30.5.07

SAL DIE WARE COENIE OPSTAAN, ASSEBLIEF

Vreemde storie hierdie een oor Coenie, uitvoerende direkteur (kultuur) van die ATKV en aanbieder van Kwela op Kyknet, oor die ATKV-veertjie toekenning vir Kwela en die eenvoudige ou vragie wat Elsabé Pepler van die Vrystaatse Universiteit daaroor gevra het.

Vir diegene wat nie Beeld hoef te lees nie, die storie het Vrydag, 13 April, begin toe me. Pepler in die rubriek Seepkis vertel het hoe woedend, ontstoke en selfs intimiderend onse Coenie was toe sy dit durf waag het om die vraag te stel of dit darem reg en goed is dat die ATKV 'n veertjie toeken aan Kwela terwyl hulle nuwe UD (Kultuur) die program aanbied.

Sy het die kwessie by ‘n ATKV-werknemer geopper, maar toe bel Coenie haar persoonlik, roskam haar so kwaai dat sy die gesprek beëindig, maar die foon lui weer en Coenie trap haar lelik uit. En dit net oor sy ‘n vragie stel.

In die daaropvolgende Vrydag word Coenie in dieselfde ruimte die geleentheid gegee om op die bewerings te antwoord. Hy klim van ‘n kant af in die arme meisiekind in en skimp selfs dat sy Kwela doelwus mislei en dalk oor sekere dinge gelieg het. In die proses verduidelik hy egter dat hy maar net die aanbieder van Kwela is. Hy het geen redaksionele op operasionele insette in die beplanning, opstel of samestelling van die verskillende insetsels nie en om hierdie rede was dit nie verkeerd dat Kwela wel ‘n veertjie van die ATKV kon ontvang nie.

Almiskie, maar ek dink nog dat Elsabé, ongeag enige bybedoelings wat sy dalk kon gehad het, ‘n goeie vraag gestel het en dat die prosedure rondom die toekenning en die program vroeër verduidelik moes gewees het. Maar eintlik dink ek dit sal beter wees as Kwela dan maar liefs ‘n ander aanbieder kry of glad nie in aanmerking kom vir ATKV-toekennings nie. Dit lyk net nie lekker soos dinge nou is nie.

Maar Coenie se verduideliking het nou ’n hele paar splinternuwe vrae laat ontstaan.
As hy dan nie die beplanner en opsteller van die program is nie, wie is? Of is dit nog meer van die gesiglose, naamlose aktiviste wat ook ‘n hele paar ander programme op Kyknet van agter die skerms beheer? Hierdie reeks, soos andere, word vervaardig deur Pieter Cilliers Produksies. Ek het tot hede nie veel aandag gegee aan hierdie produksiehuise nie, maar dit lyk my ‘n mens sal noulettender na hulle moet kyk. Want dit ly geen twyfel nie dat Kwela deel is van Kyknet in besonder en Naspers in die breë se volgehoue veldtog en propaganda dat die Afrikaner en alle ander Afrikaanssprekendes eintlik maar net een en dieselfde groep, selfs volk, is en dat ons eintlik moet assimileer en versmelt in die sg. reënboognasie. Daarom dan ook die mildelike gebruik van Kaapsers - selfs in insetsels oor Afrikaners.

Die ander groot vraag is natuurlik watse soort mens is hierdie nuwe kultuurbaas van die ATKV eintlik? Die onverdraagsame, ongeduldige, selfs venynige wyse waarop hy op Elsabé se menings gereageer het, is alles behalwe vereenselwigbaar met die beeld van sagmoedige, vriendelike, meelewende en ordentlike Coenie wat die TV vir ons voorhou. Is dit dan ‘n valse beeld wat hier uitgedra word?

Ons sal maar vorentoe moet sien, maar ek wil net vir Coenie sê dat hy moet lig loop. Die TV is ‘n ongenaakbare, selfs wrede medium. Jy sal ‘n hele ruk lank kan wegkom as jy jou ware aard probeer verbloem, maar een of ander tyd haal hy jou in.

Die storie het blybaar ‘n stertjie.

In ‘n taamlike lang artikel in Sakebeeld van 24 Mei betreur Coenie die min aandag wat die gewone media aan “kultuur” gee en bepleit dat die “sogenaamde bewakers van kultuur” die kuberruimte van die internet begin benut.

Op die oog af is dit ‘n “indringende” artikel, maar as ‘n mens begin ontleed sê dit egter bitter min, en dan begin ‘n mens wonder, soos: Hoekom skielik hierdie artikel waarin die media eintlik bygekom word? Is Coenie genooi om hieroor te skryf, of is dit dalk ‘n geval dat die artikel geskryf is en aan die media gestuur is - dalk met so bietjie druk van “publiseer dit of…..”? Net so vreemd is die ruimte waar dit geplaas is - op ‘n agterblad van Sake?

En as ‘n mens eers hierdie vrae begn vra, dan wonder jy of dit nie dalk ‘ n tipiese Coenie manier van doen is om Beeld so op sy plek te sit omdat hy dit durf waag het om Pepler se “aanval” op hom te publiseer nie?

Dit is nog ‘n rede om te vra dat die ware Coenie asseblief opstaan sodat ons kan sien presies hoe hy lyk.

Coenie sal ook nog op ‘n goeie dag sonder om te skroom vir ons eens en vir altyd duidelik moet maak of hy homself as “Afrikaner” of “Afrikaanse” beskou. In sy jongste geskrifte het hy die kwessie netjies omseil deur te sê dat hy nie skaam daaroor is dat hy wit, Afrikaans en manlik is nie. Beeld se opskrif dat hy sê hy is ‘n “wit Afrikaanse man” is misleidend want dit kan ‘n ander indruk skep as die een van Coenie self dat hy Afrikaanssprekend is. Coenie sal dalk aanvoer dat hy sy voorkeur al by geleentheid getoon het en ek het ‘n sterk vermoede dat hy as “Afrikaanse” geklas kan word, maar ek het nie duidelike bewyse nie.

Dis beslis nie die laaste wat ek oor Coenie te sê sal hê nie. Soos belowe gaan daar gekyk word hoe hy in sy nuwe pos vaar en waarheen die ATKV onder sy leiding op pad is. Maar ons sal wag tot na sy eerste kongresoptrede later vanjaar.

18.5.07

TYD DAT DIE AHI SY NAAM VERANDER

Sal die AHI asseblief sy naam so gou moontlik verander deur die “Afrikaans” uit die naam te haal en dit met iets soos “gemeng” of “ANC-dienswillige” te vervang. Want dit is lank nie meer ’n instituut vir Afrikaner-sakemanne nie en dit gaan baie duidelik in die toekoms al hoe meer ’n instelling word om die ANC-regering se anti-wit en anti-Afrikaner beleidsrigtings van AA (“affirmative action”) en BEE (“black economic empowerment“) te bevorder en te implementeer.

Deur voort te gaan met die “Afrikaans” in sy naam, skep die AHI die totaal valse beeld dat die Afrikaner daarmee gediend is en dit as sy beskore lot aanvaar dat die rassistiese ANC so blatant teen Afrikaners diskrimineer.

Deur voort te gaan om “Afrikaans” in sy naam te behou, verdoesel die AHI die feit dat hy lankal nie meer die belange van Afrikaners op die hart dra nie, maar al hoe meer omsien na die belange van bruines en swartes. Dis ’n valse vaandel waaronder die AHI vaar.

Die AHI is in 1942 gestig deur Afrikaner-sakemanne met die uitsluitlike doel om groter deelname deur die Afrikaner in die land se sake- en ekonomiese wêreld te bevorder. Dit was ‘n sakewêreld wat sedert die Anglo-Boereoorlog op alle terreine deur Engelse oorheers is. In sy oorspronklike stigting het die woord “Afrikaanse” uitsluitlik betrekking gehad op lede van die volksgroep wat as Afrikaners beskou was. Dit het glad nie ‘n inklusiewe element van anderskleuriges bevat nie - selfs nie eens van Afrikaanssprekende bruinmense wat toentertyd as Kleurlinge bekend was nie.

Dit was binne hierdie eksklusiewe behangsel dat die AHI groot mylpale bereik het met ‘n magdom Afrikaanse Sakekamers dwarsdeur die land en ‘n toenemende rol vir die Afrikaner-sakeman in die land se sakelewe. Maar toe kom 1994.

Dit was met ‘n mate van verbasing dat ek kort na die ANC-regering se oorname gesien het dat die eertydse minister van grondsake in FW de Klerk se kabinet, Jacob de Villiers, as hoof van die AHI aangestel is. Eintlik net omdat ek gedink het hy is meer van ‘n boer as ‘n sakeman.

As hoof van die departement grondsake se skakelkomponent in daardie tyd en dus eintlik ook as sy skakelman, het ek Jacob leer ken as ‘n ordentlike en aangename mens wie se opmerklike naïwiteit oor die politiek en die oorgawedrama wat hom in daardie tyd uitgespeel het, eerder aan daardie ordentlikheid as iets anders toegeskryf kon word.

Maar nog groter was my verbasing enkele jare later toe ek sien dat hy besig was om die AHI te omvorm van ‘n Afrikaner-instelling na een wat hom toenemend rig op anderskleuriges en veral swartes - tot so ‘n mate dat hy hom geroem het op die AHI se eerste swart president in die persoon van Matthews Phosa.

Maar kort duskant skok was my reaksie toe ek so ‘n jaar of twee gelede die Pretoriase telefoongids raadpleeg vir die nommer van die plaaslike Afrikaanse sakekamer en die telefoon word beantwoord deur mense wat net Engels praat en in ‘n opvallende swart aksent daarby! Maar hulle bevestig dit is die kantoor van die “Sakekamer”.

Omstandighede het my verhinder om toentertyd hierdie kwessie êrens op te haal - veral aangesien ek toe al gevind het dat Beeld nie my briewe oor enige saak plaas wat gesien kan word as krities van hul eie benadering nie.

Maar toe kom Sake-Rapport van 13 Mei met ‘n uitgebreide artikel oor prof. Stef Coetzee wat van 1 Oktober oorvat by Jacob as uitvoerende direkteur van die AHI. En in die onderhoud stel hy verskeie standpunte. Ek haal net enkeles aan, met onmiddellike reaksie van my kant ter wille van bondigheid.

“..dis tyd dat Afrikaanssprekende mense weer opgewonde raak oor die geleenthede wat die land bied..” TH: Wat jy waar kry, prof? Sien en hoor jy nie hoe Afrikaanssprekendes -- sowel wit as bruin -- elke dag toenemend ly onder beleidsrigtings soos AA en BEE nie? Het jy al gehoor en gelees hoe diep mismoedig mense is oor misdaad en korrupsie en wanbestuur en verval van geriewe en dienste?

“dit is juis die inklusiwiteit van die AHI wat my opgewonde maak….onlangs het 450 swart sakemanne van Soweto by ons aangesluit…” TH: En hulle praat seker almal net Afrikaans en sing De la Rey, De la Rey op hul vergaderings?

“Die tye vra dat ons die wanbalanse van die verlede moet regstel…” TH: Die ANC-regering is besig om alle vermeende wanbalanse met mening reg te stel - in so ‘n mate dat nuwe wanbalanse ontstaan en wittes, veral Afrikaners, besig is om die ‘nuwe benadeeldes’ te word. Hoekom wil of moet die AHI die ANC se werk vir hom doen? En wat sê die AHI van groot maatskappye soos brandstofverspreiders met Engen aan die voorpunt, kettingwinkels soos Woolworths en Pick&Pay en selfs blykbaar restaurant- en koffiekroeg-ondernemings wat nie net Afrikaans uit hul besighede weer nie, maar nie meer sakevoorreg-geleenthede (franchises) aan wittes - en in besonder Afrikaners - toestaan nie? Ek het nie ‘n woord oor hierdie wanbalanse van die kant van die AHI gehoor nie.

“Dit is ‘n wêreldwye tendens dat sakeleiers al meer ‘n rol speel in besluitneming en die beïnvloeding daarvan..” TH: Almiskie in die beskaafde wêreld, maar beslis en gewis nie in Afrika nie, nie in Mbeki se Suid-Afrika nie waar alle wittes - Afrikaans en Engels - stelselmatig hul ondernemings en hul myne en hul plase aan swartes MOET oordra, of hulle wil of nie. Gewis ook nie in Zimbabwe wie se voorbeeld die ANC besig is om vinnig na te volg nie.

Ek kan nog ’n ruk so aangaan, maar ek dink dit is nodig om dit duidelik te maak dat ek nie vir die instelling wat homself nog die AHI noem, kan of wil voorskryf wat hy moet doen en hoe hy dit moet doen nie. As hierdie instelling se huidige bestuur en lede glo dit is hulle roeping om die dinge hierbo uitgewys, te doen en uit te voer, as hulle dink dit is hulle dure plig om die ANC se werk en beleid te doen en uit te voer, is dit seker hul goeie reg.

Maar ek is ’n Afrikaner en terwyl ek nie kan aanvoer dat ek namens ALLE Afrikaners praat nie, het ek in verskeie gesprekke gevind dat ander Afrikaners met my saamstem dat die AHI asseblief moet ophou om hierdie dinge te doen terwyl hulle voorgee dat hulle nog ’n Afrikaanse, ja selfs ’n Afrikaner-instansie, is.

Uit hul gestelde doelwitte om al hoe meer inklusief - eintlik al hoe meer swart - te word, is dit duidelik dat hulle self begin wegskram van hul “Afrikaanse” en “Afrikaner” verlede en inslag.

Hoekom dan voortgaan om die instelling die AHI te noem? Verander sy naam. Noem hom net die Handelsinstituut, verkieslik die Trade Institute om meer aanvaarbaar vir sy nuwe lede te wees, maar haal asseblief die “Afrikaans” uit die naam. Die AHI is nie meer Afrikaans nie, bedien nie meer die Afrikaner nie en sy huidige en nuwe bestuur kan net sowel hul bedanking as Afrikaners indien. Dit sal verwelkom en aanvaar word.

En as dit nie gou gedoen word nie, sal ek en andere, organisasies soos die FAK waarvan die AHI glo nog lid is, begin druk om hulle uit te smyt as nie meer ‘n Afrikaanse - bedoelende Afrikaner - organisasie nie.

En hulle sal dalk die eerste, maar beslis nie die enigste wees om so deur te loop nie.

4.5.07

Afrikaners en Afrikaanses

Deel 1: Tyd dat die skape en die bokke geskei word - en geskei bly!

Die gaping tussen Afrikaners en sogenaamde “Afrikaanses” of te wel eertydse Afrikaners wat nie meer so genoem wil word nie, word by die dag groter en wyer. Dit het in werklikheid reeds ‘n feitlik onoorbrugbare kloof geword en sal in komende jare net al hoe dieper word en ook tot felle meningsverskil en kwaai aanvalle lei.

Maar ons moenie te veel trane hieroor stort nie want die Afrikanervolk wat anderkant uitkom, sal sterker, meer eensgesind en beslis meer vasberade wees om te oorleef. Miskien het dit tyd geword om hierdie nuwe verdeling behoorlik op die spits te dryf deur hierdie klomp wat hulself as Afrikaanses beskou, uit te dryf en te isoleer totdat hulle geen rol of aandeel in Afrikanersake kan speel nie.

Dit gaan nie maklik wees nie want hulle beheer op die oomblik feirtlik al die gedrukte Afrikaanse media, beslis alle elektroniese media wat nog soms Afrikaans bevat, en al die groot maatskappye wat nog as “Afrikaans” bestempel kan word. Maar hul swakheid is hulle vrees en benoudheid om as ‘n beduidende groep bestempel te word en hul skynbare begeerte om deel te wees van die amorfe, kernlose “reënboognasie”.

Die Afrikanergroep se krag lê juis in die wete dat hulle deel is van ‘n volk wat ‘n eie kultuur en ‘n kragtige verlede het, wat hom met reg kan roem op wat hy op talle terreine gedoen het en wat glo dat hy wel ‘n toekoms het - selfs in hierdie donker, droewige vasteland van Afrika. Dat daar strominge en verskillende beklemtoninge binne daardie volk bestaan, kan nie ontken word nie, en ons sal in komende aflewerings verder daarop ingaan, maar dit is nie onoorbrugbare verskille en klowe nie want die begeerte om Afrikaner te wil wees en so genoem te word, gaan die deurslaggewende faktor wees.

Die eerste vraag wat gewoonlik gestel word, is: Wat is dan nou eintlik die verskil tussen Afrikaanses en Afrikaners? Ingeligtes wat dalk verbaas is dat hierdie vraag gestel word, moet net onthou dat daar baie mense is binne die kader van wat ons kwalik 20 jaar gelede nog as die Afrikanervolk beskou het, wat nie tred gehou het of wil hou met die fyner nuanses van die politieke spel wat deesdae met hierdie begrippe gespeel word nie.

Eintlik is dit nie so moeilik om Afrikaners en Afrikaanses te onderskei nie. Enigeen in die openbare of gewone lewe wat nie huiwer om hom(of haar-)self ’n Afrikaner te noem nie en na familie en vriende as Afrikaners verwys en deur ander Afrikaners as ‘n Afrikaner aanvaar word, is in die gewone gang van sake wel ‘n Afrikaner. Maar as enigeen huiwerig is om die woord ten opsigte van hulself of hul vriende te gebruik, moet ‘n mens maar weet dat hulle waarskynlik nader aan die begrip “Afrikaanses” staan, maar dikwels te lafhartig is om dit hard en openlik so te stel. Wat in sigself nogal ‘n belangrike aanduiding is van die vlak van hulle oortuiging, beginselvastheid en integriteit.

Daar is natuurlik heelwat mense, veral in die kuns- en vermaaklikheids-wêreld en die joernalistiek, wat sonder om te skroom stel dat hul hulself as Afrikaanses beskou. Een van hulle het al so ver gegaan om te sê dat hy uit die Afrikanervolk bedank het. Vir diegene moet ’n mens minstens erkenning gee dat hulle die moed het om hul standpunt te stel, al moet daardie standpunt ook as hoe skeef beskou word.

Maar hulle is dun gesaai. Die meeste wat hierdie idee van Afrikaanses aanhang, sal op allerhande maniere, selfs bedrieglike wyse, probeer om ‘n tipering te ontduik. So het een van hulle nou die dag verklaar dat hy trots is om “wit en Afrikaans” te wees. Hy is klaarblyklik nog huiwerig om homself as ‘n “Afrikaanse” te bestempel, maar die woord Afrikaner kom beslis nie oor sy lippe nie!

‘n Mens moet egter in gedagte hou dat baie Afrikaners hulle steeds nie veel steur aan hierdie verdeling en kantkiesery nie, maar hulle sal vorentoe feitlik gedwing word om een of ander kant toe standpunt in te neem, want hierdie kloof gaan dieper en later onoorbrugbaar word. Dit is ook goed om in gedagte te hou dat daar individue en selfs organisasies is wat hulle nou in die sg. “Afrikaanses” kamp bevind, maar blykbaar begin insien dat hierdie verlooptes nie enige toekoms vir die Afrikanervolk bied nie. Ons moet hierdie mense eerder probeer nader trek, maar die geharde, arrogante Afrikaanses sal maar hulle les op die harde manier leer - uiteindelike verwerping deur die Afrikanervolk.

Onderliggend aan die twee terme, is daar natuurlik sterk en uiteenlopende politieke benaderings, toekomssieninge en ingesteldheid teenoor die huidige bestel in ons land. Dit is hierdie verdeling wat ek glo onoorbrugbaar is en in die toekoms net groter gaan word.

In die volgende aflewering sal ons in diepte hierna kyk.

19.4.07

Welkom!

Welkom by hierdie eerste uitgawe van Thysgenoot. Hier gaan ons skerp en indringend kyk na alles wat die Afrikaner, Afrikaans en die toekoms van Suid-Afrika raak. Ons sal geen persoon, organisasie, instansie of optrede ontsien nie, maar ons sal prys waar dit verdien word en aanmoedig waar dit nodig is.

Vir die onmiddellike toekoms word die volgende artikels beplan:

Wat is die gesukkel met 'n Afrikanerraad?

Waarheen wil jy met die FAK, Danie?

Waarheen wil jy met die FAK, Johan?

Wat het gebeur met Kok en kok se maat?

Wat gaan gebeur met die nuwe kok by die ATKV?

Wanneer gaan die Broeders weer begin om die Afrikanersaak te dien?

Gesoek! 'n Nuwe bestuur vir die Voortrekkermonument

Die toekoms van Afrikaanse media (of: wanneer kry Beeld 'n swart redakteur?)

... en wat ook al na vore kom!