10.11.07

ONDERONSIES MET DIE ATKV

My onderonsies met die ATKV het doer in 2004 begin toe ek skerp gereageer het op eretoekenning wat die ATKV aan Beyers Naude gegee het kort voor sy dood. Ek het in ‘n brief aan Die Taalgenoot (TG) lyfblad van die ATKV, daarop gewys dat FA van Jaarsveld in sy geskiedenisboek Van Van Riebeeck tot PW Botha op bladsy 563 skryf dat Naude by die ANC aangesluit het en ook ‘n lid was van MK en dat hy op ‘n konferensie naby Pretoria gevra het dat jong wittes hulle verset teen diensplig. Dit was verraad teen wittes en veral Afrikaners en Naude was in my oë ‘n terroris en nie ‘n christen nie, soos hy graag deur sy vriende beskryf word nie.

Ek het ‘n telefoonoproep van Johan van Schoor gekry wat my genooi het om saam met hom te gaan eet. Ons het openlik en heel gemoedelik met mekaar gesels, maar kon nie saamstem oor Naude nie.

Dit was weliswaar ‘n besondere gebaar van Johan om die kwessie persoonliik oor ‘n broodjie en ‘n bier te bespreek, maar ongelukkig het dit ‘n gevolg gehad wat my kwaai gegrief het: my brief is nooit in TG gepubliseer nie. Die gewone ATKV-lid weet tot hede nie van die baie geldige beswaar wat daar teen die toekenning aan Naude bestaan nie.

Kort daarna verskyn daar ‘n foto in TG van ‘n bekende bruin sepiester wat in verskillende uitrustings by die Voorstrekkermonument afgeneem is. Een van die foto’s het haar getoon waar sy in ‘n taamlike uitlokkende posisie bo-op die Sarkofaag lê - ‘n mens kan maar sê bo-op die simboliese graf van die Voortrekkers.

Ek en andere het in briewe aan TG skerp teen die skending van die Afrikaner se heiligdom te velde getrek en daar het uiteindelik vier briewe langsmekaar in TG verskyn - twee daarvan krities van die foto’s, die ander twee skerp krities van diegene wat dan beswaar het. Diesulkes is sonder meer bestempel as verkramp en agterlik. Een van hierdie briewe is vermoedelik deur ‘n familielid van ‘n bekende ATKV-beampte geskryf - wat deur ‘n ATKV-lid wat hom ken as “daardie bleddie kommunis” bestempel is, maar ek kan nie vir hierdie tipering instaan nie!

Die ATKV het probeer om die foto af te maak as maar net ingenomendheid van die fotograaf met die Monument en sy omgewing. Maar dinge blyk toe baie erger as dit te wees.

Die destydse redakteur van TG, Dawid Brand, het die gebruik gehad om by sy gereelde rubriek aan die begin van die tydskrif ‘n foto van hom by een of ander bekende oor wie daar ‘n artikel uin daardie uitgawe verskyn, te plaas. Hy maak toe die ou foutjie om dit ook met die betrokke kleurlingmeisie te doen. En dit is sewlfs vir ‘n leek duidelik dat hierdie foto tydens die fotosessie by die Monument geneem is. Brand was dus persoonlik daar en ten volle bewus van wat daar gebeur het - en dalk was hy die inspirasie agter die foto op die Sarkofaag.

Ek het weer eens ‘n brief aan TG gestuur waarin ek Brand en Frits Kok aangekla het van doelbewuste optrede en verdoeseling van die waarheid. Daar het niks van gekom nie.

Ek het toe ‘n formele klag teen die twee by die direksie van die ATKV ingedien en is so ‘n maand of wat later meegedeel dat dit oorweeg is en dat die twee here “aangespreek” is.

Maar weer het daar nie ’n woord daarvan in TG of enige ATKV-mededeling verskyn nie. Die gewone lid weet van geen sout of water nie. En selfs ek weet tot hede nie presies wat die aard van daardie “aanspreking” was nie.

Met die kongres van 2005 het ek probeer om hierdie kwessies deur middel van voorstelle vir besprekingspunte ter sprake te bring. Maar my voorstelle is netjies nek omgedraai deur Sakkie Kotze, destyds ‘n lid van die direksie van die ATKV en “voog” van die tak waar ek ingedeel was.

Maar ‘n ou aktivis soos ek laat hom nie deur sulke jakkalsdraaie afsit of mislei nie. Ek het toe ‘n pamflet opgestel en dit persoonlik uitgedeel aan afgevaardigdes by die kongres wat by Buffelspoort gehou is. Ek het ‘n eksemplaar vir Van Schoor laat aanstuur en syne persoonlik vir Frits Kok gegee. Hy het toe al met ‘n hele paar daarvan in sy hand gestaan en wou van my weet wie my die reg gegee het om dit uit te deel. My eie reg, het ek hom meegedeel. Dit blyk toe dat die direksie en amptenare kwaai besig was om die pamflette by kongresgangers af te vat omdat dit dan nie ‘n “amptelike” dokument sou wees nie. Dit het hulle nie baie gehelp nie, want ek het ‘n hele paar telefoonoproepe en ook ‘n brief of twee gekry van lede wat gesê het dat hulle volmondig met my saamstem.

Maar weer eens het die meeste gewone lede van die ATKV nie ‘n woord hiervan geweet nie. Selfs vriende wat saam met my geloop het in die besware teen hierdie optredes, het nie eens gehoor van my pamflet nie want die afgevaardigdes van hulle takke het nie daarvan gehoor nie!

Kort daarna verskyn daar berigte oor ‘n voorlegging wat Kok voor die Menseregte-kommissie gemaak het waarin hy aangevoer het dat slegs Christene lede van die ATKV kan word. Feitlik gelyktydig daarmee verskyn ‘n artikel onder sy naam in TG waarin hy weer dieselfde stelling maak.

Maar in die grondwet (akte van oprigting) van die ATKV staan daar nie ‘n woord hieroor nie. Dit is waar dat daar staan dat die ATKV onbeskaamd die Christelik geloof steun en dit is waar dat daar op die aansoekvorm om lidmaatskap staan dat enige aansoeker die Christelike geloof moet “respekteer”. Maar dit is mos nie dieselfde as om te sê dat hy/sy verklaar dat sy/hy ‘n oortuigde Christen is nie! Enige Boeddhis, Moslem en selfs ateïs kan so ‘n vorm sonder wroeging teken want - anders as baie Christene - het die meeste van hierdie mense “respek” vir ander se geloof.

Weer eens het my brief van beswaar aan TG nie die kolomme van die tydskrif gehaal nie. Die gewone lid weet nie eens dat daar besware teen Kok se sieninge was nie!

Ek gaan toe maar ‘n stappie verder en gaan kla Kok by die MRK aan dat hy vir hulle gelieg het. Maar die MRK omseil die ou probleempie deur aan te voer dat ‘n bevinding wat hulle gemaak het oor die ATKV en Moslems wat lede wou word, nie op hierdie sieninge van Kok gegrond was nie. Dat ek dit nie beweer het nie, pla die MRK min. Maar Kok en kie het seker meer vriende in die MRK as ek! Ondertussen het Van Schoor ook in ‘n onderhoud met Radio Pretoria soortgelyke uitlatings oor die ATKV en Christenskap gemaak wat, om die minste te sê, nou nie juis mooi met die feite gestrook het nie.

Dit was net hier waar ek besluit het dat ek nie kans sien om verder elke maand R40 in die koffers van hierdie spul te stort nie en ek het my lidmaatskap gestaak met ‘n briefie waarin ek duidelik te kenne gegee het dat ek nie bereid is om met mense wat so blatant lieg saam te werk nie.

Vreemd genoeg, kondig Kok betreklik kort na hierdie dinge sy uittrede aan as uitvoerende direkteur. En saam met hom loop Dawid Brand - maar geen aankondiging of hulle self gespring het of gestamp is nie!

Selfs die Broderbond kon in sy dae nie sy sake so dig en geheim hou nie!