8.12.07

BY WIL NIE KRITIESE BRIEWE PLAAS NIE

Onderstaande brief is verlede week aan By gestuur in reaksie op Christi van der Westhuizen se Afrikanerhaatartikel in By van 1 Desember. Dit is nie gebruik nie - net soos Dan Roodt se goeddeurdagte brief ook nie gebruik is nie. (Sien sy artikel daaroor op die Praag-forum by http://www.praag.org ). By het wel twee briewe in reaksie op CvdW se artikel geplaas - albei sulke ou flou menings wat basies die standpunt huldig dat wat sy en andere soos Goosen geskryf het, dalk reg en waar is, maar darem bietjie kras gestel is. Ag foei!


AAN BY
BRIEF VIR PLASING.


Die Afrikaner is met die magsoorgawe aan die ANC-regime in 1994 ‘n yslike en dalk dodelike wond toegedien. Met die daaglikse aanslag op sy taal en sy leefwyse, die groot getalle van sy kundige jongmense wat uit die land padgee en die snelle verarming van sy eens welvarende middelklas, word hierdie wond net verder vergroot en dit is te betwyfel of die Afrikanervolk ooit weer daarvan sal kan herstel.

Maar dit is blykbaar nie goed en vinnig genoeg vir juis diegene wat voor en met 1994 so aandadig was aan die Afrikanervolk se omverwerping en ondergang nie. Nee, hy moet in die grond geboor en vergruis word en as daar net die geringste teken is dat Afrikaners begin opstaan en hul stemme verhef - soos met die Maas-affêre - moet hulle met mening op hulle plek gesit word.

Dan word die hulp ingeroep van mense soos Engelse boekskryfster Christi van der Westhuizen, “Butch” Goosen, “Evita” Uys, Frits (moffiepa) Gaum, Pik Rooiwyn en selfs Braambos Boesak* om hierdie klomp verkramptes ‘n paar taai oorveë te gee en hulle bekke vir hulle toe te klap - of so dink die persbase.

CvdW is om een of ander rede steeds so bitter daaroor dat die Afrikaner nog gesien en gehoor word, dat sy ‘n boek oor die kwessie geskryf het - in Engels nogal! Ek en my vriende het nie die boek gekoop nie want ons het nie meer lus om uitgeskel te word nie en beslis nie in daardie taal nie. Maar nou moet ons, teen wil en dank, sien dat sy deur Naspers se BY bygesleep word om te help walgooi teen die klomp verkrampte Christene wat Maas so op sy plek gesit het. En Goosen wat in haar “letterkunde” steeds so ‘n vulgêre en vieslike ou lesbie is as wat sy was toe ons jaarre gelede saam in ’n Pretoriase koerantkantoor gewerk het, dink sy kan hierdie klomp Afrikaners reg skel deur hulle as ‘n gevaarlike spesie te verklaar.

Net eers ‘n punt of twee: By en sy medewerkers maak ‘n groot fout as hulle dink dit was net fundamentalistiese Christene wat Maas se dinges vir hom geskop het. Daar is ‘n hele paar van ons wat nie eens naastenby in genoemde kader val nie, wat net so lustig aan die anti-Maas ding deelgeneem het. Gaan kyk gerus op die Praag-forum waar sommige van hierdie Afrikaner-vrydenkers hul menings gelug het.

En die Maasding was nie ‘n aantasting van vryheid van spraak of ‘n aanslag op persvryheid nie. Inteendeel, dit was juis ‘n spontane uitbarsting van die vryheid om jou mening te lug en te bevorder met behulp van die nuwe e-pos- en kortboodskapwapens wat die elektronika vir ons gebring het. En dit het selfs teen die magtige Rapport gewen!

In haar artikel in verlede Saterdag se BY, maak CvdW ‘n hele spul uiters aanvegbare stellings wat helaas te veel tyd en plek sal opneem om gelys en aangevat te word. Maar seker die ergste is in die laaste paragrawe waarin sy aanvoer dat apartheid ‘n geslote stelsel vir selfverwesenliking was, en Afrikaners nou die moed moet hê om in die huidige bestel ‘n “volwaardige nuwe Suid-Afrikanerskap uit te kerf”.

Wat sy - en andere wat soos sy dink en min of meer dieselfde goed kwytraak - eintlik bepleit is dat die Afrikaner sy “volkskap” vernietig, omvorm, afsweer en verloën en in ’n nuwe “volkskap” opgaan. Andere - blykbaar selfs ‘n nugterdenkende soos Herman Giliomee - bepleit assimilasie met die Bruinmense om ‘n nuwe “gemeenskap” te vorm.

Die eerste vraag wat opduik is hoekom moet ons met die Kleurlinge saamsmelt in ‘n nuwe volk of groep? Dit gaan nie ‘n jota se verskil maak aan die swart getalle-oorwig en die stelselmatige onderdrukking en uitwissing van sowel die Afrikaner as die bruinmense nie. Dit gaan nie die Afrikanervolk in enige opsig “versterk” nie want die ander mense het bitter min om in te bring. Vir die Kleurlinge sal samesmelting met die wit Afrikaner net meer afwysing en selfs onderdrukking deur die swart meerderheid bring. En dit gaan bitter min beteken vir die oorlewing van Afrikaans want, soos Richard van der Ross in die week laat blyk het, is Afrikaans nie juis ’n saak van groot belang vir bruinmense nie.

Maar hoekom probeer CvdW en haar trawante so hard om die Afrikanervolk wat hulle gehelp het om so dodelik te wond, steeds te verguis en te vergruis? Is dit frustrasie omdat hulle volksverraad nie na hulle wense deur die nuwe regeerders erken en beloon is nie? Is dit woede omdat daar steeds ‘n beduidende getal Afrikaners - Christene en andere - is wat hulle toenemend teen hierdie aftakeling verset?

Want neem asseblief nou kennis: Ek en my vriende - onder wie daar ‘n goeie klompie doodgewone, alledaagse kerkgangers, en helaas ook enkele fundamentaliste wat sweer die aarde is 6000 jaar gelede geskep, maar ook ‘n paar oopkop andersdenkendes is - beskou onsself as Afrikaners, ons is trots op die naam en trots op ons volk se geskiedenis, sy kultuur en sy verlede - ja, apartheid soos ons dit verstaan het, inkluis.

Ons stel nie belang in assimilasie met enige ander groep of gemeenskap nie, al is ons bereid om met ander trotse groepe saam te werk. Ons ervaar dit dat bereidwilligheid om “op te gaan” in wat ons gedink het ‘n nie-rassige nuwe RSA gaan wees, gesien word as gewilligheid om ons taal, ons waardes en ons leefwyse oorboord te gooi en te laat verdwyn. Ons word nou net mooi dik vir die media en hulle medewerkers wat voortdurend op ons skel of preke vir ons afsteek oor hoe ons moet wees en wat ons moet word.

‘n Hele klompie van ons het juis die afgelope tyd probeer om veral ten opsigte van godsdienstige oortuigings ‘n “oper” benadering by Afrikaners te vestig en die meer fundamentalistiese sienings van die Israel Visie, die Wegrapingaanhangers en verwantes teen te werk. Dit het net begin lyk of ons bietjie vorder, toe kom die Maasding en die daaropvolgende artikels en menings waarna verwys is en laat mense verhard en hulle rûe styftrek teen enigiets wat vir hulle lyk soos aantasting van hulle geloof en hul volkskap.

Hierdie uitskeltaktiek gaan nie werk nie. Dit gaan houdings net laat verhard en nog meer fundamentalisties word. Probeer eerder meer medewerkers met die nugterheid van Rossouw kry as die spul uitgebaktes wat nou gebruik word.

* Hy dink blykbaar dis die stem van die Here wat uit hom kom!

Thys Human
Pretoria

IS DIT DIE HELE ERFENISSTIGTING SE SIENING?

Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Erfenisstigting, mnr Gert Opperman, wat ook die hoofbeampte van die Voortrekkermonument is, het ‘n brief aan verskeie taal- en kultuurinstansies gestuur waarin hy sy siening oor ‘n “gedeelde erfenis” en oor die Afrikaner uiteengesit het.

Dit is gedoen na aanleiding van ‘n versoek deur Rapport wat blykbaar besig is met so ‘n opname.

Sy antwoord aan Rapport word ter wille van volledigheid onderaan hierdie insetsel weergegee. Daarin maak hy ‘n hele aantal algemeen aanvaarbare en waarskynlik onomstrede stellings, soos dat daar sekerlik nie (of dan “nog nie”, soos hy dit stel) van ‘n “gedeelde erfenis” gepraat kan word nie en trek hy netjiese en goeie verdelingslyne. Met sy siening dat hande uitgereik kan word om saam te werk oor Afrikaans, kan ek ook nie werklik fout vind nie.

Maar dan kom hy by ‘n definisie van “Afrikaners” wat, volgens hom, deur die Erfenisstigting vir ”interne gebruik” geformuleer is:

“… Afrikaners is persone, ongeag afkoms, kleur of geloof, wat hulleself ten volle as Afrikaners beskou of as sodanig beskou word en hulleself ook ten volle of met ‘n gedeelte van die inheemse Afrikaanse kultuurgoedere vereenselwig en dit as hulle kulturele erfenis beskou”.

Met hierdie definisie het ek en andere nie veel fout te vind nie, behalwe vir daardie woordjie “kleur”. Want dit impliseer dat Bruinmense, voorheen bekend as Kleurlinge, maar deur sommiges deesdae “Bruin Afrikaners” genoem, ook Afrikaners kan wees. En dit kan nie. Nie net oor my en andere se sieninge van hulle nie, maar juis binne die konteks van die res van Opperman se definisie nl. “ ..mense wat hulself ten volle as Afrikaner beskou OF as sodanig beskou word…”

Bruin mense word nie deur die breë stroom Afrikaner as as lede van die Afrikanervolk beskou nie en ek dink ook nie die massa Bruines WIL as sodanig beskou word nie. Ek brei verder hierop uit in ‘n stuk oor Herman Giliomee se sieninge wat binne dae hier geplak word.

Opperman was verskeie kere al in die kollig oor sekere dinge, maar het blykbaar elke keer die voordeel van die twyfel gekry en is steeds in hierdie belangrike poste.

Dit het nou tyd geword vir die Erfenisstigting en die Beheerraad van die Monumnent om duidelik, standpumnt in te neem oor hierdie sieninge en oor Opperman se rol.

My eerste en eintlik enigste vraag is aan die Erfenisstigting wat glo ‘n Artikel 21 maatskappy is en mense soos Carel Boshoff en Willem Cruywagen insluit: Is hierdie definsie en die volle implikasies werkllik julle siening of is dit alweer ‘n kompromie standpunt?

Die Tussentydse Afrikanerraad (TAR) het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle hul standpunt uiteensit. Ek plaas dit met graagte onderaan Opperman se verklaring.




OPPERMAN SE BRIEF

Geagte Vriende

Die HUB is onlangs deur Rapport versoek om sy siening te gee oor of
ons reeds of ooit van ‘n “gedeelde erfenis’ in Suid-Arika sal kan
praat. Onderstaande is die antwoord deur hom verstrek en aangesien
persone wat in die onderwerp belangstel, dit interessant mag vind,
word dit graag vir insae en moontlike kommentaar deurgegee.

Vriendelike groete

Gert Opperman
Hoof Uitvoerende Beampte

Hieronder verskyn die woordomskrywing van die begrip “Afrikaners” soos deur die Erfenisstigting vir eie interne gebruik geformuleer. Ons hang dit nie aan die groot klok nie en wil dit op niemand afdwing nie, want ons is bewus dat daar ook ander woordomskrywings is en ons gun graag aan ander persone die reg om hul eie sienings daaroor te huldig.

Ons uitgangspunt is dat ‘n persoon gelyktydig verskillende identiteite kan hê wat nie noodwendig onderling uitsluitend is nie. Ek kan gelyktydig ‘n trotse Suid-Afrikaner, ‘n trotse Afrikaanssprekende en ook ‘n trotse Afrikaner wees, sonder dat die een afbreuk aan die ander hoef te doen.

Algemeen gesproke het ons dus ‘n oop, inklusiewe benadering, gebaseer op hoe jy jouself en hoe ander jou sien en ook die kultuurgoedere wat jy as jou eie beskou en waarmee jy jouself assosieer.

Vanweë historiese en ander redes is dit só dat daar nog nie noodwendig gepraat kan word van ‘n gedeelde Afrikaanse erfenis nie en dit dalk vir nog baie jare nie moontlik sal wees nie. Dit is egter nie noodwendig verkeerd nie. Ons gun graag aan ander die reg om dit wat vir hulle as ‘n kultuurgroep belangrik is, te koester en te
beskerm, sonder om enigsins te impliseer dat dit verkeerd of noodwendig minderwaardig is, bloot omdat dit anders is as wat weer vir ons meer belangrik is.

Terwyl ons graag wil hande uitreik om beter kontak met ander te bewerkstellig, moet dit op ‘n natuurlike wyse gebeur. Om dit geforseerd te doen, kan baie maklik ten koste wees van al die betrokke groepe se eiesoortige erfenis en kultuur en dan dien ons niemand se saak nie.

Terselfdertyd moet ons strewe om te bou op dit wat ons wel gemeenskaplik met mekaar deel, bv. die Afrikaanse taal. Reeds daarom is ek baie bly oor die groot vordering wat daar die afgelope rukkie gemaak is om rondom taalbelange geledere te sluit en uit een mond te begin praat, ongeag ander werklike of gewaande verskille wat mag
bestaan.

Die sleutel tot die saak is dat ons, met behoud van selfrespek en wedersyde respek, meer gereeld openhartig met mekaar moet kommunikeer oor dit wat vir ons belangrik is en ook waaroor ons, verantwoordelik, van mekaar verskil. In die proses mag ons
dalk ontdek dat daar baie meer gemeenskaplikhede is as wat daar op die oog af is, maar terselfdertyd kan dit ook groter begrip bring vir redelike en verklaarbare verskille en voorkeure, wat nie noodwendig verkeerd is nie.

Die Erfenisstigting het die afgelope paar jaar baie goed gepresteer tov die beskerming en uitbouing van die Afrikaners se fisiese erfenisgoedere, ten spyte van baie moeilike omstandighede en ‘n akute tekort aan hulpbronne en staatsteun. Ons sal graag die kundigheid en ondervinding wat ons opgedoen het, met ander kultuurgroepe wil deel, maar wil nie graag meerderwaardig of paternalisties voorkom nie,
veral omdat ons besef dat ons ook nog baie het om te leer. Ons wag dus ook op aanduidings van persone en groepe wat dalk van ons dienste en bystand gebruik wil maak en oop is vir wedersydse samewerking. Indien dit gebeur, sal daar dalk nog vinniger gevorder kan word op die pad van onderlinge begrip en die soeke na groter
gemeenskaplikhede.

Vriendelike groete

Gert Opperman
Hoof Uitvoerende Beampte
Die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting

Woordomskrywing:

“Afrikaners is persone, ongeag afkoms, kleur of geloof, wat hulleself
ten volle as Afrikaners beskou of as sodanig beskou word en hulleself
ook ten volle of met ‘n gedeelte van die inheemse Afrikaanse
kultuurgoedere vereenselwig en dit as hulle kulturele erfenis
beskou”.


DIE TAR SE VERKLARING:

DIE ERFENISSTIGTING SE SIENING VAN ‘N GEDEELDE ERFENIS -WOORDOMSKRYWING VAN AFRIKANER

Die TUSSENTYDSE AFRIKANERRAAD -TAR -het kennis geneem van RAPPORT se versoek aan die ERFENISTIGTING rakende bogenoemde aangeleentheid. U reaksie daarop, namens die ERFENISSTIGTING, is vir die TARvan besondere belang en is dit dan ook behoorlik onder die loep geneem. U uitnodiging aan geintereseerdes okommentaar word met dank aanvaar en word kortliks soos volg verwoord

G E D E E L D E E R F E N I S

1 - U siening ‘DAT DAAR NOG NIE NOODWENDIG GEPRAAT KAN WORD VAN N GEDEELDE AFRIKAANSE ERFENIS NIE’ is op sigself baie wyd gestel. Dit veronderstel ‘n verlede van gesamentlike/gemeenskaplike ondervindings oor jare heen as naasbestaande volke/gemeenskappe/groepe. Dit kan beide negatiewe en positiewe herinnerings oproep, en word in die volksgeheue as geskiedenis geliaseer en vind uiteindelik gestalte in die uitlewing van ‘n spesifieke volk se kultuur. Verskillende volke belewe en interpreteer dieselfde gesamentlike ondervindings verskillend en handel op ‘n eiesoortige wyse daarmee as kultuurbelewenis en/of kultuurerfenis

2 - Die begrip kultuurerfenis is egter baie meer spesifiek, en het te make met die hart en siel van ‘n Volk -dit ontstaan o.a. uit bogenoemde gesamentlike ondervindings, en word tot kultuurerfenis verhef vanweë die bydrae wat dit lewer tot die verbreding en uitbouing van ‘n Volk se eiesoortige kultuurgoedere

3 - Die begrip ‘GEDEELDE AFRIKANER ERFENIS’ kan dus niks meer wees as ‘n geskiedkundige verwysing nie. Die verwerking daarvan tot ‘n eiesoortige volkskultuur kan slegs die besit van ‘n enkele Volk wees en kan derhalwe nie met ‘n ander kultuur gedeel word nie

A F R I K A A N S E T A A L

1 - AFRIKAANS is die spreektaal van die AFRIKANER, en vorm die verbale vergestalting van die AFRIKANER se kultuur. Ook ander volke praat AFRIKAANS maar in verwerkte vorm as ‘n dialektiese weergawe van standaard AFRIKAANS

2 - U noem dat ‘ONS MOET STREWE OM TE BOU OP DIT WAT ONS WEL GEMEENSKAPLIK MET MEKAAR DEEL, NL. DIE AFRIKAANSE TAAL’ . Ja, insoverre dit die algemene welsyn van AFRIKAANS in die breë raak. In die besonder NEE, want ‘n taal, selfs ‘n gedeelde taal [soos BRIT-ENGELS, VSA-ENGELS, AUSTR-ENGELS] word in die volksmond van ‘n spesifieke volk omvorm tot ‘n eiesoortige uitdrukking van sy eie unieke volkswees en volksbesit.

(POSBUS 399 BEDFORDVIEW 2008)

RAADSLEDE:

DR POL DOUSSY, ERNIE FABEL, ALBERT DE VILLIERS, JAAP KELDER, FANIE VAN HEERDEN, ANNETTE KENNEALLY, LOU VAN ZYL, IVAN MARTENS, GIDEON MEIRING ALBERT SMOOK, JACO STRAUSS, TIM VAN DER WESTHUIZEN, MARK SINGERY.

UITEENSETTING:

A F R I K A N E R

1 - U woordomskruwing stel dit dat ‘AFRIKANERS IS PERSONE, ONGEAG AFKOMS, KLEUR OF GELOOF, WAT HULLESELF TEN VOLLE AS AFRIKANERS BESKOU ----’ Hierteenoor verwoord die TUSSENTYDSE AFRIKANERRAAD sy siening soos volg en soos vervat in sy verklaarde GRONDBEGINSELS artikel 2: DIE TAR BESKOU AFRIKANERS AS DIE AFSTAMMELINGE VAN DIE GEUSE, HUGENOTE EN VOORTREKKERS WAARUIT DIE BOEREVOLK/AFRIKANER ONTSTAAN HET, WAT SAAM MET IMMIGRANTE UIT ANDER BLANKE LANDE DIE AFRIKANERVOLK DEUR ASSIMILASIE GEVORM HET, EN WAT LATER STANDAARD AFRIKAANSONTWIKKEL HET. U standpunt dus dat die AFRIKANER ‘n mengelmoes van kleur, afkoms en geloof is, is sonder substans en is ‘n growwe veralgemening van alles wat vir die AFRIKANER heilig is

Laastens meld u dat ‘DIE ERFENISSTIGTING DIE AFGELOPE PAAR JAAR BAIE GOED PRESTEER HET TOV DIE BESKERMING EN UITBOUING VAN DIE AFRIKANERS SE FISIESE ERFENISGOEDERE’ Graag sou die TAR so ‘n prestasie-verslag onder oë wou neem en rig hiermee formeel so ‘n versoek aan u. In teenstelling hiermee is oa die volgende onhebbelikhede van die ERFENISSTIGTING skerp in die geheue van behoudende AFRIKANERS vasge-ets

A -Popkonsert in senotaafsaal van monument

B -Onthulling van DANIE THERON se standbeeld deur Nelson Mandela

C -Geposeerde foto van bruin vrou op senotaaf deur FAK (FOUT, dit was die ATKV - Thys)

D -Weiering om reuse VIERKLEUR by monument ten toon te stel, en nog meer

Alles in ag genome is die TAR se oorwoë mening dat die ERFENISSTIGTING, soos vele ander van die voorheen volkseie organisasies, deel van die groot integrasie-klug geword het wat sonder stamp of stoot besig is om die AFRIKANER se kultuurerfenis weg te dobbel.

Ons volstaan met die siening dat ‘n GEDEELDE ERFENIS - sou dit moontlik wees - ONVOORWAARDELIK SAL LEI TOT GEMEENSKAPLIKHEID, DAN TOT GELYKSTELLING, DAN TOT VERBASTERING EN UITEINDELIK DIE ONVERMYDELIKE VERNIETIGING VAN DIE AFRIKANERVOLK

Die volksdigter, G A WATERMEYER, verwoord in die volgende strofes die kanker van geweenskaplikheid en diesulkes soos u wat dit propageer

“NOG KRUIP DAAR HARTE KOUD VAN HAAT TELKENS WANNEER ONS VOLKSVAS PRAAT

BLY BLANK, MY VOLK, BLY BLANK IN GEES LAAT HELDERHEID JOU HARTSLAG WEES

DIE WAT OM KLEURGELYKHEID KREET IS HUL WAT NIE DIE KRINGLOOP MEET’

en ten laaste die wysheid en versiendheid van Dr Verwoerd 12 Desember 1960

‘EK GAAN NIE DIE GESKIEDENIS IN AS DIE MAN WAT DIE AFRANERVOLK NA VERBASTERING GELEI HET NIE’

Dankie weereens vir die geleentheid om kommentaar te kon lewer.

19.11.07

KORTLIKS OOR MAAS EN RAPPORT

Die yslike storm wat losgebars het rondom Deon Maas se omstrede Satans-artikel in Rapport, het natuurlik ‘n yslike spul stof opgeskop - sommige daarvan doelbewus om te probeer om ’n paar feite te verdoesel.

Die stof het nog lank nie gaan lê nie, maar ’n hele paar dinge begin al duidelik word:

1. Die ongekende opwelling van e-posse en SMSe (ek hou van die woord vonkpos vir laasgenoemde maar dit wil blykbaar nie posvat nie) wat ‘n boikot van Rapport (en blykbaar nog sterker optrede) aangevuur het, is nie bloot skielike en onverwagte optrede van ’n klomp “verkrampte, bekrompe, onverdraagsame” Christen-Afrikaners nie. Dit is eintlik net die uitbarsting van ‘n opwelling van woede, frustrasie en wrewel wat al geruime tyd - ek sou sê selfs jare, maar beslis die afgelope jaar of twee - in Afrikanergeledere voorkom oor die benarde en magtelose situasie waarin hulle hul sedert 1994 bevind.

Nie alleen voel hulle dat hulle mislei, bedrieg, belieg en verneuk was nie, maar hulle kan nêrens hul frustrasies en besware stel en aandag laat kry nie want feitlik al die media - met die uitsondering van Radio Pretoria en Die Afrikaner - verkondig ’n ideologie en ’n boodskap dat ou Afrikanerwaardes uitgedien is, die Afrikanervolk liefs moet verdwyn deur samesmelting met volksvreemdes en andersdenkendes, en ons nog nie genoeg gely het vir die sonde van apartheid nie. Ander sieninge kry net af en toe aandag - in so ‘n mate dat mense soos Giliomee en Jaap Steyn wat enkele jare gelede met ‘n sekere mate van agterdog betrag is, al hoe meer in Afrikanergeledere as sterk en onbevange stemme beskou word omdat hulle nie skroom om ‘n ander aksent op sekere dinge te plaas nie.

Hierdie Maas-affêre was maar net die laaste strooi, die vonk wat die smeulende kruitvat laat ontplof het.

Want laat ek nou vir Rapport en sy genante wat dink dat dit net ‘n klomp bekrompe Christen-Afrikaners was wat aan hierdie ding deelgeneem het, vertel dat dit net nie waar is nie. Die e-posse en loopfoonboodskappe is ook baie ywerig aangestuur deur mense wat nie baie sterk voel oor Christelikheid en ‘n vreemde ding soos Satanisme nie, maar hier hulle kans gesien het om die linksgerigte, anti-Afrikaner element wat in sekere media hoogty vier, aan te vat. Dit was met groot genot dat hulle aan die veldtog teen Maas kon deelneem want hy is beskou as een van die hoofeksponente van daardie anti-Afrikaner element. Dit kon net sowel een van die ander soos Max, Sampie, Jan-Jan, Boesak, Tutu en dies meer gewees het wat die vonkie laat ontbrand het.

Nee, ek praat nie van myself nie want ek was nie een van die boodskapverspreiders nie, hoewel ek ook verskeie boikot-versoeke ontvang het. Ek kon nie by ’n boikotaksie aansluit nie want na ’n jaar of twee warin ek weens spesifieke omstandighede op die hoogte van nuus en menings in die Afrikaanse media moes bly en dus koerante moes koop en selfs TV-nuus kyk, het ek besluit dat ek gerus sonder Rapport kan klaarkom toe aangekondig is dat die vent Maas vir hulle gaan skryf. Ek was toe al in die tweede week van my eie “boikot” toe hierdie een begin!

En as enigeen dink ek praat twak as ek sê dit was nie net bekrompes wat deelgeneem het nie, gaan kyk wat deur wie kwytgeraak is op sekere forums, blogs en ander elektroniese besprekingsplekke.

2. Menings van sogenaamde kenners dat die boikotveldtog en Maas se uitskoppery ‘n ernstige knou is vir persvryheid, is die grootste klomp twak in ‘n lang geskiedenis van twakpratery oor persvryheid.

In werklikheid was hierdie ‘n reuse oorwinning vir vryheid van spraak en die reg om andere te oortuig om saam met jou te stem en teen onaanvaarbare dinge op te tree. En dit alles danksy die hedendaagse wonder van die elektronika.

Want dis was die reg om jou mening te lug in e-posse, om kortboodskappe op jou selfoon aan elkeeen op jou lys van kontakte te versprei, om pleidooie vir ‘n boikot teen Rapport op besprekingsforums en kletskamers in groot vet letters te plaas, wat hier geseëvier het. Ja, dis reg. Vir die eerste keer het mense werklik besef dat hulle danksy die era van rekenaars, die internet en gesofistikeerde loopfone die reg het om hul mening te lug, die vermoë het om saam te span en iets soos Maas se afdanking te bewerkstellig en dat die tyd dat hierdie “vryheid van spraak” net in die redakteurs van koerante gesetel was, iets van die verlede is.

Dis ‘n nuwe era wat hier ingelui is en die einde daarvan is onvoorspelbaar, maar dit kan alles net hoogsopwindend wees! Hier kom nog vir jou ‘n ding of twee!

Wanneer “persvryheid” en moontlike aantasting daarvan deur mense soos Anton Harber en Raymond Louw opgerakel word (soos hulle hede Sondag weer in Rapport doen), is dit eintlik ‘n pleidooi vir die reg van ‘n individu of ‘n groep individue in ‘n mediamaatskappy om hulle unieke, enkele mening wyd en syd te kan verkondig. Dit is waar dat hulle dit klee in mooi woorde van “vryheid van spraak”, maar die gewone ou, die koerantleser en die TV-kyker en die andersdenkende, geniet ook daardie vryheid van spraak in teorie, maar in die praktyk kan hy dit nie toepas nie - beslis nie in hierdie land nie - nie onder die huidige regering nie, maar ook nie onder vorige NP-regerings nie.

Want die doodgewone werklikheid is dat dit waarskynlik sedert die vyftigerjare gans onmoontlik vir ‘n individu, selfs ‘n groep vermoënde individue geword het om koerante te stig en uit te gee en so hul eie vryheid van spraak te beoefen. Dit kos miljoene om ‘n koerant te begin, dit kos tien keer soveel om ‘n TV-stasie te begin - selfs al kry jy ‘n lisensie.

Die doodgewone werklikheid is ook dat selfs ‘n koerantredakteur nie ongebreidelde “vryheid van spraak” of persvryheid het nie. Dit is deel van die mediawerklikheid dat mediagroepe gewoonlik een of ander politieke party of siening of ideologie steun en dit word van redakteurs verwag om in die breë daarby in te val.

Dit is nie ‘n nuwe ding nie. Dit was die situasie sedert die heel eerste koerante in die land verskyn het en dit was veral die situasie in die Afrikaanse mediagroepe die afgelope 100 jaar. Die stigters en direksies van Afrikaanse koerante het in beginsel besluit dat hulle die Nasionale Party (en vir ‘n kort ruk die Verenigde Party van Hertzog en Smuts) sou steun. Redakteurs is aangestel met die ongeskrewe maar vaste aanvaarding dat hulle in die breë by daardie beginsel sal hou. Hulle kon aspekte van die party se beleid en sieninge (hetsy in regering of nie) ontleed, kritiseer en selfs probeer beïnvloed, maar die party afskryf en ‘n ander een begin steun? Nooit in der ewigheid nie.

Ek het nooit vir Engelstalige koerantgroepe gewerk nie, maar uit my noue kontak met die politieke skrywers en redakteurs van hierdie koerante, het dit geblyk dat presies dieselfde vir hulle gegeld het. Eendag, as die joernalistieke muse my weer ‘n klap of twee gee, vertel ek van die probleme wat hierdie aspek van “persvryheid”vir sommiges soos wyle Tertius Myburgh - en in ‘n geringe mate ook vir my en van my kollegas - gebring het.

Nou is dit helaas so dat met die oorname van die ANC en daarmee die Engelstalige media se angstige gekruip by die nuwe heersers deur swartes as rubriek- en politieke skrywers en as redakteurs aan te stel, daar vinnig onder hierdie mense die idee ontstaan het dat as jy by ‘n koerant (of ‘n TV- of radiostasie) as verslaggewer of omroeper of so iets aangestel word, jy onmiddellik ‘n ruim, onbeteulde en onbegrensde “vryheid” geniet om te skryf en te sê wat jy wil.

Dit het, na wat ek verneem, soms komiese insidente by hierdie instansies afgegee, maar daar het nogtans ‘n nuwe en skewe idee van “persvryheid” ontstaan, en dit wil soms lyk of selfs mense soos Harber en Louw daardeur aangetas is. Dit is hierdie skewe sienings wat meebring dat Rapport se afdanking van Maas deur sommiges as ’n “inbreuk” op daardie vryheid gesien word.

Rapport verduidelik dat Maas ’n deeltydse medewerker was, maar deeltyds of heeltyds, die werklikheid is dat geen rubriekskrywer of redaksielid van ’n koerant sy ou meninkie kan lug as dit nie die redakteur van die koerant (of dan sy luitenante in sy hoofredaksie as hy nie beskikbaar is nie) behaag nie.

Dus, Maas kan net so min op “vryheid van spraak” aanspraak maak as wat ek kan EIS dat Rapport my menings plaas.

3 Dit bring my by ’n belangrike punt in die hele kwessie: Dat Maas se kop gerol het, verskaf groot genoegdoening, maar hy is nie al een wat hier verantwoording verskuldig is nie. Tim du Plessis behoort eintlik te verduidelik hoekom hy Maas se satanisme-rubriek vir plasing goedgekeur het. Hy het dit klaarblyklik vóór publikasie onder oë gehad. Hy het dus geweet wat hy doen en die finale verantwoordelikheid berus by hom. Maar moenie nou beweer dat ek ‘n nuwe anti-Tim veldtog wil laat begin nie!

4. Die laaste punt in ‘n inset wat alweer te lank is, gaan oor Rapport se “erkenning” dat die besluit om Maas te pos, op grond van “kommersiële” oorwegings geneem is. Daar was glo sprake van verspreiders en verkopers wat wou weier om Rapport te hanteer. Daar is diegene wat Rapport wil verkwalik omdat hy om “kommersiële” redes so opgetree het. Maar hulle vergeet klaarblyklik dat Rapport om presies hierdie redes vir Maas as rubriekskrywer aangestel het.

Baie duidelik is daar aanduidings in sirkulasiesyfers en lesersgetalle dat dinge nie meer so voor die wind gaan met Rapport nie. Die redakteur van Sondag, ‘n mededinger in dieselfde stal as Rapport, het met blad se verskyning erken dat Rapport se syfers ‘n afname toon.

Maas het met sy rubriek in BY (bylaag by Naspers se dagblaaie) en ook sy optrede elders, heelwat reaksie uitgelok - sowel vir as teen, maar veral teen. Dit was mos so duidelik soos daglig dat deur Maas aan te stel, Rapport gehoop het om diegene wat Maas haat of geniet, as lesers te lok en so sy verkope op te stoot - puur en suiwer “kommersiële” redes!

Nugter weet wat hy nou gaan doen, maar iets sal hy moet doen om lesers iets anders te gee as die gereelde spul vervelige en so dikwels anti-Afrikaner skrywers en bydraers.

Soos iemand op een van die internetforums dit gestel het: Rapport kan nou gerus ook die byl inlê onder mense soos Heinrich Wyngaard, Jacob Rooi en ander regstellende aksie aanstellings.

Goeie idee!

10.11.07

RED NOU 'N VOLK MET SO 'N ATKV

Deel 1

Met die groot oorgawe van 1994 het ‘n hele paar eertydse Afrikaner-organisasies die kluts skoon kwytgeraak in hul ywer om in die nuwe bedeling in te pas en deel te neem. Hulle het - in ‘n sekere opsig heel verstaanbaar - die destydse propaganda van versoening, samewerking en die bou van ‘n reënboognasie nie alleen geglo nie, maar dit omhels.

Dit was eintlik net ‘n handjievol van hulle: die ATKV, die Afrikaner(broeder)bond, Afrikaanse Handelsinstituut, AgriSA, die ou Voortrekkers en ‘n beduidende klomp mense in die leierskappe van die Afrikaanse kerke..

Daar was mense wat geglo het dat die FAK toenteryd ook onder daardie organisasies getel kon word. Dit was egter juis die FAK wat eerste begin het om nuwe bloed in te voer wat die organisasie weer nader aan sy Afrikanerbasis gebring het sonder om heel regs oor die afgrond te tuimel. Ander, soos die Afrikanerbond, begin deesdae weer geluide maak wat ’n mens laat hoop dat hulle stadig maar seker besig is om terug te keer na hulle wortels en hul volk. Maar dit lyk nie of die ander enigiets geleer het nie.

Ek het reeds hieronder bepleit dat die AHI sy naam verander want dit is lank nie meer ‘n “Afrikaner” instansie nie en die leier van die Voortrekkers is besig om op ‘n harde manier te leer wat die evangelie van versoening in die kerk beteken.

Die een organisasie van hierdie klomp wat die spoor totaal byster geraak het en net verder en verder wegbeweeg van sy basis en sy ankers in die Afrikanervolk, is die ATKV. Wat veral so tragies is, is dat die mense in beheer van hierdie organisasie net nie wil hoor en verstaan dat hulle besig is om voeling met die Afrikaner te verloor nie. Nee, hulle neuk voort asof hulle en net hulle weet wat reg is.

Hulle probleem is natuurlik dat hulle nie kan of wil insien dat die politieke omgewing drasties verander het sedert Mbeki en die militantes in die ANC die bewind oorgeneem het nie en dat die ANC net mooi vere voel vir versoening en samewerking met veral die Afrikaner. Hulle gebruik net sekere Afrikaners as bruikbare gekke (“useful idiots“).

Sou enigeen vir Johan van Schoor, voorsitter van die direksie van die ATKV, wys op kritiek wat ek hier op die ATKV uitspreek, sal hy seker onmiddellik antwoord dat ek nou al meer as drie jaar lank ‘n vete teen die organisasie voer, dat ek ‘n jaar of wat gelede as lid van die ATKV bedank het en dus nie meer enige inspraak in sy doen en late het of kan hê nie en dat my sieninge en voorstelle vir aanpassing in die ATKV summier deur hulle verwerp is.

En hy is nie heeltemal verkeerd nie, behalwe vir so ou puntjie of twee.

Dit is waar dat ek sedert 2004 in ‘n hele paar skermutselings met die ATKV en van sy top manne soos Frits Kok betrokke was. Maar dit is ook waar dat die gewone ATKV-lid en andere nie die vaagste benul of kennis hiervan of van die baie geldige besware wat ek teen die ATKV se sieninge en optredes ingebring het, het nie. Dit is nie net deur die ATKV en sy topmanne verbloem en vir gewone lede weggesteek nie - ons sogenaamde vrye en onverskrokke Afrikaanse media het nie ‘n woord daarvan gerep nie, behalwe vir ‘n niksseggende beriggie of twee. Die enigste wat wel hieroor berig het, was natuurlk Radio Pretoria.

Dit is ‘n lang maar interessante verloop van gebeure en ter wille van die rekord en van onderskraging van standpunte wat ek hier stel, sit ek dit taamlik volledig uiteen in ‘n aparte inset. (Sien Onderonsies met die ATKV hieronder).

Dit is my onwrikbare siening dat die ATKV-direksie en sy top amptenare die organisasie:

@ Sedert 1994 op die verkeerde baan geplaas het en hardkoppig weier om van daardie standpunte af te sien;

@ Die direksie en bestuur ‘n onbehoorlike en uiters ondemokratiese houvas op die organisasie het en eenvoudig nie toelaat dat enigeen met ander sieninge in top poste aangestel of selfs verkies word nie;

@ Dat besluite en aksies van die direksie en bestuur dikwels baie dig gehou word vir die gewone lid en die algemene publiek.

@ Dat daar halsstarrig, selfs verkramp en bekrompe, vasgeklou word aan ‘n reeds uitgediende siening van versoening, samewerking en eensgesindheid met die heersende ANC-regime en dat niks wat daardie regime doen, die ATKV-heersers van mening kan laat verander nie;

@ Dat daar ‘n yslike gaping in oortuiging en doelwitte tussen die meeste lede aan die een kant en die topbestuur aan die ander kant, bestaan, maar dat dit op valse en bedrieglike wyse toegesmeer en verswyg word want die top mense weet dat hulle vinnig sal waai as die waarheid moet uitlek. Ja, ek beskuldig die ATKV se direksie en sy topbestuur van doelbewuste leuens en bedrog, van misleiding en verwarring wat geskep word deur die gebruik van mooiklinkende frases en van verswyging van doelwitte en beleid wat hulle baie goed weet hulle nie met die meerderheid van hulle lede deel nie.

@ Dat daar snaakse dinge aan die gang is met die lidmaatskap van ‘n handjievol Kleurlinge en ‘n enkele tak wat uit Swartes bestaan.

@ Dat al hierdie dinge in die finale instansie gaan oor geld - oor die miljoene wat die ATKV beheer met sy oorde en sy groot inkomste aan ledegeld. Wat vir my kommerwekkend is oor hierdie aspek is dat dit Afrikanergeld is waarmee hier geploeg en gewoeker word - dikwels tot ondermyning van die Afrikanervolk.

ATKV - DEEL 2

Die ATKV-bestuur se standpunt en benadering is hoofsaaklik deur sy voorsitter, Johan van Schoor, uitgespel in sy voorsittersrede op die onlangse kongres en in ‘n uitgebreide artikel wat in Beeld verskyn het.

Kortliks stel hy die volgende:

* Die ATKV is nie ‘n eksklusiewe Afrikaner-organisasie en gaan nie laer trek nie. “Ons wil hier saambly met ander mense,” het hy gesê.
*Die Afrikaanse kultuur, kennis en kreatiwiteit is onmisbaar deel van ‘n suksesvolle Suid-Afrika. Daar is egter ruimte vir verskillende kulturele gebruike en gewoontes.
*Die ATKV sluit alle Afrikaanssprekendes in sy visie in en sluit niemand uit nie
Hy (Van Schoor) het ‘n probleem met Afrikaanse mense wat ander Afrikaanse mense uitsluit.
*Moedertaalonderwys is vir die ATKV baie belangrik, maar dit mag nooit gebruik word vir die behoud van wit skole nie.
*Die ATKV se lede is verteenwoordigend van die Afrikaanse gemeenskap, maar is nog nie verteenwoordigend genoeg van die bruin gemeenskap nie.
*As Afrikaanse kultuurorganisasie staan die ATKV voor in die transformasiery.
*Dit is nie waar dat die ATKV sy rug draai op die erfgoedere van die Afrikaner nie.
Daar bestaan nie iets soos ‘n “naatlose” Afrikaanse gemeenskap nie. Dit kan die beste as ‘n lappieskombers beskryf word wat nie net in kleur nie, maar ook in patrone verskil.
*Die Afrikaner is deel van die Afrikaanse gemeenskap, maar die vryheid van assosiasie berus by die individu.

Dit is ‘n yslike spul stellings en met die eerste oogopslag sal heelwat mense nou nie ernstig fout vind met die meeste daarvan nie al is daar sekere dinge wat ‘n mens laat wonder. Maar krap ‘n bietjie die vernis en die versiersuiker weg en dinge lyk gans anders.

Net eers ‘n stelling of twee van my eie waarteen bostaande beskou moet word:


Daar bestaan nie iets soos ‘n “Afrikaanse kultuur” nie. Daar is wel ‘n Afrikaner-kultuur en seker ook ‘n Griekwa- en ‘n Khoi-San-kultuur (of dalk twee apartes). Maar ek dink nie ‘n mens kan van ‘n Kleurling-kultuur praat nie. Die punt is bloot dat kultuur nie in ’n taal gesetel is nie, maar in ‘n volk of selfs dan ‘n beduidende groep. Natuurlik is taal die belangrikste uitdrukkingswyse van ‘n kultuur en natuurlik deel ons en die Griekwas Afrikaans om gestalte aan ons kulture te gee en natuurlik is daar ruimte vir respek en erkenning van mekaar se eie en ook vr samewerking om ons gemeenskaplike taal te laat gedy, maar dit maak nog nie van ons een enkele volk nie.

Dit is dus misleidend om te praat van die “Afrikaanse gemeenskap”. Dit impliseer ‘n enkele kulturele, selfs maatskaplike en ook politieke entiteit wat eenvoudig nie bestaan nie en nie kan bestaan nie. Die term is in sigself hoogs politiek gelaai en as sulks ontoereikend om almal en al die verskillende “gemeenskappe” wat Afrikaans as voertaal het, saam te bind. Sy beeld van ’n lappieskombers is verkeerd en misleidend. En buitendien is dit mos ’n pure bontspul!

Terwyl Van Schoor (VanS) darem nog in teenstelling met Frits Kok die woord Afrikaner gebruik en skynbaar ’n verskil trek tussen Afrikaners en sekere ander gemeenskappe en volke, gebruik hy nie die woord “volk” nie. Hy sal dalk aanvoer dat hy dit impliseer deur die term Afrikaner te gebruik, maar dit lyk vir my na ’n doelbewuste vermyding van die term.

Nou kan ons na enkele stellings kyk:

VanS sê hy het ’n probleem met Afrikaanse mense wat ander Afrikaanse mense wil uitsluit. Hoekom het hy so ’n probleem? Wat is daarmee verkeerd om andere uit jou volksgeledere uit te sluit as hulle nie jou kultuur, jou geskiedenis en jou ideale deel nie? Wat is daarmee verkeerd om mense van ander kulture en gebruike selfs uit byvoorbeeld jou kerk te sluit as hulle onaanvaarbare en vernederende voorwaardes vir kerkeenheid stel? Kom ons neem ’n baie praktiese voorbeeld: Geloftedag. Hierdie herdenking van die Slag van Bloedrivier is ’n suiwer Afrikaner ding. Dit het vir die Kleurlinge en andere hoegenaamd geen betekenis nie. As ons nou Geloftedag gedenk, sluit ons daardie ander mense mos uit. Trouens, hulle sluit hulself eintlik uit want hulle stel eenvoudig nie belang in daardie deel van ons geskiedenis nie. Moet ons dan Geloftedag in die vullisblik gooi net om andere nie uit te sluit nie? Dieselfde geld vir ons herdenking van die Anglo-Boereoorloë, verering van ons helde soos Paul Kruger (en De la Rey!!) en vir ander dinge in die Afrikanergeskiedenis.
Volgens VanS sluit die ATKV alle Afrikaanssprekendes in in sy visie in en sluit niemand uit nie. Wat presies is daardie visie? Net die behoud van Afrikaans as taal of die voortbestaan van die Afrikanervolk ook? Ek kry die indruk dit gaan vir VanS en sy genante eintlik net oor die taal. Die res is onderhandelbaar. Wel, hoe belangrik en goed dit ook al is om Afrikaans se voortbestaan te verseker, sal daar niks van kom as die Afrikanervolk nie meer bestaan nie want dit is eintlik in die volk dat die wese en siel van die taal gesetel is. Vir die ander is Afrikaans bloot ‘n gerieflikheidsmeganisme van die oomblik en maklik vervangbaar -- soos reeds besig is om die Kaap te gebeur.

VanS se stelling dat moedertaalonderwys belangrik is, maar nie as ‘n verskoning vir wit skole moet dien nie, is tipies van die kruiperige, “versoenende” houding van diegene wat ek as Afrikaanses bestempel. Behalwe vir die Kaap, is Afrikaanssprekende kinders in ons land feitlik uitsluitlik wit. Skole wat op grond van Afrikaans as moedertaal ingerig is, sal feitlik uitsluitlik wit bly - en dis goed so want ons het die afgelope jare gesien wat gaan in ons skole aan as die volksvreemdes - swart of bruin - se getalle die oorhand kry.

In watter opsigte staan die ATKV voor in die transformasiery? Waar en hoe probeer hy transformeer en na wat? VanS erken dat hulle probeer om meer bruines as lede te werf, maar dit sukkel blykbaar. Ek het op die 2005-kongres ‘n paar bruin afgevaardigdes daar gesien, maar hulle het maar bra verlore gelyk. Die ATKV het glo een tak in Soweto. So ‘n klompie maande gelede het ‘n radaksielid van Beeld daar besoek gaan aflê en gevind dat die taklede met mekaar Engels praat! O griet! Hulle wil nie transformeer na Afrikaans nie. Moet die wit ATKV-lede nou transformeer na Engels? Dit is hierdie soort naïef--onnosele uiitsprake wat ’n mens laat lag, maar ook diep bekommerd maak oor mense soos VanS se leierskap.

Een van die dinge wat my groot vraagtekens oor die doel, beleid en sieninge van die ATKV-bestuur laat stel is diegene wat hulle nooi om hul kongresse toe tespreek: Net in die afgelope paar jaar was dit Willie Esterhuizen (ja, die een van die Kaap), FW de Klerk, Conrad Sidego (Kleurlingjoernalis), Jonathan Jansen (Afrikanerhater kleurling-akademikus) en een of meer van Naspers se kleurlingjoernaliste.

Sidego het op die jongste kongres sy kans waargeneem om snedig, maar verkeerd, na Orania as “rasbehep” te verwys. Dit is net die soort van houding wat hom by die ATKV se bestuur ‘n sterk kandidaat kan maak om by Coenie oor te vat! (Hou hierdie spasie dop!)

Ten slotte: My raad aan die ATKV is om weer nader te beweeg aan sy wortels en sy ankers in die Afrikanervolk sonder om sy goeie bande met ander Afrikaanssprekende VOLKE te verwerp. Daar IS ruimte vir ‘n organisasie wat sulke samewerking wil bevorder, maar slegs as dit op die regte basis van eie volkere geskied.

En as die ATKV nie wil nie, is my versoek dieselfde as aan die AHI: Verander asseblief julle naam en dan ook julle doelwitte en oogmerke soos steeds in julle grondwet gestel word. Die gebruik van “kultuur” in dieselfde sin of naam as “Afrikaans” was miskien 50, 60 jaar gelede korrek. Dit is vandag misleidend en vals.

ONDERONSIES MET DIE ATKV

My onderonsies met die ATKV het doer in 2004 begin toe ek skerp gereageer het op eretoekenning wat die ATKV aan Beyers Naude gegee het kort voor sy dood. Ek het in ‘n brief aan Die Taalgenoot (TG) lyfblad van die ATKV, daarop gewys dat FA van Jaarsveld in sy geskiedenisboek Van Van Riebeeck tot PW Botha op bladsy 563 skryf dat Naude by die ANC aangesluit het en ook ‘n lid was van MK en dat hy op ‘n konferensie naby Pretoria gevra het dat jong wittes hulle verset teen diensplig. Dit was verraad teen wittes en veral Afrikaners en Naude was in my oë ‘n terroris en nie ‘n christen nie, soos hy graag deur sy vriende beskryf word nie.

Ek het ‘n telefoonoproep van Johan van Schoor gekry wat my genooi het om saam met hom te gaan eet. Ons het openlik en heel gemoedelik met mekaar gesels, maar kon nie saamstem oor Naude nie.

Dit was weliswaar ‘n besondere gebaar van Johan om die kwessie persoonliik oor ‘n broodjie en ‘n bier te bespreek, maar ongelukkig het dit ‘n gevolg gehad wat my kwaai gegrief het: my brief is nooit in TG gepubliseer nie. Die gewone ATKV-lid weet tot hede nie van die baie geldige beswaar wat daar teen die toekenning aan Naude bestaan nie.

Kort daarna verskyn daar ‘n foto in TG van ‘n bekende bruin sepiester wat in verskillende uitrustings by die Voorstrekkermonument afgeneem is. Een van die foto’s het haar getoon waar sy in ‘n taamlike uitlokkende posisie bo-op die Sarkofaag lê - ‘n mens kan maar sê bo-op die simboliese graf van die Voortrekkers.

Ek en andere het in briewe aan TG skerp teen die skending van die Afrikaner se heiligdom te velde getrek en daar het uiteindelik vier briewe langsmekaar in TG verskyn - twee daarvan krities van die foto’s, die ander twee skerp krities van diegene wat dan beswaar het. Diesulkes is sonder meer bestempel as verkramp en agterlik. Een van hierdie briewe is vermoedelik deur ‘n familielid van ‘n bekende ATKV-beampte geskryf - wat deur ‘n ATKV-lid wat hom ken as “daardie bleddie kommunis” bestempel is, maar ek kan nie vir hierdie tipering instaan nie!

Die ATKV het probeer om die foto af te maak as maar net ingenomendheid van die fotograaf met die Monument en sy omgewing. Maar dinge blyk toe baie erger as dit te wees.

Die destydse redakteur van TG, Dawid Brand, het die gebruik gehad om by sy gereelde rubriek aan die begin van die tydskrif ‘n foto van hom by een of ander bekende oor wie daar ‘n artikel uin daardie uitgawe verskyn, te plaas. Hy maak toe die ou foutjie om dit ook met die betrokke kleurlingmeisie te doen. En dit is sewlfs vir ‘n leek duidelik dat hierdie foto tydens die fotosessie by die Monument geneem is. Brand was dus persoonlik daar en ten volle bewus van wat daar gebeur het - en dalk was hy die inspirasie agter die foto op die Sarkofaag.

Ek het weer eens ‘n brief aan TG gestuur waarin ek Brand en Frits Kok aangekla het van doelbewuste optrede en verdoeseling van die waarheid. Daar het niks van gekom nie.

Ek het toe ‘n formele klag teen die twee by die direksie van die ATKV ingedien en is so ‘n maand of wat later meegedeel dat dit oorweeg is en dat die twee here “aangespreek” is.

Maar weer het daar nie ’n woord daarvan in TG of enige ATKV-mededeling verskyn nie. Die gewone lid weet van geen sout of water nie. En selfs ek weet tot hede nie presies wat die aard van daardie “aanspreking” was nie.

Met die kongres van 2005 het ek probeer om hierdie kwessies deur middel van voorstelle vir besprekingspunte ter sprake te bring. Maar my voorstelle is netjies nek omgedraai deur Sakkie Kotze, destyds ‘n lid van die direksie van die ATKV en “voog” van die tak waar ek ingedeel was.

Maar ‘n ou aktivis soos ek laat hom nie deur sulke jakkalsdraaie afsit of mislei nie. Ek het toe ‘n pamflet opgestel en dit persoonlik uitgedeel aan afgevaardigdes by die kongres wat by Buffelspoort gehou is. Ek het ‘n eksemplaar vir Van Schoor laat aanstuur en syne persoonlik vir Frits Kok gegee. Hy het toe al met ‘n hele paar daarvan in sy hand gestaan en wou van my weet wie my die reg gegee het om dit uit te deel. My eie reg, het ek hom meegedeel. Dit blyk toe dat die direksie en amptenare kwaai besig was om die pamflette by kongresgangers af te vat omdat dit dan nie ‘n “amptelike” dokument sou wees nie. Dit het hulle nie baie gehelp nie, want ek het ‘n hele paar telefoonoproepe en ook ‘n brief of twee gekry van lede wat gesê het dat hulle volmondig met my saamstem.

Maar weer eens het die meeste gewone lede van die ATKV nie ‘n woord hiervan geweet nie. Selfs vriende wat saam met my geloop het in die besware teen hierdie optredes, het nie eens gehoor van my pamflet nie want die afgevaardigdes van hulle takke het nie daarvan gehoor nie!

Kort daarna verskyn daar berigte oor ‘n voorlegging wat Kok voor die Menseregte-kommissie gemaak het waarin hy aangevoer het dat slegs Christene lede van die ATKV kan word. Feitlik gelyktydig daarmee verskyn ‘n artikel onder sy naam in TG waarin hy weer dieselfde stelling maak.

Maar in die grondwet (akte van oprigting) van die ATKV staan daar nie ‘n woord hieroor nie. Dit is waar dat daar staan dat die ATKV onbeskaamd die Christelik geloof steun en dit is waar dat daar op die aansoekvorm om lidmaatskap staan dat enige aansoeker die Christelike geloof moet “respekteer”. Maar dit is mos nie dieselfde as om te sê dat hy/sy verklaar dat sy/hy ‘n oortuigde Christen is nie! Enige Boeddhis, Moslem en selfs ateïs kan so ‘n vorm sonder wroeging teken want - anders as baie Christene - het die meeste van hierdie mense “respek” vir ander se geloof.

Weer eens het my brief van beswaar aan TG nie die kolomme van die tydskrif gehaal nie. Die gewone lid weet nie eens dat daar besware teen Kok se sieninge was nie!

Ek gaan toe maar ‘n stappie verder en gaan kla Kok by die MRK aan dat hy vir hulle gelieg het. Maar die MRK omseil die ou probleempie deur aan te voer dat ‘n bevinding wat hulle gemaak het oor die ATKV en Moslems wat lede wou word, nie op hierdie sieninge van Kok gegrond was nie. Dat ek dit nie beweer het nie, pla die MRK min. Maar Kok en kie het seker meer vriende in die MRK as ek! Ondertussen het Van Schoor ook in ‘n onderhoud met Radio Pretoria soortgelyke uitlatings oor die ATKV en Christenskap gemaak wat, om die minste te sê, nou nie juis mooi met die feite gestrook het nie.

Dit was net hier waar ek besluit het dat ek nie kans sien om verder elke maand R40 in die koffers van hierdie spul te stort nie en ek het my lidmaatskap gestaak met ‘n briefie waarin ek duidelik te kenne gegee het dat ek nie bereid is om met mense wat so blatant lieg saam te werk nie.

Vreemd genoeg, kondig Kok betreklik kort na hierdie dinge sy uittrede aan as uitvoerende direkteur. En saam met hom loop Dawid Brand - maar geen aankondiging of hulle self gespring het of gestamp is nie!

Selfs die Broderbond kon in sy dae nie sy sake so dig en geheim hou nie!

22.10.07

COENIE GEE VINNIG PAD BY DIE ATKV

Wat gaan aan by die ATKV? Is die monolitiese, geslote granietblok wat die topbestuur die afgelope jare sorgvuldig geskep het, besig om die een kraak na die ander te kry? En waar gaan dit eindig - ‘n Afrikaner-organisasie wat weer terugkeer na sy wortels of een wat totaal en al in die hande van Afrikanerhaters en volksvreemdes verval?

Die rede vir hierdie yslike vraagteken oor die toekoms van die ATKV is die skielike en hoogs omstrede einde van Coenie de Villiers as Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die organisasie nadat hy net ’n jaar gelede in die pos aangestel is in die plek van Frits Kok wat net so skielik padgegee het.

Met die skrywe hiervan was daar nog nie berigte in die media wat ek gesien het oor Coenie se vertrek nie. Ek het dit Donderdag, 18 Oktober, op die ATKV se webwerf gesien in ’n mediaverklaring wat dieselfde dag vrygestel is. Miskien is dit vir sommiges wat hier lees ook nuus, maar dit staan daar op wit en swart.

Volgens die verklaring is hy nie afgedank nie en het glo ook nie bedank - hy word net in ’n ander hoedanigheid aangewend nadat hy ’n hoë pos by ’n advertensie- en reklame-agentskap in Johannesburg aanvaar het. Hy is nou kultuurkonsultant van die ATKV - maar klaarblyklik net in ‘n deeltydse hoedanigheid.

Nou kan hulle maar met woorde en begrippe speel soos hulle wil, maar in my boek beteken dit hy is nie meer in die top kultuurpos by die ATKV nie, die konsultantstorie is waarskynlik ‘n tydelike een en oor wat presies agter die skerms gebeur het kan ons net raai - totdat dit dalk uitlek.

Maar ek is bereid om ‘n rand of twee te verwed dat onse Coenie en die topbestuur - in besonder die dagbestuur en dalk die hele direksie - mekaar nie kon vind nie. Ons sal maar vir die huidige moet wag vir ‘n duidelike antwoord op die ou vraag: Het hy gespring of is hy gestamp?

Daar kan goeie redes vir enigeen van die twee wees. Aan die een kant dink ek onse Coenie is ‘n man wat daarvan hou om in beheer te wees, die toon aan te gee, die top man te wees. Maar daar sit mense soos Johan van Schoor (voorsitter) en prof. Hans du Plessis(onder-voorsitter) en enkele ander in die direksie wat self sterk idees het oor die ATKV se taak en toekoms en hulle plek daarin. Dit is vir my baie duidelik uit ‘n hele reeks gebeure van die afgelope paar jare dat hulle nie daarvan hou om voorgeskryf te word nie en nog op die agtergrond geskuif te word deur enige vrypostige twak wat op die toneel verskyn nie.

Ek vermoed - want dit kan niks meer as ‘n vermoede wees in hierdie stadium nie - dat daar erge spanning tussen Coenie en sekere mense ingetree het wat ’n punt bereik het waar dinge óf vir Coenie óf vir ander top mense nie aanvaarbaar was nie.

Met sy aanstelling was daar by sommiges - soos ek - bedenkinge oor wat gaan gebeur, maar uiteraard is hy kans gegee om hom in die nuwe pos in te grawe. Daar was mense wat met belangstelling gekyk het hoe hy op sy eerste kongres gaan vaar, maar by gebrek aan berigte wil dit voorkom of daar nie ernstige probleme was nie. Coenie was een van diegene wat hard probeer het om bewerings dat ATKV-lede maar lekker verkramp was deur nie ’n kleurling as lid van die direksie te kies nie, die nek in te slaan met verduidelikings dat hulle maar net hulle demokratiese regte uitgeoefen het.

Maar kort na die kongres was daar die klaaglike mislukking van die groot konsert wat in Johannesburg se middestad gereël is om anderskleuriges aan Afrikaanse musiek bloot te stel. Daar het glo net ‘n handjievol mense daar opgedaag. Nie eens wittes nie, want watter witte by sy volle verstand sal dit in Newtown waag sonder swaargewapende begeleiding! , Swak oordeel, swak beplanning, powere politiek en uiters gebrekkige insig!

Dit was, sover dit ons buitestaanders betref, Coenie se eerste groot poging om een of ander skouspel aan te bied. Het die feit dat dit misluk het dalk iets te doen met sy skielike vertrek uit die kultuurpos? Net ‘n paar mense weet - en hulle praat nog nie.

Maar die nuus en veral die wyse waarop dit bekend gemaak is, is vir my nogal tiperend van wat die afgelope paar jaar in die ATKV aangaan.

Ek het heel aan die begin na die ATKV verwys as ‘n “monolitiese, geslote” organisasie. En dit is hoe ek dit die afgelope drie jaar ervaar het toe ek my sterk teenkanting met sekere optredes te kenne gegee het - soos die toekenning van ‘n erepenning aan die ANC-terroris Beyers Naude kort voor sy dood. Daar was ook ander gebeure wat ek nog volledig hier uiteen sal sit.

Nie alleen is my briewe aan Die Taalgenoot nie gepubliseer nie, maar ander optredes om die ATKV van sy skewe koers te laat afsien, is soms met siedende woede doodgesmoor en verswyg. Die gewone ATKV-lid het tot hedendag nie gehoor dat die direksie vir Kok en die vorige redakteur van Die Taalgenoot oor die vingers getik het ná die verskyning van ’n foto van ’n bruin model wat ewe wulps op die Sarkofaag in die Voortrekkermonument uitgestrek gelê het nie - om maar net een ding nou te noem waarna ek vollediger sal verwys.

In daardie tyd is feite verswyg en verdraai en soms selfs openlik gelieg. En nou met Coenie se vertrek, kry ek die indruk dat dinge alweer nie lekker is nie. Daar word voorgegee dat hy net “verskuif” is na ‘n “konsultantpos”. Nou kan dit waar wees dat hy vir ‘n ruk nog bietjie gekonsulteer gaan word en dalk het die reklamemaatskappy waar hy nou gaan werk, selfs ‘n kontrak met die ATKV, maar om te maak asof hy nog NOU aan die organisasie verbonde gaan wees, is mos twak en vals.

Ek was juis besig om aan die artikel wat ek nou al ‘n hele klompie weke hier belowe, te werk, toe ek op die ATKV se webblad op die aankondiging afkom. Die artikel het ek weens veranderende omstandighede - waaronder probleme aan my kant met breëband-verbindings vir my rekenaar - al drie of vier keer herskryf en nou moet ek dit weer doen. Maar ek kla nie. Dit word interessant.

In die weergawe waaraan ek toe besig was, wou ek juis voorspel dat ek onse Coenie net ’n jaar of twee se verblyf by die ATKV gee voordat hy “spring” of “uitgeskop” word. Dit was op daardie oomblik dat ek besluit het om op die webblad te gaan kyk wat hy in sy verslag voor die kongres kwytgeraak het en toe op die aankondiging afkom oor sy “verskuiwing”. Daar stuur hulle my ou voorspellingkie sommer gou in sy maai - maar darem in die regte rigting!

Voorlopig genoeg oor die ATKV. Kom ons kyk wat spring agter die bos uit!