4.5.07

Afrikaners en Afrikaanses

Deel 1: Tyd dat die skape en die bokke geskei word - en geskei bly!

Die gaping tussen Afrikaners en sogenaamde “Afrikaanses” of te wel eertydse Afrikaners wat nie meer so genoem wil word nie, word by die dag groter en wyer. Dit het in werklikheid reeds ‘n feitlik onoorbrugbare kloof geword en sal in komende jare net al hoe dieper word en ook tot felle meningsverskil en kwaai aanvalle lei.

Maar ons moenie te veel trane hieroor stort nie want die Afrikanervolk wat anderkant uitkom, sal sterker, meer eensgesind en beslis meer vasberade wees om te oorleef. Miskien het dit tyd geword om hierdie nuwe verdeling behoorlik op die spits te dryf deur hierdie klomp wat hulself as Afrikaanses beskou, uit te dryf en te isoleer totdat hulle geen rol of aandeel in Afrikanersake kan speel nie.

Dit gaan nie maklik wees nie want hulle beheer op die oomblik feirtlik al die gedrukte Afrikaanse media, beslis alle elektroniese media wat nog soms Afrikaans bevat, en al die groot maatskappye wat nog as “Afrikaans” bestempel kan word. Maar hul swakheid is hulle vrees en benoudheid om as ‘n beduidende groep bestempel te word en hul skynbare begeerte om deel te wees van die amorfe, kernlose “reënboognasie”.

Die Afrikanergroep se krag lê juis in die wete dat hulle deel is van ‘n volk wat ‘n eie kultuur en ‘n kragtige verlede het, wat hom met reg kan roem op wat hy op talle terreine gedoen het en wat glo dat hy wel ‘n toekoms het - selfs in hierdie donker, droewige vasteland van Afrika. Dat daar strominge en verskillende beklemtoninge binne daardie volk bestaan, kan nie ontken word nie, en ons sal in komende aflewerings verder daarop ingaan, maar dit is nie onoorbrugbare verskille en klowe nie want die begeerte om Afrikaner te wil wees en so genoem te word, gaan die deurslaggewende faktor wees.

Die eerste vraag wat gewoonlik gestel word, is: Wat is dan nou eintlik die verskil tussen Afrikaanses en Afrikaners? Ingeligtes wat dalk verbaas is dat hierdie vraag gestel word, moet net onthou dat daar baie mense is binne die kader van wat ons kwalik 20 jaar gelede nog as die Afrikanervolk beskou het, wat nie tred gehou het of wil hou met die fyner nuanses van die politieke spel wat deesdae met hierdie begrippe gespeel word nie.

Eintlik is dit nie so moeilik om Afrikaners en Afrikaanses te onderskei nie. Enigeen in die openbare of gewone lewe wat nie huiwer om hom(of haar-)self ’n Afrikaner te noem nie en na familie en vriende as Afrikaners verwys en deur ander Afrikaners as ‘n Afrikaner aanvaar word, is in die gewone gang van sake wel ‘n Afrikaner. Maar as enigeen huiwerig is om die woord ten opsigte van hulself of hul vriende te gebruik, moet ‘n mens maar weet dat hulle waarskynlik nader aan die begrip “Afrikaanses” staan, maar dikwels te lafhartig is om dit hard en openlik so te stel. Wat in sigself nogal ‘n belangrike aanduiding is van die vlak van hulle oortuiging, beginselvastheid en integriteit.

Daar is natuurlik heelwat mense, veral in die kuns- en vermaaklikheids-wêreld en die joernalistiek, wat sonder om te skroom stel dat hul hulself as Afrikaanses beskou. Een van hulle het al so ver gegaan om te sê dat hy uit die Afrikanervolk bedank het. Vir diegene moet ’n mens minstens erkenning gee dat hulle die moed het om hul standpunt te stel, al moet daardie standpunt ook as hoe skeef beskou word.

Maar hulle is dun gesaai. Die meeste wat hierdie idee van Afrikaanses aanhang, sal op allerhande maniere, selfs bedrieglike wyse, probeer om ‘n tipering te ontduik. So het een van hulle nou die dag verklaar dat hy trots is om “wit en Afrikaans” te wees. Hy is klaarblyklik nog huiwerig om homself as ‘n “Afrikaanse” te bestempel, maar die woord Afrikaner kom beslis nie oor sy lippe nie!

‘n Mens moet egter in gedagte hou dat baie Afrikaners hulle steeds nie veel steur aan hierdie verdeling en kantkiesery nie, maar hulle sal vorentoe feitlik gedwing word om een of ander kant toe standpunt in te neem, want hierdie kloof gaan dieper en later onoorbrugbaar word. Dit is ook goed om in gedagte te hou dat daar individue en selfs organisasies is wat hulle nou in die sg. “Afrikaanses” kamp bevind, maar blykbaar begin insien dat hierdie verlooptes nie enige toekoms vir die Afrikanervolk bied nie. Ons moet hierdie mense eerder probeer nader trek, maar die geharde, arrogante Afrikaanses sal maar hulle les op die harde manier leer - uiteindelike verwerping deur die Afrikanervolk.

Onderliggend aan die twee terme, is daar natuurlik sterk en uiteenlopende politieke benaderings, toekomssieninge en ingesteldheid teenoor die huidige bestel in ons land. Dit is hierdie verdeling wat ek glo onoorbrugbaar is en in die toekoms net groter gaan word.

In die volgende aflewering sal ons in diepte hierna kyk.