10.11.07

RED NOU 'N VOLK MET SO 'N ATKV

Deel 1

Met die groot oorgawe van 1994 het ‘n hele paar eertydse Afrikaner-organisasies die kluts skoon kwytgeraak in hul ywer om in die nuwe bedeling in te pas en deel te neem. Hulle het - in ‘n sekere opsig heel verstaanbaar - die destydse propaganda van versoening, samewerking en die bou van ‘n reënboognasie nie alleen geglo nie, maar dit omhels.

Dit was eintlik net ‘n handjievol van hulle: die ATKV, die Afrikaner(broeder)bond, Afrikaanse Handelsinstituut, AgriSA, die ou Voortrekkers en ‘n beduidende klomp mense in die leierskappe van die Afrikaanse kerke..

Daar was mense wat geglo het dat die FAK toenteryd ook onder daardie organisasies getel kon word. Dit was egter juis die FAK wat eerste begin het om nuwe bloed in te voer wat die organisasie weer nader aan sy Afrikanerbasis gebring het sonder om heel regs oor die afgrond te tuimel. Ander, soos die Afrikanerbond, begin deesdae weer geluide maak wat ’n mens laat hoop dat hulle stadig maar seker besig is om terug te keer na hulle wortels en hul volk. Maar dit lyk nie of die ander enigiets geleer het nie.

Ek het reeds hieronder bepleit dat die AHI sy naam verander want dit is lank nie meer ‘n “Afrikaner” instansie nie en die leier van die Voortrekkers is besig om op ‘n harde manier te leer wat die evangelie van versoening in die kerk beteken.

Die een organisasie van hierdie klomp wat die spoor totaal byster geraak het en net verder en verder wegbeweeg van sy basis en sy ankers in die Afrikanervolk, is die ATKV. Wat veral so tragies is, is dat die mense in beheer van hierdie organisasie net nie wil hoor en verstaan dat hulle besig is om voeling met die Afrikaner te verloor nie. Nee, hulle neuk voort asof hulle en net hulle weet wat reg is.

Hulle probleem is natuurlik dat hulle nie kan of wil insien dat die politieke omgewing drasties verander het sedert Mbeki en die militantes in die ANC die bewind oorgeneem het nie en dat die ANC net mooi vere voel vir versoening en samewerking met veral die Afrikaner. Hulle gebruik net sekere Afrikaners as bruikbare gekke (“useful idiots“).

Sou enigeen vir Johan van Schoor, voorsitter van die direksie van die ATKV, wys op kritiek wat ek hier op die ATKV uitspreek, sal hy seker onmiddellik antwoord dat ek nou al meer as drie jaar lank ‘n vete teen die organisasie voer, dat ek ‘n jaar of wat gelede as lid van die ATKV bedank het en dus nie meer enige inspraak in sy doen en late het of kan hê nie en dat my sieninge en voorstelle vir aanpassing in die ATKV summier deur hulle verwerp is.

En hy is nie heeltemal verkeerd nie, behalwe vir so ou puntjie of twee.

Dit is waar dat ek sedert 2004 in ‘n hele paar skermutselings met die ATKV en van sy top manne soos Frits Kok betrokke was. Maar dit is ook waar dat die gewone ATKV-lid en andere nie die vaagste benul of kennis hiervan of van die baie geldige besware wat ek teen die ATKV se sieninge en optredes ingebring het, het nie. Dit is nie net deur die ATKV en sy topmanne verbloem en vir gewone lede weggesteek nie - ons sogenaamde vrye en onverskrokke Afrikaanse media het nie ‘n woord daarvan gerep nie, behalwe vir ‘n niksseggende beriggie of twee. Die enigste wat wel hieroor berig het, was natuurlk Radio Pretoria.

Dit is ‘n lang maar interessante verloop van gebeure en ter wille van die rekord en van onderskraging van standpunte wat ek hier stel, sit ek dit taamlik volledig uiteen in ‘n aparte inset. (Sien Onderonsies met die ATKV hieronder).

Dit is my onwrikbare siening dat die ATKV-direksie en sy top amptenare die organisasie:

@ Sedert 1994 op die verkeerde baan geplaas het en hardkoppig weier om van daardie standpunte af te sien;

@ Die direksie en bestuur ‘n onbehoorlike en uiters ondemokratiese houvas op die organisasie het en eenvoudig nie toelaat dat enigeen met ander sieninge in top poste aangestel of selfs verkies word nie;

@ Dat besluite en aksies van die direksie en bestuur dikwels baie dig gehou word vir die gewone lid en die algemene publiek.

@ Dat daar halsstarrig, selfs verkramp en bekrompe, vasgeklou word aan ‘n reeds uitgediende siening van versoening, samewerking en eensgesindheid met die heersende ANC-regime en dat niks wat daardie regime doen, die ATKV-heersers van mening kan laat verander nie;

@ Dat daar ‘n yslike gaping in oortuiging en doelwitte tussen die meeste lede aan die een kant en die topbestuur aan die ander kant, bestaan, maar dat dit op valse en bedrieglike wyse toegesmeer en verswyg word want die top mense weet dat hulle vinnig sal waai as die waarheid moet uitlek. Ja, ek beskuldig die ATKV se direksie en sy topbestuur van doelbewuste leuens en bedrog, van misleiding en verwarring wat geskep word deur die gebruik van mooiklinkende frases en van verswyging van doelwitte en beleid wat hulle baie goed weet hulle nie met die meerderheid van hulle lede deel nie.

@ Dat daar snaakse dinge aan die gang is met die lidmaatskap van ‘n handjievol Kleurlinge en ‘n enkele tak wat uit Swartes bestaan.

@ Dat al hierdie dinge in die finale instansie gaan oor geld - oor die miljoene wat die ATKV beheer met sy oorde en sy groot inkomste aan ledegeld. Wat vir my kommerwekkend is oor hierdie aspek is dat dit Afrikanergeld is waarmee hier geploeg en gewoeker word - dikwels tot ondermyning van die Afrikanervolk.