n knoppie vir Afrikaans en daarna kan ek al my transaksies in Afrikaans doen. Maar waag dit net om af te teken, dan gooi hy terug na die bank se tuisblad - en daar is geen opsies vir Afrikaans nie. As jy inligting soek oor rentekoerse en beleggings, ens. doen jy dit in engels - en basta!

Diegene wat so lekker in Afrikaans op die Internet hul banksake doen, kan gerus elke keer net so ‘n woordjie van dank in my - en ‘n paar ander onbekendes - se rigting prewel. Ons het so ‘n paar jaar gelede - kort voor Barclays oorgevat het - ‘n yslike bakleiery met ABSA op tou gesit - hoofsaaklik deur middel van een van hulle skakelmanne. Ons het eenvoudig geweier om te aanvaar dat die internet engels is en daar nie in Afrikaans ‘n diens gelewer kan word nie. Hulle het ons vertel dat die man in beheer van die internetdiens weet te vertel dat dit hulle baie geld gaan kos. Ons - want ek weet nie wie die ander manne is nie, daar is net genoem dat andere ook soos ek sterk beswaar maak -- het uiteindelik ons sin gekry, veral toe daar gedreig word dat ons dit sal openbaar maak dat die man in beheer wat so weier om ‘n Afrikaanse diens te lewer toe al die tyd nie net ‘n volksvreemde nie, maar ‘n “landsvreemde” is wat Hindi eintlik as sy eerste taal beskou! Ek wonder of hy nog daar is?

Ek het nou begin om bank vir bank deur te werk en te kyk of ek in my taal bedien kan word. Van my vriende lag vir my. Hulle sê ek mors my tyd. Ek is bevrees hulle is dalk reg want sommer met die eerste probeerslag - by Nedbank - loop ek my vas in engelse ontvangs en engelse vorms. Ek het my geld gevat en geloop voordat ons by die Internetbank se taal uitgekom het!

Ek het ook voelers uitgesteek na sekere instansies wat beslis die vermoë het om ‘n bank te begin of die een wat hulle reeds het te omskep in ‘n Afrikanerbank. Die reaksie was uiters teleurstellend. My een bron wat net so sterk oor die saak voel, sê reguit dat die “Afrikaners” wat sy instansie beheer en ook ‘n bank het, hoegenaamd nie belangstel om dit Afrikaans te maak nie. Hy is seker reg want hulle webblad is alles engels!. Kan dit waar wees dat al ons voorste sakemanne wat hoofsaaklik met Afrikanersteun gekom het waar hulle is, hulle agterente op ons gedraai het?

Daar is egter ‘n ander oplossing, naamlik gemeenskapbanke. Dit is klein, lae-kapitaal instansies wat vir ‘n spesifieke gemeenskap gestig kan word. Daar is ‘n baie florerende een by Kleinfontein en dit is een van die doeleindes om verder daar te gaan kers opsteek.

Maar eintlik soek ek na ‘n hedendaagse Jan S Marais wat weer die waagmoed en die durf, maar veral die vermoë en die Afrikanerwil het om ‘n bank te begin wat in die eerste plek diens aan Afrikaners sal gee. Hy (of dalk selfs sy) moet seker tog daar buite wees. Ons moet miskien net ‘n bietjie soek of ‘n bietjie aanpor.

As u weet van ‘n sterk kandidaat, stuur die naam vertroulik na die e-posadres hier aangegee. Ons sal gou iets moet doen, want dit word al hoe duurder om ‘n bank te begin.

22.7.07

AFRIKANERSKAP MOET OOK INKLUSIEF WEES

Uit die vorige aflewering waarin oor eksklusiwiteit gepraat is, sal dit vir enigeen baie duidelik wees dat ek met die woord “inklusiwiteit” iets heel anders in gedagte het as diegene wat die woord gebruik om te bepleit dat sg. “bruin Afrikaners” of dalk selfs ander volksvreemdes ook as Afrikaners beskou moet word.

Wat ek daarmee bedoel is dat ons mense wat hulself as Afrikaners beskou, maar nie alle oortuigings en benaderings van die breë stroom Afrikaners steun of onderskryf nie, nie moet uitsluit of verwerp as lede van die Afrikanervolk nie. Ons gaan almal nodig hê wat enigsins as Afrikaner beskou kan word om as volk te oorleef.

Daar het die afgelope klompie jaar - veral sedert 1994, en dalk al daar in die vroeë tagtigerjare toe Afrikaners begin padgee het van die Nasionale Party onder veral PW Botha, maar selfs voor dit onder John Vorster - ’n neiging ontstaan om daardie Afrikaners wat in die NP gebly het, af te skryf, selfs uit te sluit as Afrikaners.

Daar word maklik - gans te maklik - na mense wat in die 1992-referendum JA gestem het, verwys as verraaiers of “joiners”. Hierdie woorde en verwyte word natuurlik veral geslinger in die rigting van die leiersfigure van daardie tyd, maar tog ook teenoor die gewone volglinge.

Nou moet ek erken dat ek met die beste wil ter wêreld nie vir Pik en Kortbroek en ook Roelf Meyer en trawante meer as Afrikaners kan bestempel nie. Gelukkig wil sommige van hulle ook nie meer so ge-etikeer word nie.

Maar daar is andere - veral jou doodgewone Afrikaner wat liederlik deur leiers van daardie tyd mislei is - wat ons nie moet afskryf nie. Daar is baie mense wat nie die verskil tussen Afrikaner en Afrikaanses mooi verstaan nie omdat die Afrikaanse media dit nie mooi verduidelik nie en eintlik met blatante misleiding besig is. Een of ander tyd sal hierdie mense by een of ander kant van die stroom wat hulle nou meesleur moet uitklim en kant kies. Van hulle gaan verkeerd kies en gaan vir ons verlore wees, maar ek glo ’n beduidende getal sal reg kies en van hulle kan dalk nog meer “fanaties” Afrikaner word as hulle eers agterkom hoe hulle mislei en belieg word.

So word daar deur sommiges wat hulself as “ware” Afrikaners beskou, dikwels gesê dat Afrikaners wat lede is van die DA of vir daardie party in verkiesings stem, nie goeie of ware Afrikaners is nie. Daar is natuurlik ook diegene wat na al die jare steeds hardnekkig volhou dat die HNP die enigste ware Afrikanerparty is omdat hy oor jare teen die “liberaliste” in die NP geveg het. Selfs die Vryheidsfront Plus word deur hulle skerp veroordeel.

Maar is dit geldige argumente of gronde om mense uit te sluit as Afrikaners? Natuurlik nie. Daar sit mense in die DA wat net so sterk voel oor hulle Afrikanerskap as andere in die HNP en die VF+. Hulle is egter oortuig dat hulle alleenlik in ’n sterk opposisie ’n beter bestel vir almal wat teen die ANC-regime gekant is, kan beding - en dit sluit vir hulle ook die Afrikaner in. Ek het my bedenkinge of die DA vorentoe ‘n goeie en aanvaarbare tuiste vir sulke Afrikaners gaan bly, veral as hy toenemend na die swart- en kleurlingstem begin vry. Maar hulle sal self tot enige besluite hieroor moet kom.

Daar is ‘n ander “kwalifikasie” wat deesdae nogal dikwels in sekere kringe gebruik word waarteen ek baie pertinent wil waarsku. Dit is die een van godsdiens of geloofsoortuiging.

Volgens hierdie sieninge kan iemand slegs ’n Afrikaner wees as hy ’n lid is van een van die “Afrikaanse” kerke. Dit sluit blykbaar die AGS in, maar die vraag ontstaan onmiddellik wat dan van Baptiste, Sewendedag-Adventiste en verskeie ander wat as “Christelike”, selfs Protestantse gelowe bestempel kan word? Hoekom kan ’n Afrikaner nie een van daardie gelowe aanhang nie?

Verloor iemand wat uit ‘n Protestantse, Afrikanerhuis kom en hom tot die Katolieke geloof gewend het, sy Afrikanerskap? Daar is immers Afrikaanse Katolieke priesters. Dieselfde geld vir Lutherse Afrikaners. Diegene wat ‘n eng godsdienstige kwalifikasie aan Afrikanerskap heg, sal natuurlik heftig reageer as daar gestel word dat ‘n Afrikaner selfs ‘n Boeddhis kan wees en dat daar beslis agnostiese, selfs ateïstiese Afrikaners is. Maar daar is diesulkes.

Dit is ook nodig om te besef dat hierdie “kwalifikasie” van godsdienstigheid nie in die verlede vir Afrikanerskap gegeld het nie. Iemand wys nou die dag op ‘n gespreksforum daarop dat van ons voorste skrywers en digters in die vorige eeu alles behalwe belydende Christene was. Maar hulle werk word vandag nog deur ons gehuldig as deel van ons kultuur, van ons Afrikanerskap. Daar word beweer dat selfs van ons grootste Afrikaner politieke leiers nou nie juis sterk Christelik was nie, maar hulle het dit nie nodig gevind om hulle politiek en Afrikanerskap en hul geloofsoortuigings as botsend te beskou nie.

Een van die argumente wat aangevoer word om sekere godsdienstige (en ook nie-godsdienstige) oortuigings so uit te sluit, is die Gelofte wat by Bloedrivier afgelê is. Iemand wat nie ‘n Christen (en blykbaar ‘n Protestant) is nie, kan nie die Gelofte wat vóór daardie slag afgelê is, in opregtheid nakom en eer nie en kan dus nie ‘n Afrikaner wees nie, word aangevoer. Maar is dit ‘n geldige argument? Kan iemand wat nie die godsdienstige element van Bloedrivier met sy eie oortuiging kan vereenselwig nie, nie die Slag van Bloedrivier as ‘n brandpunt in die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner erken en gedenk nie? Ek dink dit kan, sonder om die geloof en oortuiging van die Voortrekkers te misken.

Natuurlik is dit ‘n feit dat die meeste Afrikaners Christene en kerkvaste mense is. Niemand kan of wil dit ontken nie. Dit beteken egter nog nie dat ALLE Afrikaners gelowiges is of moet wees nie. Alle Duitsers is nie Luthers of katoliek nie. Daar is miljoene Hollanders wat katoliek is - dalk die meeste, maar “Hollandsheid“ van Protestante word nie ontken nie. Nie eens alle lede van die Joodse volk is oortuigde, belydende Jode nie. Daar word dikwels in Joodse kringe gespot dat daar op ‘n Saterdagoggend meer agnostici in ‘n Joodse sinagoge sit as belydende Jode.

En sommer net interessantsheidshalwe: Moet iemand wat in evolusie glo en aanvaar dat die heelal dertien en ‘n half miljard jaar oud is (al glo hy dat God dit so bepaal het) verwerp word as Afrikaner? Daar is mense wat hier rondhol en ons probeer wysmaak dat geen Afrikaner ‘n evolusionis kan wees nie. Dit is hierdie mense wat, sou hulle ooit weer in beheer van ’n eie Afrikanerstaat kom, sal toesien dat moderne wetenskappe soos evolusionêre biologie, paleo-antropologie en selfs geologie en sterrekunde nie in ons skole en universiteite aangebied mag word nie want dit ”bots” met Die Bybel. Hulle sal soos die “religious right” van die VSA Afrikanerkinders die moderne wêreld in stuur wat kreasionisme as wetenskap verkondig. Die hemele behoed!

Daarby is daar een of twee groot probleme wat opduik vir diegene wat aanvoer dat ‘n Afrikaner ook ‘n Christen moet wees. Daar is sekere predikante en teoloë wat dertig, veertig jaar gelede die Afrikanervolk veroordeel en, in die oë van baie, selfs die Afrikanervolk verraai het terwyl hulle hier en ook wêreldwyd as Christene voorgehou is. Ek dink hier veral aan iemand soos Beyers Naude wat vandag nog deur sekere kultuurinstansies as ’n Christen-Afrikaner gehuldig word. Maar hy was ’n ingeskrewe lid van die ANC se terroristevleuel, MK. Hy het openlik Afrikanerseuns aangemoedig om nie vir diensplig aan te meld om teen MK te veg nie, wat so goed was as om diegene wat wel geveg het, se lewens en veiligheid in gevaar te stel. ’n Mens kan maar sê hy het vir die vyand en die moordenaars van ons volk gebid!

Was hy ’n Afrikaner net omdat hy ’n Christen was? Na my mening nee, NEE en nogeens NEE! Hy was miskien in sy vroeë predikantsjare ‘n Afrikaner, maar deur by MK aan te sluit het hy sy Afrikanerskap verloën - in groter mate as wat ongure karakters soos Max en Koos Kombuis dit doen deur as Afrikaners te “bedank”. Dit geld ook vir ‘n hele paar ander van daardie tyd en ook vir sommige wat vandag nog onder die vaandel van Christenskap teen die Afrikaner te velde trek.

En diegene wat so sterk ten gunste van kerkeenheid met gekleurde kerke is - is hulle Afrikaners terwyl hulle die Christen-Afrikaner in ‘n proses van vermenging en verbastering wil insleep op grond van sy godsdienstige oortuigings? Gaan ons diegene wat wel lidmate word van so ‘n verenigde kerk tussen ‘n deel van die NGK en Boesak se kerk nog as Afrikaners beskou? Ek twyfel. Ek hoop waaragtig nie so nie want hulle verloën hulle Afrikanerskap. En moenie vir my vertel dat hulle beter Christene is as die Afrikaners wat nie saam in so ’n verenigde kerk wil gaan nie, soos sommige van die militante voorstanders van kerkeenheid aanvoer. Twak! Dit is ’n gruwelike misbruik van godsdiens om politieke oogmerke te bereik en Afrikaners - Christene en ander - sal dit heftig moet teenstaan.

Uit die voorafgaande kan dit dalk lyk of ek dink dat een of ander tribunaal of so iets gaan bepaal wie Afrikaner is of wie nie. Dis egter nie hoe dinge werk nie. Enigeen wat homself as ‘n Afrikaner sien en deur sy familie, vriende en die breë gemeenskap as deel van hulle aanvaar word, al verskil hulle oor baie dinge soos die godsdiens en die wetenskap, sal deel wees van die Afrikanervolk.

Ek wil sover gaan om te sê dat baie van hierdie “andersdenkendes” die eintlike intellektuele onderbou van die Afrikanervolk is en gaan word. Deur hulle uit te sluit, gaan die Afrikaner word soos die Amish van die VSA - ’n klein, “vreemde” groep mense wat in totale isolasie met die res van die wêreld leef. En so ’n groep kan slegs in ’n werklike demokratiese land soos die VSA met sy verskeidenheid van volkere en groepe voortbestaan en gedy. In Afrika sal so ’n groep dit nie maak nie.

Daar hol reeds sulke isolasioniste rond in die vorm van die Israel Visie. Keer tog dat die Afrikanervolk nie so word nie, maar ‘n byderwetse, moderne en vooruitstrewende volk bly.

So nie, sal hy agteruitgaan en uiteindelik tot niet gaan.

17.7.07

EKSKLUSIWITEIT IS AFRIKANER SE REG

Een van die argumente wat dikwels aangevoer word in besprekings oor die Afrikaner is dat hy “inklusief” moet wees en sy “rassistiese, diskriminerende uitsluiting van sekere groepe” moet laat vaar.

Daar word dan in besonder verwys na die sg. Bruin Afrikaners, of daar word sonder meer aangevoer dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is.

Laasgenoemde stelling is natuurlik ‘n algehele drogredenasie. Net so min as wat almal wat Duits praat Duitsers is of almal wat Engels praat Engelse of Britte is, kan almal wat Afrikaans praat Afrikaners wees.

Daar is immers groepe soos die Griekwas, die Khoi-San en seker ook die Maleiers wat volke in hul eie reg of baie duidelik identifiseerbare afsonderlike groepe is wat nie deel van ‘n ander volk of groepering wens te wees nie - al is hulle uit huis uit Afrikaanssprekend. Van hulle, soos die Khoi-San van die Noordwes Kaap, praat dikwels van die mooiste en suiwerste Afrikaans in die land. Vir hierdie mense moet ons as Afrikaners die hoogste agting, respek en erkening hê. Ons kan die grootste mate van samewerking en eensgesindheid met hulle bewerkstellig om ons gemeenskaplike taal te bevorder en te bewaar, maar ons bly aparte volkere met ‘n eie kultuur en geskiedenis. Dit is nie rassisme of diskriminasie nie - dis doodgewoon gesonde etnisiteit en nasionalisme.

Maar dit impliseer ‘n groot mate van eksklusiwieit - nie net by die Afrikaner nie, maar ook by die Griekwas en Khoi-San. Hulle is ook baie gesteld daarop wie as Griekwa of as Khoi kwalifiseer. EN GOED SO!

Want daar is ‘n groot groep mense, veral in die Wes-Kaap, wat eintlik verkeerdelik met die versamelnaam “Kleurlinge” aangedui word, wat op die oomblik nog ‘n soort dialek van Afrikaans praat (ek noem dit Kaaps) en deur sekere politieke aktiviste as Afrikaners beskou word. Maar hulle is nie Afrikaners nie en beslis ook nie Griekwas of Khoi nie want hulle deel nie hierdie volke se kultuur, hulle geskiedenis en hulle algemene ingesteldheid tot die lewe nie. Daarby is hulle besig om te verengels. Hulle praat al baie jare lank eie kenmerkende mengsel van Afrikaans en Engels, maar ek vrees dit gaan vorente al hoe meer ’n Engelse aansien aanneem, namate hulle glo dit vir hulle aanvaarding by die ANC-regime gaan bring.

Die Afrikanervolk neem ’n standpunt van sterk eksklusiwiteit teen hierdie mense in. Nie omdat ons hulle haat of verafsku of as minderwaardig beskou nie (al word daar deur sommige mense terme gebruik om na hulle te verwys wat nie in goeie geselskap aanvaarbaar is nie). Inteendeel, onder die meeste Afrikaners is daar ‘n deernis en begrip vir hierdie “Kleurlinggroep” en ons het in die verlede hard probeer om hulle so ver te kry om ‘n eie trots in hul kultuur en gebruike aan te kweek wat die boustene vir ‘n eie volkswording kan wees, maar dit het helaas nie oral aanvaarding gevind nie.

Die Afrikaner is ten volle geregtig om eksklusief te wees ten opsigte van hierdie mense, net soos hy onbeskaamd eksklusief is en was ten opsigte van wit Engelssprekendes hier en Duitssprekendes in die ou Suidwes. Ons aanvaar ook nie Portugese en Grieke as Afrikaners nie al beskou ons hulle ook as Suid-Afrikaners.

Daar is niks mee verkeerd om eksklusief te wees op grond van hierdie oorwegings nie.

Maar dit is wel verkeerd om mense uit te sluit van Afrikanerskap op grond van hul partypolitieke of selfs godsdienstige orwegings. Meer daaroor volgende keer.

6.7.07

Afrikaners en Boere

Hierdie inset moes eintlik al twee weke gelede hier verskyn het, maar die deurmekaarspul wat daar heers oor wie en wat ‘n “Boer” is en hoekom dit dan anders is as ‘n “Afrikaner”, is so groot dat daelange soektogte op die internet in daardie tyd nou nog nie vir my duidelikheid gebring het nie.

Wat wel duidelik is, is dat die begrip “boer” liederlik misbruik word om sekere individue se persoonlike agenda’s en doelwitte te bevorder. Die grootste sondaar in hierdie verband is daardie misleide klomp Israel Visie (IV) mense met dr Lets Pretorius aan die voorpunt.

Dit is nie beduidende klomp mense nie. Ek twyfel of hulle totale “volwasse” siele ‘n honderdtal uitmaak, maar hulle gaan so te kere dat hulle klink soos ’n ysike spul. Soos die Afrikaanse spreekwoord dit so raak stel: “Die leegste blikke maak die grootste lawaai”.

Dan loop daar ook nog ‘n paar verdwaalde siele rond wat ook êrens die idee opgetel het en toe maak dit vir hulle so half sin en nou hol hulle ook daarmee rond. Veral hier op Kleinfontein broei ‘n paar mannetjies mekaar blykbaar warm en ek wonder juis of Radio Pretoria se vreemde kommentaar van 2 Julie nie deur een van daardie buksies geskryf is nie.

Sover ek weet is dit RP se neergelegde beleid om te praat van die AfrikanerBoerevolk of die BoereAfrikaner. Dit was dus vreemd om te hoor dat daar in daardie kommentaar slegs van die Boerevolk gepraat word en dit het dan ook verbasing uitgelok in opmerkings op die internet.

My probleem met die gebruik van die twee terme, is dat dit eenvoudig net nie duidelik is wat “Boere” dan nou anders, selfs beter maak as “Afrikaners” nie.

Daar is een siening wat ‘n jaar of drie gelede op die Praag-poslys bespreek is, nl. dat Boere afstammelinge is van mense wat burgers van die twee Boererepublieke was. Dit wil sê diegene wie se ouers en voorouers in die kolonie agtergebly het met die Groot Trek kan nie Boere wees nie, en ook nie eens diegene wie se voorouers deel was van die Groot Trek, maar in Natal agtergebly het.

Dit is nie alleen ‘n kunsmatige verdeling nie, maar so onsinnig dat dit eintlik nie eens verdere aandag verdien nie. Mense het in die 100 jaar sedert die Engelse Oorlog so getrek en geskuif dat dit haas onmoontlik is om vas te stel wie se voorouers waar gewoon het. Die voorstanders van die idee is dan ook in daardie bespreking gelooi.

Op ’n webblad met die naam www.boerevryheid.co.za word daar reguit gesê dat die naam Afrikaner nie vir hulle aanvaarbaar is nie want daar is so baie Afrikaners wat verraaiers en meelopers en slapgatte is. Een van die voorste figure op daardie forum het dan ook ‘n hele “staat” opgestel van wat ‘n “Boer” se hoofeienskappe en kenmerke is. Nogal indrukwekkend, maar ‘n mens kan oral waar daar Boer staan ook Afrikaner insit en dit kan net so waar wees - en dalk net so onwaar vir sekere mense - ook onder die “Boere”. Vrae van verskeie deelnemers aan die forum vir duidelikheid oor wat die verskil is tussen Boer en Afrikaner het sulke “heldere” antwoorde gebring soos: “Jy is ‘n Boer as jy weet jy is ‘n Boer en jou vereenselwig met die Boerevolk”.

Wat die mense op hierdie webblad - waar dr Lets so geprys word - se sieninge ook verdag en eintlik belaglik maak, is hulle diepe geloof dat Siener van Rensburg se “profesieë” besig is om elke dag waar te word en ook hulle verbondenheid met die IV gedagte - dat die Boerevolk eintlik die verlore stam van Israel is en dus die eintlike uitverkore volk is.

Dit is duidelik dat ons ons nie veel aan hierdie klompie lawaaimakers hoef te steur nie. Dis net jammer dat hulle met hul verwronge sieninge gesorg het dat daar ‘n paar goedgelowige mense al vyf jaar lank in die tronk sit as aangeklaagdes in die sg. Boeremag-verhoor. Lets en sy gesuiwerdes moet liefs maar vir hulle diep in die bosveld ‘n plaas koop en ‘n “boerestaat” daar vestig. Oor minder as 50 jaar sal hulle en hul nageslagte die moderne tyd se takhare wees.

Eintlik het ek my tyd gemors om te probeer vasstel hoekom “Boere” dan nou sulke verhewe volksgenote is. Hulle is nie. Die mense wat met hierdie idee rondloop is eintlik bra simpel.

Diegene wat belangstel kan ook gerus gaan kyk na professor Tobie Louw se webblad by http://www.incitatus.co.za . Ek lei af hy is ook n voorstander van die “Boere” benaming, maar ek verneem dat hy hom vinnig van die IV klomp by Boerevryheid gedistansieer het. Hy kan dit gerus net duidelik stel en dan sommer begin afsien van hierdie onnodige verdeling.

Ek het dit reeds in vroeëre insette gestel dat hierdie pogings om onderskeid te tref tussen Boere en gewone Afrikaners, nie alleen onsinnig en totaal ongegrond is nie, maar ook die gevaar inhou van ernstige verdeling. En ons kan dit nie bekostig nie want ons het almal nodig wat enigsins bereid is om hulself Afrikaner te noem. En ons hoef glad nie skaam te wees vir daardie naam nie want die Afrikanervolk het uitmuntend presteer en baie dinge goed en reg gedoen voordat hy deur ’n spul politieke magsugtiges met PW en PIK aan die voorpunt op ‘n totaal verkeerde pad geplaas is.

Die verraaiers en samesmelters is gelukkig op pad weg van ons af en ons gaan nog mense verloor wat hulself meer tuis voel in die kamp van die Afrikaanses of wat nie omgee dat hulle kinders verengels nie. Ons gaan ook nog duisende afstaan aan emigrasie na ander lande waar baie van hulle - maar beslis nie almal nie - hul Afrikanerskap mettertyd gaan verloor.

Ons sal sterk uitsluitend en eksklusief moet wees om te voorkom dat ons vervlak, vermeng, assimileer in ‘n karakterlose, kultuurlose roesemoes wat nooit ooit as ‘n volk bestempel sal kan word nie.

Maar ons sal baie meer inklusief en oop moet wees in ons aanvaarding van mense wat hulself as Afrikaners beskou maar nie die eng, bekrompe siening van wat ’n Afrikaner is, kan aanvaar nie.

Meer daaroor volgende keer.

15.6.07

HOE LYK DIE AFRIKANERS DEESDAE

Enigeen wat dink dat die Afrikaners - dis nou diegene wat hulself nie as “Afrikaanses” beskou nie - ‘n enkele, enersdenkende groep uitmaak, verstaan nie wat deesdae in Afrikanergeledere aangaan nie. Daar is minstens drie, dalk nog een of twee ander “groeperinge” binne Afrikanerdom. Miskien was dit maar altyd so, maar dit het die afgelope klompie jare baie skerp na vore gekom.

Na my mening - want daar is verskillende sieninge hieroor - lyk die groeperinge min of meer so (en met die woord “groeperinge” word nie bedoel dat hierdie mense doelbewus of selfs bewustelik hulself in sulke groepe bevind of indeel nie. Die woord dui slegs op ‘n samevatting van min of meer enersdenkende mense):

Groep 1: Seker die grootste groep Afrikaners is diegene wat hulself as lede van die Afrikanervolksgroep beskou omdat hulle ouers en voorouers Afrikaners was of nog is, maar hulle voel nie so sterk oor die taal en kultuur van die Afrikaner nie, hulle gaan nie uit hul pad om sterk emosies rondom Afrikanerskap op te bou nie en hulle dryf maar so al met die politieke stroom saam wat die land nou kenmerk en wonder net af en toe waar dit hulle heen gaan vat.

O, hulle is baie lief vir Afrikaanse musiek en koop CDs, hulle stuur hul kinders na Afrikaanstalige skole (waar dit kan) en gaan steeds na een van die Afrikaanse kerke. Maar as die kassier in die kettingwinkel met hulle Engels praat, antwoord hulle ewe gedweë in Engels, tensy hulle eerste Engels in die winkels praat want “die mense” verstaan mos nie Afrikaans nie!

En dit kriewel soms hier in die binneste as hulle hoor en lees hoe Afrikaans deur die “bleddie” swart regering geminag en onderdruk word, maar wat, daar is nog elke dag Afrikaanse nuus op TV2, RSG saai in Afrikaans uit, jy kan selfs Afrikaanse kommentaar by die rugby op Supersport kry (dis te sê as jy daardie ingilse mengelmoes “Afrikaans” kan noem) en daar is elke dag nog ‘n Afrikaanse koerant te koop. Vir wat lawaai julle klomp doemprofete en aktiviste so? Moenie worry nie! Afrikaans is “here to stay”, soos “die kinders” sou sê.

En “ons” stem vir die DA want hy het baie “Afrikaners” in die parlement en in stadsrade en hy het nou weer ’n leier gekies wat beter Afrikaans praat as ou Tony en hy gaan dalk een van die dae ‘n verkiesing wen!

Ag, ‘n mens kan nog ‘n ruk so aanhou oor hierdie groot groep wat nie wil hoor of weet dat Afrikaans binne die volgende geslag of so gaan uitsterf behalwe in ‘n paar kolle nie. As iemand sou argumenteer dat hier eintlik twee groepe binne hierdie groepering te bespeur is, nl. diegene wat hoegenaamd nie omgee of Afrikaans oorleef of nie en diegene wat tog ‘n bietjie bekommerd is oor die toekoms, maar nou nie uit hul pad sal gaan om iets aan die saak te doen nie, sal ek nie juis daaroor stry nie.

Dit gaan dus die tweede groep in my indeling wees wat gaan sorg dat Afrikaans oor twee of drie dekades nog oorleef.

Dit is Gr. 2 wat in gesprekke met enersdenkende vriende hulle kommer uitspreek oor die agteruitgang van die taal op so vele gebiede, wat sterk gekant is teen pleknaamveranderings en dus deelneem aan protesoptogte, wat hulle heftig sal verset teen enige kerkvereniging met Boesak en kie wat gaan beteken dat die nuwe kerk Engels as hooftaal het, wat dikwels na Radio Pretoria en verwante radiostasies luister, wat lede word (of bly) van die ATKV, al is dit dikwels oor die lekker afslag by die oorde, maar darem ook omdat die ATKV glo pro-Afrikaans is en “ons so ons deel kan doen”!

Die meeste lede van hierdie groepering stem vir die Vryheidsfront Plus omdat hulle besef dat dit eintlik die enigste Afrikanerparty is, of hulle stem glad nie omdat hulle nie bereid is om aan hierdie politieke klugspel deel te neem nie. Hulle is ook diegene wat Afrikaans praat in winkels en die sakewêreld en hoflik dog ferm aandring om in Afrikaans bedien te word. Dis hulle wat briewe aan die koerante skryf oor Afrikaans en die Afrikaner, wat op Sê Wie? daardie arrogante klein bliksem aanvat en sommer reguit en openlik vir sekeres soos ou Max en kie as “verraaiers” bestempel. Hulle lees ook Beeld en Rapport, maar hul glo nie alles wat die koerante kwytraak nie en vervies hulle vir die pogings om hulle saam met die Kaapsers en andere in dieselfde volkskraal te jaag.

Ook binne hierdie groepering sal ‘n mens wisselende grade van toewyding en ondersteuning van die Afrikaner-gedagte kry.

Sonder ‘n deeglike peiling slegs onder wit Afrikaanssprekendes, is dit moeilik om te bepaal hoe sterk en groot hierdie groepering is. Ek dink egter daar kan met reg vermoed word dat dit nie so groot is soos Gr 1 nie, maar ek begin ook aanduidings sien dat dit ‘n groter wordende groep is.

Die optrede van die ANC-regering teen Afrikaans en Afrikaners op soveel vlakke, die duidelike pogings om die Afrikanervolk as agterlik en ’n klomp apartheidsrassiste uit te kryt en die kommer oor wat van hulle kinders en kleinkinders gaan word, maak dat al hoe meer Afrikaners se bloed begin kook, hulle inwaarts keer na hul eie mense wat ook so voel en, boweal, dit openlik en in die openbaar begin sê en wys - soos die vrou wat my nou die dag in ABSA-bank openlik ondersteun het oor hulle miskenning van Afrikaans. Ek vertel in ’n ander stuk meer hieroor.

Die derde groep is betreklik klein in getalle, maar met aansienlike impak weens hul aktivisme. Dit is die lede van Praag, TABOK, die verenigings vir Volkseie-skole en Volkseie-sport, die manne wat probeer om ‘n tussentydse en later volle Afrikanerraad op die been te bring, die leiers en ampsdraers van die VF+, die mense van Orania, Kleinfontein en sulke groeipunte, ja ook mense in die FAK en selfs in die ATKV, maar ek glo nie in daardie lamsakkige organisasie se bestuursliggaam nie. Dit is manne in Afriforum en Solidariteit, in onderwyser- en ander professionele verenigings soos Regslui vir Afrikaans (as ek die naam mooi reg het). Dit is die mense wat woel en werk vir behoud van Afrikaans aan sekere universiteite en ook in skole, wat doelgerig strewe om hul besighede Afrikaans te hou en probeer om slegs Afrikaners in diens te neem. Dit is individue wat op hul eie manier en dikwels in stilte en agter die skerms werk om die saak van die Afrikanervolk te beskerm en te bevorder.

Dis nie moontlik om almal en al die organisasies se name hier te noem nie en as ek enige instansie uitgelaat het wat glo dat hulle naam in hierdie kader moet verskyn, stuur vir my ‘n e-pos of lewer kommentaar en ek voeg dit by.

DIT is die mense wat Afrikaans en die Afrikanervolk werklik gaan laat oorleef. DIT is die mense wat ons steun en ons hulp nodig het.

Maar as enigeen glo dat hierdie ook ‘n monolitiese, enersdenkende groep is, maak hulle ‘n fout. Want ook binne daardie groep is daar soms onmin en tweespalt, jaloesie en ondergrawery.

En in die afgelope jare het daar ook ’n groep ontstaan wat ’n radikale onderskeiding maak tussen Afrikaner en “Boer”. Dis ’n baie klein groepie mense wat met hierdie verdelende en uiters skadelike idee rondloop en hulle stem nie eens met mekaar saam nie! Maar hulle is helaas daar en volgende keer kyk ons skerper na hierdie verdeling.

En natuurlik moet ons ook nog praat oor “inklusiwiteit” en “eksklusiwiteit” in die Afrikanervolk.

6.6.07

SO LYK DIE AFRIKAANSES

Te midde van ‘n vloedgolf van menings oor die Afrikaner in feitlik al wat koerant is, is dit in die tweede deel van hierdie ontleding nodig om te kyk na die Afrikaanses: Wat glo en bepleit hulle, en wat kan hulle beweegredes wees?

Sonder om ellelange bronne (soos die warboel artikels waarna verwys is) ter stawing hier aan te haal, kan die volgende gestel word:

Afrikaanses erken nie die bestaan van ‘n eiesoortige Afrikanervolk met ‘n eie taal, kultuur en volksgeskiedenis nie of, waar hulle tog erken dat daar so ‘n volk bestaan of êrens in die verlede bestaan het, moet dit omvorm of tot niet gemaak word.
Afrikaanses se ideaal is dat almal wat Afrikaans praat, hulself in ‘n enkele groep of gemeenskap organiseer om Afrikaans te bevorder en te beskerm. Die woord “volk” moet tog net nie gebruik word nie want dit is verkramp, nasionalisties, eng en uit die oude doos.
Afrikaanses hamer daarop dat die Afrikaner “inklusief” moet wees - bedoelende dat hierdie gemeenskap of groep almal wat Afrikaans praat moet insluit, natuurlik veral die sogenaamde “bruin Afrikaners”.
Hierdie nuwe “gemeenskap” moet dan in ‘n gees van versoening en samewerking met die ANC-regering saamwerk om ‘n nuwe “nasie” hier te bou waarin kleur en afkoms - en seker ook taal - geen rol speel nie.
Alle instellings en instansies wat vir die Afrikaner van belang is en eintlik die wese van sy bestaan kenmerk, moet oorgeneem, omvorm of herskep word totdat dit ten volle aan bostaande vereistes voldoen. Dit sluit in kultuurorganisasies, kerke, skole en universiteite, selfs sport en in besonder sportorganisasies en -klubs wat deur Afrikaners beheer word.
In hierdie proses moet daar meedoënloos en selfs oorweldigend volgehou word met ‘n “pro-Afrikaanses, anti-Afrikaner” veldtog in alle media. Die “blye boodskap” van samewerking, assosiasie, vermenging, integrasie en assimilasie in ‘n groter geheel moet verkondig en uitgedra word. In besonder in TV-sepies, op TV-kanale soos Kyknet, in sport en in die vermaaklikheidswêreld.
Enige instansie of tendens wat nie hierdie doelwitte bevorder nie, moet ongenaakbaar verdag gemaak, aangeval en so gou moontlik vernietig word. Liedjies wat Afrikanertrots aanwakker moet afgekraak word as opswepend en agterlik, selfs rassisties en eintlik Nazi-politiek; mense wat die vlae van die verlede rondswaai, is ’n klomp apartheidsrassiste wat na die ou bedeling terugverlang; selfs diegene wat protesoptogte hou oor die naamsveranderings van stede en dorpe, is moeilikheidmakers en vêr-regses.

Die heel eerste vraag wat by ‘n mens opkom as hierdie dinge so uitgespel word, is: Hoekom? Hoekom moet die Afrikanervolk verdwyn en plek maak vir ‘n “gemeenskap” van Afrikaanses? Hoekom word die ideologie van vermenging en assimilasie so knaend in ons kele afgedruk?

Die grootste probleem met die soeke na antwoorde op hierdie vrae is dat diegene wat hierdie beleid en ideologie nastreef nie so onnosel is om hul eintlike motiewe en beweegredes uit te blaker nie - nie eens in privaatgesprekke nie. Net so af en toe glip daar iets deur wat ‘n bietjie lig op die saak werp.

Maar ek het ‘n sterk vermoede - en kan stawende feite bring indien nodig - dat dit in wese maar net ‘n voortsetting is van die doelwitte en ideale van die sogenaamde “Cape Liberal establishment”. Dit was ’n siening wat 130 jaar gelede sy beslag in de Kaap gekry het en selfs die destydse Afrikanerbond van SJ du Toit en ander “vestigers” van Afrikaans as taal, oorgeneem het, in so ‘n mate dat hulle politieke vennote van Cecil John Rhodes was.

Deur die jare het hierdie mense van tyd tot tyd veldtogte geloods om die Kleurlinge op politieke en ook sosiale en kulturele vlak deel te maak van die Afrikanervolk. Hulle is keer op keer platgeslaan, soos toe hulle (hoofsaaklik deur artikels en briewe in Die Burger) in die vroeë sestigerjare andermaal probeer het om ‘n gemeenskaplike kieserslys as aanvaarde beleid gestel te kry en hulle in Hendrik Verwoerd vasgeloop het.

Hulle het gevou, maar nie gaan lê nie en toe hulle in 1978 met ’n liederlike en onderduimse gekonkel (anderdag meer daaroor) daarin kon slaag om PW Botha bo Connie Mulder as eerste minister verkies te kry, het hulle onmiddellik begin om hul jarelange ideologie te implementeer. Die magsdelingsbeleid van PW en die daaropvolgende driekamer Parlement is deur hulle gesien as net die regte metode om die Afrikanervolk te omvorm en ‘n “veelrassige” regering hier te vestig wat, so het hulle geglo, vir die Westerse wêreld aanvaarbaar sou wees.

Hulle het egter nie rekening gehou met die swartes van die land nie want, tipies Kaaps, het hulle nie die swart mentalitiet geken nie omdat hulle bitter min met die swartes te doen gekry het en nooit die lesse wat die Oosgrens-boere en die Voortrekkers geleer het, ter harte geneem het nie.

Dis nou bloot geskiedenis dat die swart militantes die oorhand oor PW en kie gekry het - al was dit in die finle instansie met die hulp van ’n klomp wit papbroeke.

Het hierdie mense toe hierdie gebeure as ’n voldonge feit aanvaar en hul jarelange vete teen die”verkrampte” Afrikanervolk laat vaar? Nooit gesien nie!

Hierdie Kaapse “tradisie” word vandag eers sterk voortgesit en voorgestaan deur die koerante, tydskrifte en TV-kanale van Naspers, deur akademici, skrywers en vermaaklikheidspersoonlikhede wat hoofsaaklik in die Kaap gesetel is en deur sterk en invloedryke “Afrikaner” sakemanne wat ook in daardie gebied hul hoofkantore het. Ek praat nou van die intelligentes, die denkendes, diegene wat oor ekonomiese, finansiële en selfs politieke “mag” en invloed beskik.

Ek is oortuig daarvan dat baie van die mindere ligte wat so raas en vloek teen die Afrikaner nie die vaagste benul het van die ou en diepgesetelde dryfvere vir hierdie ontvolkingsbeleid van die Afrikaner nie. Hulle tier maar net saam teen die Afrikaner omdat dit mode is, hulle aandag in die koerante kry of, in sommige gevalle, omdat hulle bitter en ook jaloers is omdat hulle nie orals opgehemel en geprys word nie.

Dis die voorste ligte in hierdie proses wat so graag wys op die taalgemeenskaplikheid tussen Afrikaners en die Kleurlinge, maar die diepgaande kultuurverskille tussen die groepe verswyg en probeer wegpraat.

Nou hoekom hou hulle so knaend aan met die ou uitgebakte storie? Waarskynlik omdat hulle dit nie kan vat om keer op keer as verkeerd bewys te word nie. Hulle loop hulle aanhoudend vas in die Afrikaner se volkseie-sienings, maar weier om dit te aanvaar. Dis pure hardkoppige, beterweterigheid. Eintlik ‘n vorm van verwaandheid en arrogansie dat dit wat uit die Kaap kom, beter en meer verhewe is - die Kaapse snobisme op sy lelikste.

Wat vir my ook vreemd is, is dat hierdie Kapenaars wat met die Kaapsers grootgeword het, nou nog nie kon sien dat die groepe eintlik net taal in gemeen het nie. Afrikaners in die Oos- en Noord-Kaap het nooit hierdie denkfout gemaak het nie. Ons het die bruinmense nie gehaat of verafsku nie, maar ons kon mos sien en ervaar dat ons en hulle nie geheel en al dieselfde waardes deel nie, nie ‘n enerse groep uitmaak nie, beslis nie aan dieselfde “volk” behoort nie.

Wat ek as ‘n student van die Sosiologie en Volkekunde en met ‘n goeie klompie jare ervaring in die politieke joernalistiek ook nie kan verstaan nie, is hoe enigeen kan dink dat jy twee uiteenlopende groepe as’t ware kan dwing om ‘n nuwe “volk” te vorm. Dit het nog nooit so gewerk nie en dit gaan nou ook nie werk nie. Daar is verskeie voorbeelde dwarsdeur die wêreld wat wys dat daar net nie iets kan wees soos gedwonge volksvorming nie.

Nog ‘n onverklaarbare siening van hierdie “Afrikaanses” is dat Afrikaans slegs sal oorleef indien daar so ‘n assimilasie tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes is. Kan hulle nie besef dat ‘n taal wat bedreig word eintlik net binne die beskermende, maar ook bouende grense van ‘n “volk” kan bly voortbestaan nie? Kan hulle nie sien hoe vinnig Afrikaans besig is om deur die Kaapsers opsy geskuif te word nie - ongeag die feit dat daar beduidende persoonlikhede binne daardie gemeenskap is wat sterk pleidooie rig vir die behoud van Afrikaans? Afrikaans - of dan ‘n mengelmoesdialek daarvan - is nog heelwat van die Kaapsers se gebruikstaal, maar dit is nie “volksbesit” nie en hulle gaan baie vinnig verengels.

Maar wat veral vir my vreemd is, is dat hierdie mense nie kan insien nie dat die ANC-regering enige pogings om wittes en bruines in so ‘n nuwe groep saam te voeg, gaan sien as pogings om ‘n nuwe bolwerk teen hom te vorm. Hulle sal dit met mag en mening teenstaan. Hulle sal nog sterker optree om “verswarting” op alle terreine van die samelewing toe te pas. Soos dit is sien hulle die bruines sedert kort ná 1994 nie meer as swartes nie. Dit gaan die wittes dan mos nou net mooi niks help om “bruin” te word nie. Hulle gaan net meer probleme vir hulself EN die huidige Bruines skep!

Moet egter nie vir ‘n oomblik glo dat die Afrikaanses hulle planne en doelwitte gaan laat vaar nie. Inteendeel, dit gaan in die onmiddellike toekoms heftiger word, soos dit in die afgelope maande geblyk het toe die De la Rey-liedjie skielik ou, onderdrukte emosies en gevoelens onder Afrikaners laat ontluik het. Die Afrikaanses het hul basse afgeskrik. Hulle het gedink hulle het die ideologiese stryd klaar gewen, toe bars hierdie emosies rondom die liedjie uit en maak dit vir die wêreld duidelik dat die Afrikanergees nog sterk roer.

Afrikaners sal egter moet bymekaar kom en beplan en organiseer om hierdie aanslag af te weer. Maar maklik gaan dit ook nie wees om die “Afrikaners” te identifiseer en saam te snoer nie. Daar is klaar tekens dat skerp verskille intree oor wie ‘n Afrikaner is en wie nie. En dan praat ons nog nie eens van die jongste pogings om ons te verdeel tussen “Afrikaners” en “Boere” nie.

Meer daaroor later.